HOE OM … meer tyd vir jouself te hê

96

Onlangse navorsing het bevind dat vroue vandag minder gelukkig is as dié van 40 jaar gelede. Die rede is dat ons nie genoeg tyd het om aan onsself te spandeer nie.

Benut elke oomblik asof dit vir altyd tel

Verbeel jou dat daar ’n bank is wat elke oggend jou rekening met ’n sekere bedrag krediteer. Die balans van wat nie gebruik word nie, kan nie na die volgende dag oorgedra word nie.

Sou jy nie ook van die begin af die rekening wou leeg trek nie? Hierdie bank word “tyd” genoem. Elke oggend ontvang jy 86 400 sekondes.

Elke aand word die sekondes wat nie gebruik is nie, afgeskryf. Jy kan nie hierdie sekondes oordra nie en moet elke dag nuut begin.

Belê dus in gesondheid, geluk en sukses en benut elke dag!

Moenie jou persoonlike tyd vir werk gebruik nie

Het jy geweet dat 62% van alle mense werksverwante e-posse oor die naweek nagaan en 50% wanneer hulle met vakansie is? Dit beteken dat hulle omtrent 10% van hulle persoonlike tyd ook vir werksdinge gebruik.

Daardie 10% is dalk net wat jy nodig het vir ’n bietjie pamperlang. Probeer eerder rus en doen dinge saam met jou geliefdes of bederf jouself met ’n manikuur.

As jy by die huis moet e-pos lees, stel ’n beperking en moenie ekstra tyd daaraan spandeer nie. Los die minder belangrike e-posse vir wanneer jy weer by die werk is.

Kinders het gehaltetyd en jou volle aandag nodig

Studies toon dat een van die hoofbestanddele van ’n gelukkige gesin gehaltetyd is. Kinders het hulle ouers se aandag en ondersteuning nodig. As hulle dit nie kry nie, is swak gedrag met die doel om aandag te trek dikwels die gevolg.

Slegs 15 ononderbroke minute saam met jou kind kan al klaar julle verhouding versterk. Dit help jou kind om belangrik en veilig te voel en in ’n positiewe volwassene te ontwikkel.

Sit jou selfoon weg en doen iets saam met jou kind. Vergeet al die bekommernisse en wees ten volle in die oomblik.

Spaar só tyd met wasgoed en skottelgoed

Koop vir elke lid van die gesin ’n klein wassakkie vir die wasmasjien en was elkeen se sakkie met onderklere net so en maak dit daarin droog. Só bly alles bymekaar.

Laat jou gesin hulle wasgoed in verskillende sakke gooi – donker en ligte klere geskei. Leer ook jou kinders om seker te maak hulle klere se sakke is leeg.

Gebruik papierborde vir pizza of hamburgers. Só spaar jy opwaswater en tyd. As jy die bordjies saam met ander papiere herwin, doen jy ook jou deel vir die toekoms van die planeet.

Algemene wenke vir beter tydbestuur by die huis

Goeie beplanning en ’n aksieplan vir die dag bespaar tyd. Hou ’n volledige dagboek van al jou take en verantwoordelikhede.

Staan vroeër op. Vroegoggend is dit gewoonlik stil en sal daar meer tyd wees om te doen wat jy wil doen. Kyk ook of jy kan multitask – soos om omsendbriewe te teken terwyl jy jou oggendkoffie drink. Raak ontslae van slegte gewoontes. Dis meestal ’n verkwisting van tyd wat jy dalk meer produktief kan gebruik.

Allerhande nuwe vaardighede kan jou vinniger maak. Daar is baie take wat jy met spoed kan verrig, soos stap en spoedlees.

Vorige artikelFokus eerder op wat jy het!
Volgende artikelHoe kan ek meer vrede kry?