‘n Goeie naam is goud werd

4489

’n Goeie naam is meer werd as goud en silwer. ’n Gesonde reputasie is in werklikheid die fondasie van jou lewe, want dit is waarop alles gebou word.

As ’n mens ’n huis bou, kan die huis net so groot en sterk wees as wat die fondasie hom toelaat. Die fondasie bepaal hoe groot en sterk die gebou gaan wees. Die fondasie word nie gesien nie, want dis onder die grond.

Jy besluit hoe ander mense jou onthou

Om ’n goeie naam te hê gaan uiteindelik vrugte afwerp. Dis ’n bate wat resultate oplewer. Van kleins af is ’n mens besig om aan jou goeie naam te bou – dit wat ander van jou dink.

Op skool is kinders se grootste vrees en bekommernis dit wat ander van hulle dink. Moenie probeer om ander te beïndruk, en sodoende nooit die ware jy ontdek nie. Om ’n goeie reputasie te bou is ’n persoonlike besluit.
Dis om te kies wie jy wil wees. Iemand wat geken word aan onsekerheid of eerder jou selfversekerdheid? Die antwoord is baie duidelik.

Jy kies of jy ’n moeilike of maklike mens gaan wees om mee saam te leef. Ek was vroeër in my lewe regtig ’n moeilike mens om mee saam te leef. Die naam waaraan ek gebou het, was nie ’n goeie erfenis nie.

Laat jouself en ander toe om foute te maak

As ek my kinders toe moes vra, sou hulle sê: “My pappa vind altyd fout met alles”, “My pa sien altyd alles raak wat ek verkeerd doen.” Dis baie beter om geken te word as iemand wat maklik vergewe. My hele lewe het verander toe dit by my insink dat die naam wat ek besig is om te bou, die erfenis is wat ek gaan agterlaat.

In plaas van om vir jou kinders en ander te vertel wat om te doen, wys eerder vir hulle hoe om te leef. Ek was eenkeer ’n spreker by ’n skool. Na die tyd kom ’n ma na my toe. Sy was ’n baie suksesvolle Springbok-atleet en haar kind is ook baie suksesvol, maar wil nie meer atletiek doen nie. “Vertel my gou wie is jy,” het ek haar gevra.

Haar eerste woorde was: “Ek is ’n perfeksionis.” Ek vra haar toe om te verduidelik wat perfeksionisme vir haar beteken. Sy sê: “Jannie, ek hou nie daarvan om foute te maak nie, ek haat foute.” Die vrees wat haar kind ervaar het oor mislukking, kom waarskynlik van die perfekte voorbeeld wat die ma vir haar gegee het.

Ry elke golf voluit, al is hy klein

In plaas van om te probeer perfek wees, moet ons leer daar is nie so iets nie. Ons is onvolmaak en vol sonde. As ons vir ons kinders ’n voorbeeld gee van perfek wees, ontneem ons hulle die voorreg om foute te maak.

Die kuns van die lewe is om elke golf wat ons kry, met ’n glimlag te ry al is dit nie perfek nie. Dis die golf van die oomblik, maak nie saak hoe dit lyk nie. Dan spring jy terug in die see. Miskien is die volgende golf mooier!

Watter dinge gaan uitstaan vir ander oor jou as jy vandag sou sterf? Vra jouself wat die “klein” mense in jou lewe van jou sal sê as jy wegstap: die vrou agter die kasregister by die supermark, die petroljoggie of huishulp. Wees iemand wat die beste in ander na vore bring.

–JANNIE PUTTER, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling

Vorige artikel[VIDEO] Weet waarheen jy op pad is [Reeks 1 Nommer 1]
Volgende artikelDis tyd vir kop skoonmaak!