Ons kan saam soveel meer vermag

64

In sportmal Suid-Afrika het elkeen sy of haar gunstelingsportspan. Wat een span bo ’n ander laat uitstaan, is sinergie. Met ander woorde die bydrae van lede om die span as ’n geheel te laat saamwerk.

Die beginsel van sinergie is nie net in die sportwêreld relevant nie, maar word oraloor, ook in die besigheidswêreld, toegepas. Ter verduideliking: As twee persone elk 20 kg met hulle beste poging kan optel, hoeveel kan hulle saam optel? As jy 40 kg geantwoord het, is jy verkeerd.

Ons is baie sterker as ons saamstaan

Die definisie van sinergie sê dat interaksie of samewerking tussen twee of meer komponente om ’n gesamentlike effek te lewer, groter is as die som van hulle afsonderlike effek. Die Bybel verwys ook in Deuteronomium daarna dat een duisend op vlug kan laat slaan, terwyl twee tienduisend op vlug kan laat slaan.

In die wêreld van sport is Eliud Kipchoge van Kenia ’n goeie voorbeeld. Hy het in Oktober 2019 die eerste mens geword wat ’n marathon in minder as twee uur gehardloop het.

Hy het 42,2 km in ’n eens ondenkbare 1 uur, 59 minute en 40 sekondes voltooi. Hoe het hy dit gedoen?

Hy het dit gedoen met die hulp van ’n groep atlete wat hom geestelik, verstandelik en emosioneel “getrek” het. Maar hoe kan jy iemand trek as jy nie aan hom raak nie? Dít is die krag van sinergie.

Wat het sinergie met my uit te waai?

Die geheel is groter as die som van sy dele. As jy deel is van ’n huisgesin beteken dit dat daar ten minste twee mense betrokke is.

Die oomblik wanneer daar meer as een is, is die krag van sinergie ter sprake.

Sinergie word gebou wanneer ons vir mekaar sê: “Kom ek en jy probeer om saam hierdie gewig op te tel.” Die oomblik as ek en jy saamstem, kom die krag van sinergie in werking. Sinergie beteken ooreenstemming in gees, ooreenstemming in ons gedagtes.

As twee mense in sinergie bymekaarkom, sê hulle: Ek kan goeie dinge doen, jy kan goeie dinge doen, maar saam kan ons wonderlike dinge doen!

Sinergie is om die verskille te waardeer, om dit te respekteer, om op sterk punte voort te bou en om vir swakhede te vergoed. Dit is om te besef dat die meeste mense nie die wêreld sien soos dit is nie, maar soos hulle is.

As ons saamstem, kan ons saamstaan

Sinergie kan jou soveel verder vat as wat jy op jou eie kan gaan, maar dit het ook ’n negatiewe dimensie. Daar is ’n wêreld wat bestaan in vrees en daar is ’n wêreld wat bestaan in geloof.

As jy vrees ondersteun, dan word vrees groter.

Wees daarom versigtig waarmee jy saamstem. Byvoorbeeld as jou kinders sê: “Ons is in ’n moeilike tyd” en jy stem saam, dan word dit realiteit. Stem eerder saam oor die positiewe, opbouende dinge. Stem saam oor geloof. Stem saam oor verbeelding.

Maar as iemand van jou verskil, moenie net aanvaar dat hulle verkeerd is nie. Sê eerder: “Jy het ’n ander mening. Jy kyk vanuit ’n ander perspektief na dinge. Help my om te verstaan hoe jy dit sien.”

Die hegste span in jou lewe is jou gesin. Leer om saam te staan as ’n span. Mag julle gesamentlik effek ’n wonderlike geheel oplewer.

– JANNIE PUTTER, Leierskaps-en persoonlike ontwikkeling

Vorige artikelVashti Prins: “Ek is so dankbaar vir elke oomblik”
Volgende artikelHOE OM … verandering makliker te maak