Ja, jy kan … WÉÉT WAT JY WIL HÊ

38

Het jy ooit iemand hoor sê, “Ek wens …”? Dit is binne elke persoon se vermoë om enigiets te doen. Die vraag is net, hoe graag wil hulle dit regtig hê, sê ELSA GROENEWALD.

So dikwels gesels jy met ’n vriendin oor ’n koppie koffie en vertel dan met soveel oortuiging dat jy graag die een of ander land wil besoek of ’n musiekinstrument sal wil leer speel.

Jy wil dalk in daardie mooi huis bo-op die berg bly. Jy begeer soveel ander dinge wat advertensies in die media so aanloklik laat lyk.

Soms kan party van ons selfs die jaagduiwel in ons hê en wens dat ons daardie spierwit Porsche kan bekostig – of ten minste dan die man kan kry wat dit kan bekostig.

Vandat jy ’n 12-jarige tiener was, droom jy oor ’n dubbelverdiepinghuis, lang, duur vakansies en natuurlik die ideale beroep.

Wat is dan lekkerder as om daardie blinknuwe motor se strik af te haal en by die vertoonlokaal van die gesogte Duitse motorvervaardiger uit te ry?

Groot is jou verbasing wanneer realiteit inskop en jy besef dat die aardse skatte tog maar net vir ’n paar dae “nuut” is.

Daardie gevoel van oorwinning en geluk kwyn maar gou wanneer ek klaar my besitting waarvoor ek so lank gespaar het vir almal gewys het.

Soos wat die jare aanstap, het elke mens verskillende idees van wat ware geluk beteken en wat ware geluk bring.

Dit wat vir jou die nodige gevoel van voldoening en tevredenheid bied soos familie, ’n gelukkige huwelik of ’n kind, of ’n goeie beroep maak al meer en meer saak.

Jy moet dan ook besef dat verskillende fases van jou lewe verskillende behoeftes bring. Jou waardes pas aan namate jy ouer word en omstandighede verander.

Ek het geleer dat as ek weet WAT ek wil hê, moet ek weet WIE ek moet wees om dit te kry, maar ek moet ook weet wat ek moet DOEN om dit te kry.

Wat wil ek hê? Kom ons maak jou lysie van dit wat jy in die volgende drie jaar sal wil hê.

Besluit dat jy ’n towerstaffie in jou hand hou en dat jy alles kan kry waarvoor jy wens.

Met ander woorde moenie terughou nie, besluit wat dit is wat jy nog altyd graag sou wou hê … Wie moet ek wees? Dan kyk ons na WIE ek moet wees sodat ek kan kry wat ek wil.

Hoe moet ek myself verander of bevorder om die dinge te kry wat ek hierbo beskryf het?

Moet ek my sienswyse oor sekere dinge verander, moet ek sekere dinge laat gaan of nuwes aanleer, moet ek aan my verhoudings werk?

Kyk na jouself in die spieël en besluit wie jy moet wees sodat jy kan kry wat jy wil hê. Wat moet ek doen? Byvoorbeeld: as ek ’n graad in sielkunde wil hê, moet ek myself oortuig dat ek wel hardwerkend is en nie omgee om lang ure klas te loop en voor te berei vir eksamens nie.

Die aksies om te neem, is om te begin spaar om die kursus te kan betaal en dan te registreer. As jy die regte droom vind, is dit belangrik dat jy die nodige aksies neem om daardie droom te kan bereik!

Vorige artikelMoenie oordeel nie, probeer verstaan
Volgende artikelHoekom dwaal sy of jou oë?