HOE OM … emosionele bagasie agter te laat

278

Jou emosionele bagasie bepaal jou lewensvreugde. Dit verhinder dat jy op die hede fokus en weerhou jou van ’n lewe van oorvloed. Raak ontslae van hierdie laste en gaan die toekoms ligter tegemoet.

Emosionele bagasie beroof jou van geluk en vrede

Dictionary.com definieer “emosionele bagasie” as “pynlike herinneringe, wantroue en seer wat jy weens teleurstellings, onreg en trauma uit jou verlede saamdra”.

Skaamte, skuldgevoelens, woede of bitterheid kan groot skade aanrig. Dit keer dat jy opregte liefde, vrede en vreugde en ervaar.

Jy bou ’n ondeurdringbare emosionele muur waarbinne verdriet, woede, bitterheid, haat, onvergenoegdheid en negatiwiteit hoogty vier. Ongelukkig hou hierdie muur ook lewensvreugde uit en maak van jou ’n onvergenoegde, bitter vrou.

Maak finaal klaar met die kwessies uit die verlede

Die verlede mag nie die koers van jou lewe bepaal nie. Natuurlik kan ons waardevolle lesse daaruit leer, maar dit mag nooit emosionele groei blokkeer nie.

Gewoonlik probeer ’n mens ’n probleemsituasie verstaan deur ’n prentjie daarvan in jou kop te maak.

Hoe meer jy oor die situasie dink en met vriendinne daaroor praat, hoe meer waarde kry die storie.

Mettertyd gaan jou verbeelding op loop en ’n onrealistiese gewig word daaraan geheg. Elke keer wat die “storie” herleef of oorvertel word, word die (emosionele) bagasie swaarder.

Wees eerlik met jouself oor negatiewe gedagtes

Wat as jy so negatief-fiks geraak het van die swaar bagasie dat jy nie eens meer daarvan bewus is nie?

Erken bloot dat hierdie dinkgewoonte vryheid, vooruitgang en ontwikkeling weghou en verdring.

Volgens Audrey Marlene, ’n Amerikaanse lewensafrigter, is dit belangrik om ons waardestelsels te definieer. Waarin glo jy? Wat maak jou opgewonde? Hoe wil jy hê moet ander mense jou ervaar en onthou?

Jou gedagtes word ’n realiteit. Met ander woorde, jy is wat jy dink. Om van emosionele bagasie ontslae te raak, wees dus eerlik en erken al daardie negatiewe emosies.

Aanvaar verantwoordelikheid vir jou reaksie op die probleem

Om meer sin aan jou gedagtes te gee, beveel kenners aan dat jy die lewe soos ’n regisseur benader. ’n Regisseur kyk objektief na ’n situasie omdat hy vanuit alle hoeke na die saak kyk en die geheelbeeld sien.

Jy het vier doelwitte: om die situasie eerlik te evalueer, om jouself te vergewe, om dankbaar te wees en om vrede te kry.

Uiteindelik sal jy die situasie sien soos dit is, jou verantwoordelikheid daarin erken en met vergifnis en dankbaarheid vorentoe kan gaan.

Skep orde en raak ontslae van rommel

Jou fisieke omgewing soos jou huis, lessenaar of motor is gewoonlik ’n aanduiding van jou emosionele geraas.

Maak kop skoon deur van die warboel ontslae te raak. Stel realistiese doelwitte en gooi weg, gee weg, pak weg. As jou omgewing skoon en aan die kant is, sal jy meer in beheer voel.

Raak sommer ook van toksiese verhoudings ontslae – met ’n lewensmaat, kollegas, vriende, of familie.

As die verhouding nie waarde tot jou lewe toevoeg nie, los dit! As dit onmoontlik is om permanent daaruit te kom, stel emosionele grense en hou daarby.

Vorige artikelHou op om jouself jammer te kry!
Volgende artikelHoe om… nie alles te wil beheer nie