Is jy realisties of negatief?

775

As jy hopeloos voel, beteken dit letterlik dat jy alle hoop verloor het. Maar wat gebeur as jy toelaat dat jou omstandighede jou toekoms bepaal?

Ons ken almal oomblikke van wanhoop. Wanneer jy geen uitkoms sien nie – dikwels wanneer slegte dinge aanhou gebeur en dit lyk asof dit nooit beter gaan word nie.

Moenie dat realiteit jou hoop steel nie

Ek hoor dikwels, “ek is moedeloos” of “my kind het nie vooruitsigte in die land nie”. Dit is ongelukkig ’n neiging waarmee ons vandag te doen het. Die realiteite en uitdagings wat ons in die gesig staar, is so hard en so real dat dit ons heeltemal van ons drome en ideale ontneem.

Ek het met ’n klomp boere oor die toekoms gesels en vra toe skertsend vir hulle in watter maand kla boere die minste … Die antwoord is Februarie – omdat Februarie die minste dae het.

Dis miskien net ’n grappie, maar my vraag hierop was of hulle nie die antwoord as ’n klap in die gesig beskou nie. Ons sê dan ons is gelowig. Wat het van geloof in die dag van môre geword?

Wat doen ’n mens as jy moed verloor?

Word jy so oorweldig deur jou situasie dat dit jou van vooruitsigte beroof? Sou dit nie beteken dat realiteit dan jou god word nie? As jy radeloos voel, kyk jy jou dalk so vas in jou situasie dat jy jou hart toegemaak het vir geloof en vertroue.

Ja, daar is niks lekkerder as om jou realiteit te misken … eintlik te ontken nie. Jy mag dalk dink dit is heeltemal mal om so te redeneer. Hoe kan ’n mens die werklikheid ontken?

Dit is ’n goeie plan om die woord imagine deel van jou woordeskat dit maak. Dit beteken om in jou geestesoog te sien hoe iets wonderlik gebeur. Gaan gereeld op sulke “reistogte” waar jy jou verbeel dat enigiets moontlik is.

Dan moet jy ook met jou gesin en vriende hieroor práát. Wanneer jy jou gedagtes in woorde uitdruk, word die gesprek met positiewe energie gevul. Dit laat enige gevoel van mismoedigheid heeltemal verdwyn.

Verander jou uitkyk vir ’n nuwe visie

Jare terug was ek hopeloos – ’n pateet sonder verwagtinge, ’n verloorder in my eie gedagtes. Toe spreek iemand in my lewe in en sê: “Skryf neer wat en hoe jy sou wou wees as enigiets moontlik is.” Toe het ek en my vrou ons toekomsvisie gaan neerskryf.

My eerste begeerte was om ’n gelowige lewe te lei, om gehoorsaam te wees aan God en Sy guns oor my lewe te hê. Vandag is dit my realiteit, want ek het daaroor begin praat. Ek en my vrou het elke oggend gepraat oor dit waarna ons strewe.

Geloof is om seker te wees van dit waarvoor jy hoop. Dit is ’n vaste oortuiging van dit wat jy nog nie kan sien nie. In plaas daarvan om jou teen die realiteit blind te staar, gaan op ’n verbeeldingsreistog. Jy kan niks verloor nie, maar jy kan dalk jou geloof terugwen.

Wanneer jy dit met iemand bespreek, gebeur daar iets binne-in jou wese. Dít is vir seker ’n reis wat jy graag wil onderneem. Jy gáán dit geniet. En jy sal ander hoopvolle mense om jou ontdek!

Jannie Putter, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling en sportsielkunde

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Jannie.

Vorige artikel[PODSENDING] Hoe om… te blom as gesin [Reeks 1 Nommer 8]
Volgende artikelHOE OM… trauma te verwerk