HOE OM … anders te dink oor geld en rykdom

201

Het jy al ooit gewonder waarom party mense oënskynlik maklik ryk word en finansiële vryheid geniet? Ander sukkel hulle lewe lank om genoeg geld
te hê om finansieel te oorleef. Die geheim is, jy moet anders begin dink oor geld. Jy kan jouself ryk dink!

Dié wat finansieel onafhanklik is, het nie noodwendig ’n hoër IK as die res van ons nie. Hulle is ook nie met die spreekwoordelike silwerlepel in die mond gebore nie. Hulle is bloot ernstig oor hulle geldsake en finansiële onafhanklikheid.

Ongelukkig spandeer die meeste mense meer tyd daaraan om hulle jaarlikse vakansie te beplan as om aan hulle geldelike welvaart te dink óf hulle vir aftrede voor te berei.

Finansiële beplanning is niks anders as om korttermyn- en langtermyndoelwitte vir jou geldsake op te stel en uit te voer nie. Dit klink maklik, nie waar nie? Maar dis nie so eenvoudig nie!

Ons het so gewoond geraak daaraan om van dag tot dag te leef dat ons van die toekoms vergeet. Maar ons daaglikse keuses, as dit by ons beursies kom, kan ons toekoms maak of breek.

Om jou geld te bestuur in plaas daarvan dat dit jou bestuur, moet jy leer wat die armes van die rykes onderskei.

Miskien het jy daarvan gedroom om ryk te wees, maar niks daaraan gedoen nie. Die tyd het aangestap en jou droom bly buite jou bereik.

Onthou, elke stap wat jy neem, bring jou ’n treetjie nader aan jou sukses as ’n finansieel onafhanklike persoon. Finansiële onafhanklikheid beteken jy is nie afhanklik van jou werk, die ekonomie, jou familie of ’n toelaag van die staat nie.

Jy wil tog graag self besluit waar jy woon, wat jy met jou tyd doen en watter soort leefstyl jy wil hê. Dan moet jy genoeg geld hê om hierdie keuses te kan maak en steeds gemaklik te kan leef.

As jou huis ’n miljoen rand werd is, is jy ’n miljoenêr, maar het dalk steeds nie genoeg leefgeld nie.

Daar is geen rede waarom jy nie ook ’n miljoenêr kan wees nie, selfs al begin jy met niks of is jy kniediep in die skuld.

Met behulp van navorsing en moderne tegnologie het dr. Kobus Neethling assesseringsinstrumente ontwerp wat ’n profiel van breinvoorkeure verskaf.

Hierdie breinprofiele verklap hoekom mense verskil in die manier waarop hulle studeer, kinders dissiplineer en in verhoudings kommunikeer.

“Dit verklap ook hoe ons geld hanteer”, sê Kobus, ook een van die samestellers van die program, RICH BRAIN, POOR BRAIN.

Daar is nie ’n ideale profiel nie. Die ideale manier van dink is egter heelbreindenke.

Dit beteken jy ontwikkel die vaardighede om in al vier kwadrante van die brein te funksioneer om ’n beter ouer, bestuurder, onderwyser, huweliksmaat en … geldbestuurder te wees!

Om meer geld te bekom, moet jy verander hoe jy oor geld dink. Die maklikste manier om uit te vind wat jou siening is, is om te besin hoe jou ouers oor geld gedink het. ’n Ingesteldheid van gebrek of oorvloed word van geslag tot geslag oorgedra.

Dit maak nie saak hoeveel in jou bankrekening is nie; wat saak maak is hoe jy oor daardie geld dink.

Waarom het jy nog nie wat jy begeer nie?

“Dit is krities belangrik om uit te vind wat verhoed dat jy kry wat jy graag wil hê. Sodra jy dit weet, kan jy die belangrike veranderinge maak om te leef soos wat jy sê jy graag wil leef,” sê Dr. Raché Rutherford.

Hoe gaan jy dit regkry? Wat is jou strategie? Watter metodes gaan jy gebruik? Jy het ’n nuwe manier nodig om jou te bring van waar jy nou is tot waar jy wil wees.

Ons gewoontes is vasgelê en sonder ’n nuwe plan, sal jy aanhou om te doen wat jy nog altyd gedoen het. Wat natuurlik sal beteken dat jy die resultate sal kry wat jy nog altyd gekry het!

Sonder ’n plan is daar nie sukses nie.

Die goeie nuus is dat jou strategie nie perfek hoef te wees nie. Dis slegs die beginpunt van ’n nuwe rigting wat jy inslaan.

Begin verstaan hoekom jy geld op ’n sekere manier hanteer. En hoekom jy in die verlede gesukkel het om jou geld te bestuur.

Elke mens se definisie van finansiële vryheid is anders, maar die groter doel moet wees om finansiële sekuriteit te verkry.

Elke mens wil meer geld hê, dit geniet en ’n geesvervulde lewe van oorvloed ervaar. Die regte gereedskap is nodig vir ’n ingesteldheid van welvaart.

Jy het ’n plan nodig om jou strategie uit te voer. “Mense met doelwitte is suksesvol, want hulle het ’n plan, dis so eenvoudig soos dit,” sê finansiële kenner Wouter Snyman.

Vind uit wat die beginpunt (persoonlike begroting) en die einddoel (doelwitte, aftreeplan, of datum van geldelike onafhanklikheid) is. Laastens, besluit hoe jy die reis gaan aanpak (jou bestuur van skuld en welvaartplan).

Dit is nooit te laat om hierdie reis te begin nie; maar vandag is steeds beter as môre!

Vorige artikelJou emosies verklap wat in jou hart aangaan
Volgende artikelHoe om … minder besig te wees