Fokus eerder op wat jy het!

186

Begin jou lewe verryk deur jou lewensuitkyk te verander. Fokus op wat jy het in stede van wat jy nie het nie. Wees dankbaar vir wat ook al jy ontvang en vergeet van die res.

Jou uitkyk bepaal hoe ryk jou lewe is. Daarom is sommige mense wat op die oog af nie veel het nie so gelukkig soos konings terwyl ander wat die wêreld se weelde besit steeds onvergenoegd is. Dis omdat ’n mens se seëninge net bestaan uit daardie dinge wat jy raaksien.

Wat jy raaksien, is wat jy het

Een someroggend sit ek en my kinders in ons tuin. Ek sê, “Vertel my wat julle sien”. Hulle noem op: die voëls, die dam, ons huis, die grasperk, die wolke …

Danél vra, “Wat sien Pappa?” Ek sien al die dinge wat hulle sien, maar ook ’n onbeskryflike wonderlike oomblik van liefde.

Ek sien ’n klaskamer wat ander kinders nooit sien nie, want hulle het vier mure om hulle. Ons klaskamer het miljoene goggatjies. Meer as tienduisend boeke se biologie. Hier is wiskunde om ons. Kyk na die blaartjies aan die takke, dis wiskunde. Kyk die vorms … ovaal, driehoekig …

Ek sê vir my kinders, “Kyk net hoe ryk is ons hier vandag, op hierdie oomblik”. Hulle sit so en kyk. “Wow, Pappa, ons het nie al hierdie goed gesien nie!”

Onthou wat jy raaksien, is wat jy het. Dit wat jy nie kan raaksien nie is jou armoede.

Wat jy miskyk, lei tot jou armoede

As jy altyd jou oë gerig hou op die dinge wat jy nie het nie, sal jy nooit genoeg hê nie.

Soveel van ons is bewus van dit wat ons nie het nie. Ons dink: “Kyk hoe arm is ek. Ek het nie wat ander mense het nie. Ek het nie ’n blink kar nie. Ek het nie al die dinge wat ek wil hê nie.”

My vraag is: Maar wat het jy wel? Wat het jy wat jy net nog nooit raakgesien het nie?

Ek meen, wat is rykdom? Hoeveel geld is genoeg? Hoe ryk jou lewe eintlik is, is jou keuse. Wat jy kies om te sien. Dit wat jy raaksien en waardeer – dit besit jy.

Almal het probleme. Ek wil jou vandag uitdaag, in plaas daarvan om te kyk na die hindernisse wat jy ondervind en jou lewe daarmee vol te maak, sien liewer jou seëninge raak.

Fokus eerder op dit wat jy het

Sê nou maar net ek verander my bewustheid. In plaas daarvan om dag in en dag uit te konsentreer op die negatiewe, verander ek my uitkyk en ek kyk na my geleenthede. Ek sien die rykdom raak wat ek wel het. Ek is dankbaar daarvoor en kyk hoeveel ek daarmee kan verrig.

Dankbaarheid is een van die kragtigste eienskappe wat ons kan besit. Dit stel ons in staat om ons seëninge, hoe klein ook al, raak te sien. Dit voorkom dat die uitdagings van die lewe oorweldigend raak. Deur te fokus op wat ons het en dankbaar te wees vir daardie dinge, kan ons positief en gemotiveerd bly om die beste uit hierdie dinge te put.

– JANNIE PUTTER, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling

Vorige artikelLeef lig
Volgende artikelHOE OM … meer tyd vir jouself te hê