Ja, jy kan … ’n betekenis– volle lewe hê

54

Om ’n betekenisvolle lewe te hê, begin met ’n doelbewuste keuse. Hierdie wilsbesluit moet dan oorgaan in aksie om daardie visie te verwesenlik, sê internasionale spreker, skrywer en entrepreneur, MARELI SCOTT

Vrye wil gee ons die vermoë om die wêreld om ons te verander. Hierin lê mag opgesluit, iets wat ons nie ligtelik kan opneem nie: Die mag om vir onsself te kan dink, self te kies, en dinge te skep. Die mag om nie slawe van ons omgewing te wees nie.

Droom jy van ’n vervulde lewe of het jy ’n helder visie? Drome word nie waar nie, maar ’n visie wel. ’n Visie is ’n droom wat begin met ’n wilsbesluit en dan oorgaan in aksie om dit te verwesenlik. Net so kan jy jou visie van ’n vervulde lewe skep en uitleef.

Waar jy jou ook al vandag op jou lewenspad bevind, is die somtotaal van al die besluite wat jy deur die loop van jou lewe tot op hede geneem het.

Maar voordat jy die spyt laat inkruip, moet jy besef dat jou verlede, mislukkings, huidige omstandighede en die opinies of optrede van ander nie jou toekoms hoef te beheer nie.

Besluit vandag om jou van al hierdie dinge af te sny. Jou toekoms en potensiaal om ’n vervulde lewe te lei, sal bepaal word deur jou keuses vanaf hierdie oomblik vorentoe.

Moet dus nooit jou mag om ’n besluit te neem of die krag wat daarin opgesluit is, onderskat nie. Elke situasie vereis van jou om reaktief of proaktief op te tree.

Wanneer jy reaktief optree, gee jy die stuurwiel van jou lewe aan ander mense of situasies oor. Deur te kies om proaktief te leef, neem jy beheer en verantwoordelikheid vir jou eie lewe. Hierdeur oefen jy die keuse uit om jou lewe in die rigting van jou visie te kan stuur.

Jy gaan moeg word en die strome van die lewe gaan dreig om jou mee te sleur.

Solank jy jou oë op jou doelwit hou en sorg dat jy elke dag in daardie rigting vorder, sal jy al hoe sterker word.

Ons almal weet hoe moeilik dit is om ’n dieet of oefenprogram voluit te volg sonder iemand wat dit saam met ons doen. Dit is ook baie moeiliker om te volhard in die strewe na en uitleef van jou visie van ’n vervulde lewe sonder ondersteuning op jou pad.

Let daarom op na die persone met wie jy jouself omring. Is hulle positief? Dra hulle jou beste belange op die hart? Is hulle vooruitstrewend? Help hulle jou op as jy struikel?

As jy “nee” op een of meer van hierdie vrae geantwoord het, sal jy moet heroorweeg wie jy in jou kring toelaat.

Jou geluk word deur jou omgewing beïnvloed. Omring jou met positiwiteit. Stel doelwitte, hetsy in jou persoonlike of professionele lewe, en visualiseer jou sukses.

Dit neem tyd en ’n doelbewuste poging.

Deur op die positiewe te konsentreer, sal jou nie net help om ’n groter gevoel van vervulling te ervaar nie, maar kan ook die areas in jou lewe identifiseer waar verandering nodig is.

’n Vervulde lewe het nie net een bestemming nie. Dit is ’n reis wat bestaan uit duisende bestemmings en die vervulling van die beloftes wat jy elke dag aan jouself maak en nakom. Dit lê in die daaglikse besluite wat jy neem en die idees wat jy in positiewe gewoontes omskakel.

Hoe sterker hierdie gewoontes word, hoe makliker sal dit wees om vrede te begin beleef. Maak hierdie reis ’n daaglikse avontuur en merk soveel items moontlik langs die pad af. Vier elke oorwinning, klein of groot.

’n Vervulde lewe hoef nie ééndag te begin nie. Begin vandag.

Vorige artikelMarciel Hopkins: “Om jouself te vertrou, ongeag…”
Volgende artikelLeer op die regte manier baklei