‘Dankbaar vir die voorreg om ma te wees’

82

NADIA BEUKES erken dat ma–wees kom met baie uitdagings en dat dit haar soms onderkry. Maar selfs in die moeilikste tye, is sy dankbaar vir die voorreg om ’n ouer te kan wees.

Niks kan jou ooit regtig op ouerskap voorberei nie.
Een oomblik is jy nog ʼn individu, wat keuses vir jouself en jou man maak, en die volgende word julle behoeftes opsy geskuif om plek vir iets groters te maak.

Maar al word jou hele bestaan op sy kop gedraai, is daar min dinge wat so bevredigend is om ’n ma te wees, en dit is iets wat jy moet koester.

Dit is oukei om die lewe rustiger te benader.
Ek is iemand wat voluit gaan vir my doelwitte en drome en hard werk om dit ’n realiteit te maak.

Die koms van my kinders het my bewus gemaak van die seisoene van my lewe en hoe belangrik dit is om die meeste van elkeen te maak.

Hulle is net vir ’n rukkie klein; daarom is dit belangrik om op die hier en nou te konsentreer en nie op dit wat jy in die toekoms wil bereik nie.

Ek probeer om myself nie met anders ma’s te vergelyk nie.
Ek het begin fokus op dít wat ek binne my omstandighede, kapasiteit en kennis kan doen.

Ek het besef dat ouerskap nie ’n teks is wat ek onder die knie gaan kry nie.

Dit is ’n organiese en aanhoudende groeiproses, waardeur ek, Dave en die kinders gevorm gaan word. Hoewel dit nie altyd maklik is nie, is daar baie vreugde en oorwinnings in hierdie seisoen.

Ons hou aan om mekaar in ons huwelik te kies.
Dit is harde werk om mekaar steeds ’n prioriteit te maak binne die warboel van ouerskap en die aanpassings wat daarmee gepaard gaan.

Gelukkig kon ons, met die ondersteuning van ’n besonderse groep mense, staande bly en aanhou moeite doen om mekaar eerste te stel.

Ek hoop dit is iets wat ons kinders by ons sal leer … Om nie sommer net op te gee nie, veral nie op die mense vir wie jy lief is nie.

Jy het sakke vol geduld nodig om ’n ma te wees.
My kinders is besig en avontuurlustig en elkeen het sy eie wil en oortuigings.

Hulle is daagliks besig om grense te verskuif en vir iemand soos ek, wat hou van struktuur, roetine, skoon klere en netheid, is dit ’n groot skuif uit my gemaksone.

My gesin is die grootste avontuur van my lewe en ek is elke dag dankbaar vir hierdie lewenslustige manne (Dave ingesluit) wat dinge interessant en opwindend hou.

Stel jouself ook soms eerste in jou gesin.
Die soeke na balans tussen die verskillende aspekte van my lewe is ’n aanhoudende proses wat ek nog geensins bemeester het nie.

Hoewel my gesin eerste kom, het ek besef dat ek myself ook deur dit als ’n prioriteit moet maak.

Soos hulle sê: “You cannot pour from an empty cup” en ek hou my koppie vol deur mooi na myself te probeer kyk en te oefen.

My kinders moenie bang wees om groot te droom nie.
Daar is baie goed wat ek graag vir my kinders wil leer, soos goeie maniere en eetgewoontes, maar om groot te droom en hard te werk om hulle doelwitte te bereik, is die belangrikste.

Daarmee saam is goedhartigheid teenoor ander en teenoor hulleself, met God as anker, vir my van die noodsaaklikste beginsels wat in hulle harte moet posvat.

Vorige artikel‘Ek is wie ek is…en dis goed so’
Volgende artikel[VIDEO] Gesonde verhoudings gee sin aan jou lewe