HOE OM … niks te doen sonder skuldig voel!

170
HOE-OM-niks-te-doen-sonder-skuldig-voel!

Ons word deur ellelange doenlysies voorgesê. Maar soms is die produktiefste aktiwiteit om in ’n hangmat te lê en na die wolke te kyk. Hou op skuldig voel, niksdoen is goed vir liggaam en gees!

Niksdoen is goed vir jou gesondheid

Medici, leefstylafrigters en vroue wat op die harde manier geleer het, is dit eens dat die onvermoë om rustig te raak, jou skade kan berokken.

Ongesonde skuldgevoelens breek selfvertroue en selfrespek af. Dit lei tot stres, wat weer ’n groot verskeidenheid mediese probleme tot gevolg kan hê.

Vroue is geneig om “dienende Marthas” te wees wanneer dit by ander se behoeftes kom. Dit terwyl sy die belangrikste persoon van almal ignoreer, haarself!

As jy ’n gelukkige, vervulde vrou wil wees, moet jy seker maak jy kyk na jou eie behoeftes.

Rus op ’n manier wat jóú pas

Begin deur ’n lysie van jou eie behoeftes te maak. Gee jouself die reg om gesond selfsugtig te wees. Maak seker dit sluit dinge in wat vir jóú lekker is om te doen.

Jy kan byvoorbeeld besluit om een keer ’n week in ’n borrelbad te lê. Of elke tweede week saam met ’n vriendin te kuier.

Dit hang van elkeen se persoonlikheid af. Ekstroverte sal dinge saam met ander mense wil doen, terwyl introverte ’n aktiwiteit op hulle eie sal beoefen.

Neem ’n dag verlof, selfs al werk jy nie!

Administrasie, e-posse, liassering, fotoprojekte is nie lewe-en-dood-sake nie. Jy hoef nie ’n loopbaan te hê nie en nog minder die “baas” van ’n maatskappy te wees. Solank jy gelukkig en tevrede is.

Gaan fliek (met springmielies en koeldrank). Of klim vroegoggend terug in die bed met ’n tydskrif of jou eie gedagtes as geselskap. En as jy wil, loop die hele oggend in pajamas rond.

Nooi ’n vriendin vir koffie of middagete. Vriendinne anker jou en help om jou om in voeling te bly met die vrou wat jy was voordat jy ’n eggenoot, ma of sakevrou geword het.

Ontspan of oefen in die buitelug

Word ’n slag weer kind. Skop die bal, slaan bollemakiesie, vlieg ’n vlieër. Sit op die swaai en ervaar die onbevange genot van net in die oomblik wees. As volwassenes is ons gans te ernstig oor die lewe.

Hardloop, gym, doen aërobiese oefening, skop ’n slaansak, begin dans of gaan stap met die hond deur die buurt. Raak aan die beweeg, net ’n paar minute buite sal jou vinnig laat ontspan.

Daar word beweer dat ’n stap- of drafsessie van 20 minute jou gemoed vir 12 uur lank opgekikker kan hou.

Neem dinge rustiger en geniet die lewe

Daar is niks wat ’n mens moeër maak as ’n oorlading van stimuli en ’n verhoogde adrenalienvlak nie. Dink mooi, “Is dit belangrik? Maak dit regtig saak?”

Indien nie, skakel die rekenaar en selfoon sommer ook af en geniet die tydjie om net te wéés. Jy verdien dit!

Kwiltwerk, kraletjiewerk, découpage, mosaïekwerk, skilder of bak is alles wonderlike uitlaatkleppe vir jou kreatiwiteit en eiewaarde.

Die lewe is te kort om jouself klein plesiertjies te ontneem. Geniet daardie sny koek! Dit gee ’n goeie verskoning om daarna in die veld te gaan stap …

Vorige artikelMoenie jou aan ongevraagde opinies steur nie
Volgende artikelWat as iemand my teleurstel?