HOE OM … ’n missie op te stel

269

Uitdrukkings soos “om deur waardes gedryf te word”, help sakeondernemings om hulle doelwitte bereik. ’n Persoonlike missie is die breë plan waarvolgens jy jou lewe rig. Dit kan nuwe rigting aan jou lewe gee …

’n Doelwitstelling kan jou hele lewe verander

As jy dit neergeskryf het en daarvolgens leef, kan ’n missie een van die belangrikste dinge wees wat die toekoms bepaal. Hou dit kort – nie langer as ’n paragraaf nie. Selfs net een sin kan werk.

Dit sal ’n raamwerk gee om in al die fasette van jou lewe te gebruik. En dit sal jou help om sin in die lewe te vind.

’n Persoonlike missie sal nie oornag jou omstandighede verander nie, maar kan oornag die rigting van jou lewe verander. Dit kan jou selfs help om daardie droomwerk te kry!

Gebruik suksesse uit die verlede wanneer jy doelwitte opstel

Dink mooi oor wat jy in die verlede bereik het en skryf alles neer: by die werk, in die gemeenskap, by die huis. Dink oor waar jy van ander mense positiewe reaksie gekry het. Soek vir gemeenskaplike temas.

Voorbeeld: My beste vak in matriek was Engels en ek wil graag skryf. ’n Kortverhaal wat ek twee jaar gelede geskryf het, is deur ’n uitgewer vir publikasie aanvaar.

Onthou, die uitkomste moet geskryf word om jouself te inspireer, nie om ander mense te beïndruk nie.

Dit moet emosies en lewensbeginsels soos respek vir ander en eerlikheid aanraak.

Die regte waardes sal help om ’n missie te bepaal

Waardes is die dinge wat vir jou belangrik in die lewe is. Skryf jou hart uit – of dit oor jou geestelike lewe, liefde vir die natuur of vermoëns as berader is.

Voorbeeld: Ek is hardwerkend en kom baie goed met mense oor die weg. Ek kan dit nie verdra as iemand die heeltyd kla nie. Of: Ek is spyt ek het net een kind, want ek is gek oor kinders en familie is vir my belangrik.

Bepaal daarna die twee grootste waardes wat jy wil hê jou lewe moet vorm, byvoorbeeld hegte verhoudings en kreatiwiteit.

Kry die visie om ’n verskil te maak

Skryf hoe jy ’n verskil kan maak in die kerk, gemeenskap, by die werk en in jou vriendekring en familie.

Kyk na wat jy neergeskryf het, dink daaroor en formuleer jou missie. Watter positiewe stappe kan in die breë gedoen word?

Voorbeeld: Ek gaan doelbewus aan verhoudings in my lewe bou en God en my gesin eerste stel.

Of: Ek gaan voortdurend my eie kreatiwiteit ontwikkel, in my persoonlike én professionele lewe – veral my skryftalent.

Plak jou missie op waar jy dit elke dag kan sien. Hersien dit nou en dan en hou dit lewend!

Maak jou planne prakties en uitvoerbaar

In die lig van jou missie, stel nou persoonlike doelwitte vir die volgende drie jaar op.

Onthou om sperdatums te gee en lekker belonings in te bou vir wanneer jy jou doelwitte bereik.

Voorbeeld: Ek gaan elke weeksoggend ’n halfuur vroeër opstaan om tyd saam met God te spandeer. Ek gaan elke Donderdagmiddag net aan my gesin aandag gee.

Ek gaan elke maand ’n kortverhaal skryf en vir ’n tydskrif instuur. Ek gaan my CV regkry en oor ses maande begin uitkyk vir ’n werk waar ek my drome kan uitleef.

Vorige artikelBegin elk dag met goeie voornemens
Volgende artikel[VIDEO] Waar daar hoop is, is daar volharding [Reeks 1 Nommer 10]