Swaarkry kán jou sterker maak

110

Die lewe gebeur en swaarkry is deel daarvan. Maar jy hoef nooit te wonder waar God is en hoekom iets met jóú gebeur nie. Omstandighede is nou presies soos dit moet wees, sê MICKEY ROOTHMAN.

Die lewe is nie net ’n gladde afdraande nie en niemand se pad is net met rose besaai nie. Elke mens se lewenspaadjie maak soms vreemde draaie. Daar kom struikelblokke en hindernisse wat ons heeltemal kan verstom en totaal hulpeloos en verlam kan laat voel.

Dis doodnatuurlik en menslik om dan te vra: “Waarom ek? Waarom gebeur hierdie slegte ding met my?”

Maar miskien is dit beter om te vra: “Waarom nié ek nie, en waarom nie presies hierdie omstandighede nóú nie?”

Daar is ’n ou stukkie wysheid wat ons almal al gehoor het. Dit sê dat om ’n gelukkige lewe te lei, ’n keuse is.

Maar dan is die eerste ding wat ’n mens vra: “Hoe kry ek dit reg?” Hoe kyk ek anders na ’n gebeurtenis wat vir my baie werklik is?

Hoe kyk ek anders na ’n situasie wat voel asof my hart en my lewe in stukke geskeur word? Hoe kies ek om dit uit ’n positiewe oogpunt te sien en vrede en vreugde in plaas van hartseer en pyn te hê?

Die sleutel om jou breekpunt in ’n draaipunt te verander, lê daarin om te onthou wie jy is en Wie s’n jy is.

Hierdie waarheid lê baie diep in ons onderbewussyn as gevolg van hoe ons dinge met ons menslike oë sien. Dit lê begrawe as gevolg van hoe ons dinge met ons menslike liggaam ervaar.

Dit is soms moeilik om te aanvaar dat ons nie hoef te verstaan en te weet hoekom of hoe nie. Dis ’n uitdaging om net te glo en te vertrou op die regte uitkoms.

Ons sien net die hier en nou uit ’n menslike oogpunt. Vrees.

Jy kan dit bogenoemde waarheid gaan uithaal en na jou “bewuste bewustheid” bring. Jy is nie alleen nie en Iemand sorg vir jou.

God kyk uit ’n ander hoek daarna. Hy sien hoe elke gebeurtenis en elke situasie die persone betrokke daarby gaan help om te groei, te leer en genees te word.

Elke oomblik in die lewe is ’n geleentheid vir almal in ’n sekere situasie om te leer, te groei en heel te word. Ons moet net doelbewus kies om dit raak te sien.

Jou eerste reaksie is gewoonlik nie om te stop en dit wat jy outomaties dink en voel te bevraagteken nie. Maar dis juis daarin waar die antwoorde en geleenthede lê wat jou seer punte en breekpunte jou draaipunte sal maak.

Al wat jy hoef te doen, is om te kies en bereid te wees om dit uit ’n ander hoek te bekyk. Dis tydens so ’n verandering in jou perspektief en persepsie wanneer transformasie en wonderwerke kan plaasvind.

Dalk is jy nou op ’n plek waar jy vra: “Waarom ek?” Of: “Waarom dit?” Doen dan die volgende.

Raak stil en sê: “Vader, ek verstaan nie wat hier aangaan nie. Dit is vir my moeilik en glad nie lekker nie. Ek weet U is in beheer en dat waar ek tans is en hoe dinge nou is, presies is hoe dit moet wees. Wys my asseblief wat ek hieruit kan leer, hoe ek hierdeur kan groei en wat U hierdeur wil kom genees.”

Kyk terug na die dag se gebeure en skryf in jou joernaal wat jy dink jy daaruit kan leer. Fokus op hoe elke situasie jou help om te groei, te leer en te genees.