Raak kreatief en skeppend!

240

Jy was bang om uit te staan en dit het gevolglik jou oorspronklikheid versmoor. Die goeie nuus is as jy op ’n tyd kreatief was, kan jy dit terugkry, sê KOBUS NEETHLING.

Ons leef in ’n wêreld waar nuwe dinge elke paar sekondes geskep word. Hoe kan ons dan aanhou werk en leef soos 20 jaar gelede?

Kreatiwiteit is nie die vermoë om mooi te teken of skilder nie. Dis ook nie die vermoë om klere te ontwerp of binnenshuise versiering te doen nie. Of om ’n musiekinstrument te bespeel nie. Kreatiwiteit is ’n proses, ’n manier om nuwe metodes te vind om iets te doen, ’n vars aanslag tot die lewe. Dit is ’n houding waar jy eerder oplossings as probleme sien. Dit gaan oor nuwe idees uitdink en om dit te laat werk.

Dit is vars oë, ’n ek-kan-dit-doen-houding en die moed om vol te hou tot die einde. Jy moet sê: “Hoekom nie?” of “Kom ons probeer!” in plaas van: “Hoekom?” of “Dit sal nooit werk nie!” Jy moet ’n passie hê om aan ’n idee te werk tot dit wérk.

Het jy al van die “Torrance kids” gehoor? Dis ’n groep van 400 kinders wat ’n reeks kreatiewe take moes voltooi wat deur professor E.P. Torrance ontwikkel is. Die hoofdoel was om soveel moontlik antwoorde op elke vraag te kry.

Die kinders wat die meeste idees gehad het met die toetse, was ook uiters suksesvol as grootmense. Hulle is die outjies wat entrepreneurs, uitvinders, skrywers, dokters, diplomate en so meer geword het.

Daar is ook die storie van Spencer Silver, ’n chemikus by 3M, die maatskappy wat bekend is vir kleefmiddels.

Spencer het probeer om ’n baie sterk gom vir hulle kleeflint te ontwikkel. Maar die gom is toe al die tyd nog swakker as wat dit oorspronklik was. In plaas daarvan om stewig vas te sit, het dit maklik van enigiets afgetrek. Dit het gelyk asof die gom vir niks goed was nie.

’n Ander werknemer, Arthur Fry, was lid van die plaaslike kerkkoor. Hy was baie gefrustreerd met die boekmerke wat altyd uit sy gesangeboek geval het. Hy besluit toe om die gom te probeer en verf dit agterop ’n paar boekmerke.

Dit het wonderlik gewerk. Elke week kon hy die boekmerke verwyder en op ’n ander plek inplak sonder om die bladsye van die gesangeboek te beskadig. En dis hoe Post-it-notas gebore is!

Hierdie stories wys vir ons dat elke mens met ’n goeie dosis kreatiwiteit gebore word. Volgens navorsing wat oor 30 jaar gedoen is, het 98% van kleuterskoolkinders wat gemeet is, bogemiddelde kreatiewe vermoëns gehad.

Teen die tyd dat hulle tien jaar oud was, het dit gedaal tot 32%. Op die ouderdom van 15 het die persentasie tot 10% afgeneem. Teen die tyd dat hulle volwassenes was, was die persentasie ’n skamele 2%.

As ons almal as kinders kreatief was, wat het van dié vermoë geword? Jy het aangepas by die norm, jy het gekonformeer. Jy is geleer om dinge te doen soos ander mense dit doen en was te bang om alleen te staan.

Die meeste van ons kom uit ’n stelsel waar kreatiwiteit geïgnoreer of sommer heeltemal ontmoedig is. Kinders mag nie hulle eie opinie gegee het nie, maar moes aanvaar wat die onderwyser of ouer sê.

Die antwoord is eenvoudig. Ons kan almal kreatief wees met die regte aanmoediging, motivering, uithouvermoë en sensitiwiteit.

Vorige artikelReynardt Hugo: “Ek het by ’n plek van vergifnis gekom” [DEEL 1]
Volgende artikel[PODSENDING] Vervang jou vertroue eerder met aanvaarding [Reeks 1 Nommer 8]