HOE OM … verandering makliker te maak

69

Jy verkies roetine en ’n vaste manier om dinge te doen. Deur egter ’n paar haalbare doelwitte te stel en op die positiewe te fokus, kan jy verandering vir jouself aansienlik makliker maak.

Stel vir jouself doelwitte wat jy kan haal

Verandering is ’n ontwrigting. Dit beteken dat jy keuses moet maak wat onsekerheid kan veroorsaak. Te veel opsies maak dat jy die verskillende keuses moet analiseer, en dit kan jou verlam. ’n Mens is geneig om op die bekende pad te wil bly, want dit is die maklikste.

Dit help om ’n duidelike visie te hê van wat jy wil bereik. Identifiseer duidelike stappe. Moenie net sê jy wil gewig verloor nie. Hoe gaan jy dit doen? Suiker uitskakel, jou vetinname verminder? Moenie dat doelwitte in die lug bly hang nie. Dit moet bereikbaar wees.

Fokus daarop om positief te probeer bly

Verandering gebeur in die volgorde: sien, voel, verander. As jy die bewyse kan sien, praat dit op ’n emosionele vlak met jou. Emosie is daarom ’n beter motiveerder as realiteit.

Negatiewe emosies is baie kragtig, maar dit werk meestal op kort termyn. As jy blywende veranderinge wil maak, byvoorbeeld om gewig te verloor, is dit beter om positiewe emosies in te span.

Net jy kan jouself motiveer as jy moedeloos is en sjokolade wil verorber. Motivering stimuleer hoop en blydskap. En dis presies wat jy nodig het as jy ’n groot verandering wil maak.

Kleiner doelwitte is makliker om te hanteer

Dis baie oorweldigend om ’n groot verandering te maak. Verdeel daarom die verandering in kleiner doelwitte. As jou mikpunt is om fiks te word vir ’n padwedloop, het jy miskien reeds begin!

Jy stap immers elke dag van die parkeerterrein tot by jou kantoor, en dis ’n hele ent. Jy gaan loop elke middag ’n draai in die tuin en trek ’n paar bossies uit.

Rek dit nou net. Parkeer verder. Stap langer en buk meer.

Vervang jou ou maniere met nuwe gewoontes

As jy jouself wil verander, moet jy jou gewoontes verander. Die omgewing en die kultuur waarin jy leef, bevestig jou gewoontes. ’n Neutrale omgewing bied minder verleiding. As jy dus jou omgewing verander, is dit makliker om die gewoonte te verander.

Hoe doen ’n mens dit op ’n praktiese manier?

Gewoontes is gewoonlik iets wat ’n mens amper onbewustelik doen. As jy dus besluit dat jy iets wil eet, moenie op die bank lê en dit doen nie. Staan! Staan sommer dwars voor die spieël as jy iets eet wat jy nie regtig mag nie.

Werk daaraan om los te kom van jou gemaksone

Dis vreemd om dinge waaraan ons gewoond is, vir iets onbekend te verruil. Gewoontes laat ons veilig voel. As ons weet wat gaan gebeur, het ons ’n gevoel van beheer. Dit is egter slegs ’n gevoel, nie werklike beheer nie. Nogtans het ons dit nodig.

Besef dat jou gemaksone eintlik net ’n illusie is. Dinge kan enige tyd verander. Probeer om verandering te “beheer” deur dit so ver moontlik te beplan. Laat dit volgens jou pas gebeur.

Visualiseer die uitkoms sodat jy gedurende die verandering nog steeds ’n mate van veiligheid en beheer kan ervaar.

Vorige artikelOns kan saam soveel meer vermag
Volgende artikelMaak jou kind selfstandig groot