Dis hoekom ek soggens opstaan

246
Anna Davel

Anna Davel staan elke dag op om al die nuwe geleenthede wat na haar kant toe kom, aan te gryp. Elke nuwe ervaring help haar om te groei.

Wat my in die môre laat opstaan, is dat iemand ’n konsert bespreek het. Dat ’n organiseerder genoeg vertroue in jou gehad het en dat iemand kaartjies gekoop het en jou musiek ondersteun. Dis die wete dat ’n mens ’n verskil kan maak of dat die lewe betekenis het. Sommige dae is dit maklik om met ’n gejubel uit die bed te spring. Ander dae kos dit ’n bietjie meer selfdissipline en wilskrag

Mense se goedkeuring of kritiek raak my tog. Dit loop nie soos water van ’n eend se rug af nie, maar dit is belangrik om te luister, al is kritiek soms moeilik om te hoor. Mense praat van ’n blinde kol, wanneer ons nie bewus is van sekere foute nie. ’n Paar mense het my al waardevolle terugvoering gegee. Wanneer dit duidelik is dat mense wil help, gebruik ek dit en waardeer dit, want dit laat my groei.

Beide kritiek en goedkeuring kan egter gevaarlik wees. Opinies verskil. As dit jou maatstaf vir optrede word, kan dit op die ou einde tot ’n baie wispelturige en frustrerende lewe lei. Mense se opinies het dikwels meer te doen met hulle eie stories en hoe hulle die wêreld ervaar. Dis nie altyd ’n goeie weerspieëling van die een wat hulle kritiseer nie. Ek probeer om nie een van die twee té persoonlik op te neem nie, maar om eerder ’n balans te vind.

Die een ding wat soos werk voel en waarna ek nie baie uitsien nie, is die administrasiewerk. As ’n onafhanklike kunstenaar, sonder ’n platemaatskappy, het ek nie ’n persoon wat die besprekings kan behartig nie. Dit moet baie lekker wees om iemand anders te hê wat kontrakte kan invul, padkaarte kan soek en die kommunikasie kan hanteer. Dit is alles baie belangrik, maar dit neem baie tyd in beslag.
My vorige pogings om bestuurders aan te stel, was geweldig frustrerend. Daar was nog nie iemand wat my gemaklik genoeg laat voel het om alles aan hulle oor te laat nie “om net te sê: “Doen jy alles, laat weet my net waar en hoe laat die konsert begin.” Dit is vir my belangrik om in beheer te wees en te weet wat aangaan. Dit gaan soms ’n bietjie rof, maar om alles self te doen lei tot ’n rustige nag met die wete dat alles gedoen is soos ek daarvan hou.

Waardes is dit wat ons persoonlikheid skep, wat bepaal wat vir ons belangrik is en wat nie. Dit het ’n groot invloed op etiese besluitneming en hoe en hoekom iemand doen wat hulle doen. Baie daarvan word onbewustelik by ons in gesement as kinders. Die wortels van hoe jy dink oor geld, oor werk en oor die lewe in die algemeen lê in jou kindertyd.

Daarom moet jy gereeld die waardes agter jou besluite en aksies heroorweeg, want daardie waardes is nie noodwendig gesond nie. Jy het dalk as kind geleer dat dit nie ’n ordentlike meisie betaam om te sê wanneer sy ongelukkig is nie en glo dit nou onbewustelik. Of jou kinderdae in ’n arm huis maak finansiële sekuriteit so ’n groot prioriteit dat dit jou hele lewe oorneem.

Vroeër was daar vir my niks beter as die sorgvrye vreugde om ’n liedjie te kan skryf nie. Dit was nie nodig om my te bekommer oor of dit opgeneem gaan word of gaan verkoop nie; daar was net my kreatiewe vryheid. Toe my loopbaan momentum begin kry, was dit wonderlik hoe baie geleenthede en nuwe ervarings opgeduik het. Ek was egter steeds nie baie strategies ingestel of op die langtermyngevolge gefokus nie. Nou is ek baie meer analities en oorweeg ’n besluit en die redes daarvoor beter.

Dit is my doelwit om te groei, as kunstenaar en as mens. Op die ou einde is dit waaroor alles gaan: om ’n beter, wyser en interessanter mens te word. Om te ontwikkel deur nuwe mense te ontmoet en nuwe dinge te ervaar, wat tot meer empatie met ander mense sal lei. Selfs al is dit iets wat jou dalk ’n bietjie bang maak, maar tog jou wêreld verruim. Solank dit jou besluite dryf, sal jy die lewe in al sy rykheid ervaar en eendag jou oë met ’n glimlag toemaak.

Vorige artikelMichael Mol: Wat ek geleer het …
Volgende artikelDít inspireer my! (Demi Lee Moore)