Ryk word begin in jou kop!

34

Almal smag na finansiële welvaart, maar weet nie presies hoe om dit te kry nie. Jy moet anders begin dink oor geld. Programmeer jou brein vir ryk word en dit kan gebeur, sê WOUTER SNYMAN.

Baie mense het ’n negatiewe siening oor hulle geldsake. Daar kan natuurlik baie redes hiervoor wees. Die waarheid is, ons beperk onsself deur negatief te dink. Jy sal nooit bo hierdie beeld in jou gedagtes kan uitstyg nie.

’n Mens se verbeelding is eintlik maar soos ’n skoon skilderdoek. Jy sien iets in jou gedagtes en begin dit dan “skilder”.

Moenie dink: Ek kan nie. Dink eerder: Hoe kan ek?

Elke mens het beslis die geleentheid, en ook die verantwoordelikheid, om ’n nuwe visie vir haar lewe te skep, veral wat finansies betref. Die prentjie wat jy self in jou kop geteken het, moet eers verander, dan sal jou finansies stukke beter begin lyk.

Kry eerstens iets waarvoor jy kan werk, met ander woorde, ’n “hoekom”. Sê byvoorbeeld vir jouself jy moet genoeg geld belê sodat jou passiewe inkomste vir die loopkoste van ’n Lamborghini kan betaal.

Dalk wil jy eerder soveel moontlik oorsee reis voor jy te oud is om dit te geniet. Vind dan uit hoeveel geld nodig sal wees om daarvoor te betaal, en daar is die hoekom!

Die meeste mense doen alles uit gewoonte, doodeenvoudig omdat dit is hoe die brein werk. Enige nuwe ding wat jy aanleer, doen jy aanvanklik oor en oor tot dit later vanself kom.

As jy dink dit is nie so nie, probeer ’n bietjie jou hare in ’n ander styl stileer of probeer jou tande met jou linkerhand borsel.

Donald Trump, die Amerikaanse president en miljardêr, is al drie keer bankrot verklaar, en tog het hy elke keer weer skatryk geword.

Een ding wat alle ryk mense gemeen het, is optimisme. Hulle weet as hulle alles vandag verloor, sal hulle dit weer binne ’n paar jaar terugkry.

Goed, ons weet nou daar is twee ingesteldhede: arm en ryk. Party mense is óf die een óf die ander.

Jy het nou gehoor jy moet anders begin dink oor geld. Maar jy moet natuurlik eers weet presies wát jy glo.

Om uit te vind wat hierdie houding teenoor geld is, probeer onthou hoe jou ouers oor hulle finansies gevoel het. ’n Sekere houding word dus van geslag tot geslag oorgedra.

So, “arm” of “ryk” is dus ’n gesindheid.

Baie mense glo dat die rykes geldgierig is, maar ek is seker jy ken arm mense ook wat suinig en gierig is. Net soos daar ryk én arm mense is wat vrygewig is.

Die begin van jou pad na rykdom is om op te hou fokus op ’n gebrek aan finansies. Al kan jy iets dalk nie op die oomblik bekostig nie, moet dit nie sê nie.

Begin eerder deur vrae te vra, soos: “Hoe kan ek dit bekostig?” of “Wat moet ek doen om dit te bereik?” Met sulke soort vrae is dit makliker om oplossings te kry.

As jy volgende keer iemand hoor sê: “Ek kan dit nie bekostig nie,” weet dan dat wat die persoon eintlik sê, is: “Ek wil nie werk aan ’n oplossing vir die probleem nie.”

Die kruks is, ware rykdom is nie daardie blink juwele, dubbelverdiepinghuis of spogmotor nie. Dit is veel eerder ’n ingesteldheid van oorvloed. Dit is die behoefte en die vermoë om dit wat ’n mens gekry het, meer te maak.

Dis nie genoeg om net ’n bestaan te maak nie – wat jy met die geld doen wat jy verdien, is wat tel. Ware rykdom is dus ’n manier van lewe.

Dit klink vreemd, maar ’n eenvoudige lewe is eintlik ’n lewe van oorvloed. Dit is ’n ingesteldheid en ’n leefstyl. Dit beteken om dankbaar te wees vir alles wat jy het en te besef dat jy eintlik niks kortkom nie