Moenie dat vrees jou sukses steel nie

194

Vrees is noodsaaklik. Dit help ons om aan die lewe te bly en voorkom dat ons dom dinge doen. Dit kan egter ook beperkend wees en verhoed dat ons die suksesse behaal waarna ons streef.

Dit het die mag om ons ambisies, doelwitte en drome dood te maak. Daarom is die rykste plek nie die olie-, goud- of diamantvelde van die wêreld nie, maar die begraafplaas. Waarom? Omdat soveel mense doodgaan sonder om die talente en geleenthede te gebruik wat hulle ontvang het.

Vrees vir mislukking is ’n aangeleerde gewoonte

’n Mens word gebore met twee natuurlike fobies: die vrees om te val en die vrees vir harde geluide. Alle ander vrese word by ons ouers aangeleer, en deur ons omgewing en ervarings versterk.

Ons word grootgemaak met reëls en dinge wat ons nie mag doen nie. Moenie … moenie … moenie … Dit is die oorsprong van ons angstigheid, want as jy nie gehoor gee nie is daar negatiewe gevolge. Dié bangheid in ons word ’n gewoonte.

Een van ons grootste aangeleerde fobies is die vrees vir mislukking. Die gevoel kan so sterk wees dat die vermyding daarvan die motivering om te slaag verduister.

Dit weerhou jou daarvan om te probeer, skep self-twyfel en belemmer vooruitgang. Onsekerheid oor wat die regte ding is om te doen, kan ’n mens onbewustelik jou kanse op sukses laat saboteer.

Moenie dat vrees jou drome ondermyn nie

Soms is die vrees vir mislukking en verwerping die enigste dinge wat jou keer om te probeer. Dit weerhou ons baiemaal daarvan om enigsins iets nuuts aan te pak. Soveel van ons het al wonderlike drome en idees gehad, maar omdat ons bang is dit sal nie werk nie, jaag ons dit nie na nie. Dan word die angstigheid – wat op die oog af sinvol lyk – ’n handige verskoning om eerder weer in jou gemaksone te verval as om jou nek uit te steek en ’n kans te waag.

Die ander kant van vrees is geloof. Geloof beteken om seker te wees van dié dinge waarop ons hoop. Maar as ’n mens realisties na dinge kyk, verloor jy maklik hoop. Jy kyk na elke geleentheid of vooruitsig wat in jou lewe opduik en sê vir jouself: “Dit kan tog nie uitwerk nie. Ek sal nooit ’n sukses daarvan kan maak nie.”

Oorkom jou vrees met ’n bietjie verbeelding

Die lewe is te kort om veilig gespeel te word. Moenie toelaat dat jou vrees vir teleurstelling jou keer om te probeer nie. As jy jou dit kan verbeel, kan jy dit bereik.

Moenie net daaroor droom nie. Steek die ander kant van die bangheid in jou ’n bietjie aan die brand. Doen iets daadwerkliks. Skryf neer waarvoor jy hoop. Gaan groot, gaan groter as wat jy dink moontlik is. Verras jouself ’n bietjie en lag oor jou moontlikhede. Wanneer ’n mens lag oor dit waarvoor jy hoop, kan dit waaroor jy droom ’n werklikheid word.

Wees vol hoop. Praat oor jou vooruitsigte. Glo daarin, al lag die wêreld vir jou. Dit is baie beter as om jou hoop prys te gee en met al jou onontginde vermoëns en onvervulde drome na jou graf toe te gaan.

–JANNIE PUTTER, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling

Vorige artikelIs Bybellees vandag nog relevant?
Volgende artikel[VIDEO] Moenie dat vrees jou sukses steel nie [Reeks 2 Nommer 1]