Moenie jou aan ongevraagde opinies steur nie

56

’n Mens sou tog nie gif drink omdat jy dors is nie. Waarom is dit dan dat ons ons na toksiese mense wend vir advies of toelaat dat hulle ons lewens met hulle opinies vergiftig?

Wat is die gif waarvan ek praat? Dis die vergiftiging van jou gedagtes. Die gif wat iemand vir jou ingee oor wie jy is en wat jy kan doen of nie kan doen nie en hoe jy lyk of behoort te lyk. Dis die ongevraagde kritiek wat ons lewens versuur.

Glo in jouself en moenie na kritiek luister nie

Ons word daagliks blootgestel aan die, meestal ongevraagde, opinies en kritiek van ander. Dit is ’n universele, maar pynlike ervaring. Dit veroorsaak by die meeste van ons vrees, skaamte of woede en vergiftig jou gedagtes met gevoelens van onsekerheid, onwaardigheid of onbevoegdheid.

Hoeveel mense kry gereelde dosisse in van “ek is nie mooi genoeg nie”, of “ek is nie slim genoeg nie”?

Hoeveel vrouens is daar wat deur ’n egskeiding of ander trauma gegaan het waar iemand gesê het “jy is nie goed genoeg nie”? Vir die res van haar lewe glo sy, dalk omdat haar man saam met ’n jonger vrou weggeloop het, dat sy nie goed genoeg is nie.

Daardie gif vernietig ’n mens se geloof.

Jy verloor hoop en word moedeloos.

Sien wat die vergiftigers vir jou opdis. Sê vir jouself: “So dors is ek nie! As iemand weer vir my ’n bekertjie gif aanbied, gaan ek dit weier.”

Oppas wie se kritiek jy in jou lewe toelaat

Hoekom sou jy kritiek aanvaar van iemand van wie jy nie advies sou vra nie?

Voordat jy iemand anders se negatiewe opinie aanvaar, vra jouself af, is dit die waarheid of is dit die opinie van iemand wat hoop en vooruitsigte verloor het?

As jy raad wil hê oor die huwelik, het ek vir jou wonderlike nuus, 33% van huwelike werk, mits albei partye daaraan werk. Maar waarom fokus ek nie op die 66% van huwelike wat nie werk nie? Want dit waarop ek fokus, dit trek ek aan.

Hoekom sou jy raad aanvaar van iemand wat vir jou sê ’n ding kan nie werk nie Waarom gaan jy nie eerder na die ou vir wie dit gewerk het en vra sy opinie nie?

Die meeste van ons wil ’n verskoning hê vir ons besluite en daarom gaan luister ons na die dwase wat ons vol gif en vrees pomp.

Moenie dat ander se negatiwiteit jou onderkry nie

Neem ’n bietjie jou situasie in oënskou. Wie laat jy toe om in jou lewe in te spreek? Hoekom is hulle mening vir jou belangrik? Is dit mense wat weet waarvan hulle praat en ’n sukses van dinge gemaak het of diegene wat dit nie self kon maak nie?

Hoeveel van hulle gif het jy gedrink? Miskien het dit tyd geword dat jy die teenmiddel drink. Die teenmiddel is dat jy self jou realiteit moet skep. Iemand anders se opinie oor jou sê meer oor hulle as oor jou.

Aanvaar dat die negatiewe opinie oor jou verkeerd is. Dit is iemand anders se realiteit gegrond op hulle eie perspektief. Jy kan vir jou ’n ander werklikheid skep.

–JANNIE PUTTER, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling

Vorige artikelDemi Lee Moore: Moeilike tye mag ons nie onderkry nie…
Volgende artikelHOE OM … niks te doen sonder skuldig voel!