Maak jou doelwit ’n strewe na uitmuntendheid

100

Uitnemendheid beteken om jou beste te wees. Om dinge na die beste van jou vermoë te doen en môre beter te wees as gister. Dit gaan nie daaroor om beter as ander te wees nie.

Wat is die verskil tussen gemiddeld en uitstekend? Gemiddeldheid kry die werk, of dit waarmee jy kan wegkom, gedoen. Uitnemendheid vat dinge verder en vra: “Hoe kan ek dit beter doen?” Die ironie is dat dit meestal net soveel inspanning verg om middelmatigheid te bereik as om uitstekend te wees.

Jy kan óf eerste wees óf die beste wees

Wil jy eerste wees of wil jy die beste wees? Ons word van kleins af gekondisioneer om eerste te wees. Hierdeur leer kinders dikwels om kwaliteit prys te gee in die strewe om te “wen”.

In tennis is ’n oefening wat die afrigter suicide noem. Ek dink egter dat suicide ’n baie negatiewe term is, so ons noem dit eerder lifesaver. In hierdie oefening moet almal hardloop en die lyne raak. Maar wat gebeur?

Almal wil eerste wees. So, die een ou kul ’n bietjie. Hy raak nie die lyn nie. Die ander sien dat die afrigter niks daaromtrent doen nie. Dan dink die volgende ou, “Wel as hy daarmee kan wegkom, gaan ek ook nie die lyn raak nie”.

En só raak niemand later die lyn nie, want almal wil “eerste” wees. In elkeen se gedagtes word gemiddeld dan goed genoeg en goed genoeg word aanvaarbaar.

Verander goed genoeg in so goed moontlik

As ek nie met my voete en my hande aan die anderkant van die lyn is nie, is ek mos nie dáár nie. In rugby sê hulle altyd, “Jy kan nooit ’n drie voor die lyn druk nie”. So, as ons oefen en jy draai voor die lyn om, hoe gaan jy ooit ’n drie druk?

Uitnemendheid beteken ek maak ’n keuse om my beste te gee. Om dinge na die beste van my vermoë te doen. Dit gaan nie daaroor om beter as ander te wees nie.

Maak dit vir my saak dat iemand my met gemiddeldheid klop? Nee, geensins nie. Ek soek iemand wat my met voortreflikheid kan klop. As jy my nie kan klop met uitmuntendheid nie, dan is ek die kampioen.

Onverbeterlikheid staan altyd uit bo eerste. Vergeet daarvan om eerste te wil wees. Leer eerder om wat jy doen so goed moontlik te doen.

Uitmuntendheid beteken nie jy moet perfek wees nie

Dink aan jou eie lewe. Hoeveel keer het jy al gemiddeld as goed genoeg aanvaar omdat die res van die wêreld dinge gemiddeld doen? Hoeveel keer jaag ons nie die werk af nie? Ons probeer eerste wees in plaas daarvan om die beste te wees.

Daar is ’n groot verskil tussen eerste en beste. Leef dit en leer dit vir jou kinders. As gemiddeld goed genoeg word, leef jy ’n gemiddelde lewe. As jy uitstekend is in alles wat jy doen, ontwikkel jy ’n gevoel van trots. Dan is gemiddeld nie meer vir jou aanvaarbaar nie.

Uitnemendheid dui op ’n strewe na perfeksie, maar beteken geensins dat jy perfek hoef te wees nie. Dit is nie moontlik om alles 100 persent perfek te doen nie. Maar deur konsekwent jou beste te lewer verbeter jou beste.

Moet nooit tevrede wees met goed genoeg nie. Lewe in die gees van uitnemendheid!

– JANNIE PUTTER, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling

Vorige artikelLeah: “Dis lekker om net myself te wees”
Volgende artikelHoe stop ek negatiewe gedagtes?