’n Sterk selfbeeld neem tyd

1170
sterk selfbeeld neem tyd

As jy minderwaardig en magteloos voel, is dit waarskynlik omdat jy glo dat jy is. ’n Mens kan jou selfbeeld verbeter deur jou selfpraat meer positief te maak en in jouself te glo.

Soos jy jouself sien, so sal jy wees. So sal jy jouself behandel, en ook toelaat dat die wêreld jou behandel. Dis waar geestelike taaiheid begin.

’n Valse selfvertroue wat op vleiery of arrogansie gebou is, is natuurlik nie ’n soliede fondasie nie. Dis soos ’n opgepompte liggaamsbouer wat in die spieël kyk en sy bonkige spiere sien, maar steeds onseker is of hy “groot en sterk” is.

Wie hy is, is eintlik ’n leuen. Dit is slegs die fisieke resultaat van ’n klomp steroïede wat hy in sy liggaam ingepomp het. In sy hart is hy nog steeds ’n onseker en swak mens.

Jy kan nooit wegkom van wie jy werklik is nie. Jy kan ander dalk flous met groot “spiere”, maar uiteindelik gaan dit nie oor wat ander van jou dink nie. Dit gaan oor wat jy oor jouself glo. Jy mag dalk die wêreld flous, maar jou eie hart nooit nie.

Jy mag dalk dink niemand anders weet nie, maar jý weet!

Onsekerheid veroorsaak dat jy jouself altyd moet bewys en nooit kan ontspan en net jouself wees nie. Ware selfvertroue, aan die ander kant, hoef nooit bewys te word nie – dit is ’n eienskap wat iemand met grasie en opregtheid dra.

’n Sterk selfbeeld word gebou op die fondasie van nederigheid en dankbaarheid, harde werk, respek en die verstaan dat groei ’n proses is.

’n Goeie selfbeeld is nie moontlik as jy arrogant is, nie respek het nie en vol bravade is nie. Ook nie as jy sukses behaal het deur “geluk” soos die Lotto of deur kortpaadjies soos om ander te manipuleer nie. Dit hoef nooit bewys te word nie, dit is ’n aura wat ’n mens dra.

Selfvertroue ontstaan uit jou bewustheid van wie jy is, ’n kennis van waar jy vandaan kom en ’n sekerheid van waarheen jy op pad is. Dit het min uit te waai met jou laaste prestasie, want oorwinning is slegs vir ’n oomblik – dan is ons weer almal gelyk.

’n Boelie mag homself flous deur te dink hy het baie mag omdat ander vir hom bang is. In sy hart is hy egter onseker, want hy weet hy is ’n klug.

Wat jy oor jouself glo, word gevorm deur dit wat jy hoor van die oomblik dat jy gebore word. En selfs deur dit wat jy voor geboorte gehoor het!

Wat mense van jou sê en die manier waarop jou ouers oor jou gepraat het, het ’n sekere spasie gevorm waarbinne jy inpas.

As ons nog jonk is, is hierdie spasie redelik rekbaar en veranderbaar. Namate ons ouer word, word dit egter minder elasties. Dit is geneig om meer rigied en solied te word.

Die uitdaging is om rekbaar en veranderbaar te bly, dwarsdeur die lewe. Ware kampioene is nooit in ’n vorm gegiet nie – behalwe vir waardes en norme, wat nie onderhandelbaar is nie.

Gaan leer dus by die kampioene. Die karaktereienskappe wat hulle besit, is waarna jy moet streef en moet probeer deel van jou eie mondering maak.

Hierdie eienskappe is dinge soos dissipline, waagmoed, humor, respek, geloof, integriteit en nederigheid.

Dit is natuurlik alles eienskappe wat aangeleer kan word. Dit maak nie saak waar iemand vandaan kom nie. Dit maak nie saak wie jy vandag is nie. As jy regtig wil, kan al hierdie eienskappe bemeester word … en nog meer!

Niemand is te oud om te verander nie. Kan ’n permanente beeld van jouself verander word? Ja, natuurlik kan dit, maar dit vat nogal werk. Die ou beeld moet op sekere plekke eers gebreek word om ’n nuwe een te bou.

Is jy tevrede met jouself of is daar sekere dinge wat jy graag sal wil verander? Miskien dink jy dat ander mense eerder moet verander sodat jý suksesvol kan wees. Word wakker! Niks sal verander voordat jy self nie verander nie.

’n Mens moet natuurlik seker wees van waarheen jy op pad is. Om ’n duidelike prentjie van jou beplande lewensdroom te hê, is belangrik.

Hoe moet jou karakter in die toekoms lyk? Sodra jy seker is hiervan, is die volgende stap om hierdie beeld te begin “bou”. Hierdie “bouproses” word in die eerste plek deur woorde gedoen.

Moenie negatief wees nie, wees positief. Onthou die gevolg: Ons word soos ’n magneet vir die een wat ons kies.

Moet jouself nooit verneder of minag nie, selfs al word dit in ’n flou grappie oor jouself verbloem. Jou ore hoor elke woord wat gesê word en jou liggaam sal voortgaan om daardie woorde as waar te bewys.

Aan die ander kant moet ’n mens nooit die fout maak om te dink jy moet wintie en grootmond wees en jou eie beuel blaas nie. Wanneer jy lus voel om groot te praat, maak eerder die mense om jou groot!

Onthou, alles neem tyd, die lewe is ’n proses. Jy moet verstaan dat niemand ooit sukses heeltemal op hulle eie sal kan behaal nie – ons het almal hulp nodig.

Die grootste kampioene in die lewe het ook die beste span ondersteuners saam met hulle. Dit sal natuurlik nie werk om die beginsel van woorde te manipuleer om ’n goeie uitslag te bewerkstellig nie. Jy kan nie iets kry deur net positief daaroor te praat nie!

Dis nie moontlik om sekere beginsels van die lewe te gebruik om ander beginsels soos harde werk en dissipline te vermy nie. Daar is ongelukkig nie kortpaaie nie. ’n Goeie uitslag sal uiteindelik volg op harde werk, dissipline en goeie besluite – daarvan kan jy seker wees.

Fokus al jou energie op jou pogings en probeerslae. Maak seker dat jou karakter sterk en stewig staan. Daarna sal die “lekker” resultate wat ons “wen” noem, volg.

Ons groei almal in volwassenheid en in wysheid. Dit gaan nie net oor wat met jou gebeur nie – dit gaan oor wat in jou gebeur, dus wie jy in die proses word.

Maak die volgende jou persoonlike filosofie: Ek wen altyd. Af en toe klop iemand my dalk, maar ek bly ’n wenner. Al wen ek nie die wedstryd nie, wen ek aan ervaring.

As jy daarin slaag om my vandag te oorwin, onthou, ek is môre terug met meer ervaring en groter wysheid. En ek sal jou opdraande gee, want ek is ’n ware kampioen.

Maak dit van vandag af jóú filosofie om nooit moed op te gee nie!

Vorige artikel[MENTORKLAS VIDEO] Loof Hom in krisistye [Reeks 1 Nommer 8]
Volgende artikelKan grimering langer hou?