HOE OM… trauma te verwerk

672

Onaangename ervarings van gister bepaal hoe ons vandag se krisis hanteer. Navorsing het bewys dat ’n traumatiese ervaring in die verlede beïnvloed hoe jy ’n krisis in die toekoms sal hanteer. Die rede hiervoor is dat hierdie gebeure ’n “wond” veroorsaak en die brein verander.

As ’n mens in ’n gewapende roof was, kan jy jare daarna dieselfde skok en emosies ervaar as iets gebeur wat jou daaraan herinner.

Hierna kan verwys word as ’n oorsensitiwiteit vir ’n spesifieke gebeurtenis. Die impak hiervan is selfs groter as dit uit ons kinderjare kom. Dan is dit moeiliker om die konneksie tussen die sneller en die trauma te maak sodat jy daarmee kan werk.

Verstaan dat jou emosies nie sal sin maak nie

Aanvaar dat jy baie intense, onvoorspelbare en wisselvallige emosies gaan ervaar. Gevoelens is nie altyd rasioneel nie en baie mense voel skuldig of kwaad sonder ’n werklike rede.

Klein dingetjies kan jou baie ontstel. Die situasie is moeilik om te hanteer en dit kan gebeur dat jy die emosies na skynbaar minder belangrike gebeurtenisse verplaas.

Jy kan dalk alle hoop en lus vir die lewe verloor. Of voel daar is geen rede om in die oggend op te staan nie.

Gelukkig sal die pyn en hartseer nie vir altyd daar wees nie.

Moenie te veel van jouself en ander verwag nie

Onthou, alles wat met jou gebeur het, val buite die grense van normaliteit. Die lewe kan onmoontlik soos voorheen sy normale gang gaan.

Moet dus nie van jouself verwag om “sterk te wees” nie en aan te gaan asof niks gebeur het nie.

Die mense om jou is net so ontwrig. Niemand is seker hoe om op te tree nie. Kyk met genadige oë na jouself en jou mense.

Begin weer geleidelik die dinge doen wat altyd vir jou lekker was. Wees geduldig en jy sal sien, jy sal geleidelik jou balans herwin.

Trek grense en luister na jou liggaam

Dis belangrik om nou grense te trek. Moenie optree soos ander verwag nie, maar wees en doen net waarvoor jy kans sien.

Kyk mooi na jouself en begin veranderinge maak oor hoe jy oor jouself, die lewe en geluk dink.

As jy genooi word om saam met vriende te kuier, sê mooi, maar beslis “nee” as jy nie daarvoor kans sien nie.

As jý besluit dit is beter om te gaan werk, doen dit. Moenie toelaat dat mense jou sleg laat voel omdat hulle voel dat jy nog nie genoeg getreur het nie.

Dink wat jy uit die ervaring kan leer

Trauma verander jou persepsies. Tydens en ná die onaangename gebeurtenis voel dit of die lewe nét sleg is. Jy is depressief en nie meer lus om aan te gaan nie.

Dit ís egter moontlik om te herstel en om weer gelukkig te wees. Jare later waardeer jy die goeie oomblikke meer intens en het empatie met ander se swaarkry.

Jy glo nie meer dat wat gebeur het die einde van die lewe beteken nie en aanvaar swaarkry as deel van die lewe.

Hou moed, lewenslus en vreugde sal mettertyd terugkeer.

Vorige artikelIs jy realisties of negatief?
Volgende artikelLaat God Sy karakter op jou afdruk