Dit is belangrik om altyd op te staan

255

Ruhan Du Toit is bekend vir sy besonderse sangtalent en veral sy vertolking van The Sound of Silence. Hy glo dat ’n mens ongeag struikelblokke nooit moet gaan lê nie en altyd moet kies om wéér op te staan.

Leef met ’n brandende passie en moenie bang wees nie.

Die dag wat ek besluit het om sonder vrees vir mislukking te leef, het ek waarlik begin leef.

As ’n mens in iets glo en voel dat dit wat jy doen goed genoeg is; dat dit iets is om op trots te wees en ander kan verryk, moet daar niks in jou pad staan nie.

Elke dag, elke mislukking, die hele lewe is ’n kans om te groei en ’n verskil te maak. Die lewe se klappe moet jou nie terughou nie.

Toewyding is vir my ’n lewenswyse – al is dit nie maklik nie.

Sonder om te weet wat vir ons wag, het ek en my broer besluit om sak en pak van Port Elizabeth af Pretoria toe te trek. Ons wou voltyds musiek maak, maar het nie eens die regte musiek in gedagte gehad nie.

Ons het ’n groot kans gewaag en dit het uitgewerk … Natuurlik nie sonder om foute te maak nie. Só het ek geleer om nooit te huiwer nie, want dan
begin ’n mens op die agtervoet.

Waag dit om oor te begin en in die liefde te glo.

Om lief te hê, kan ’n fout wees, maar dit kan ook die moeite werd wees.

Ek het die valskermsprong geneem en my valskerm het oopgemaak. My landing was sag en vandag is ek glad nie spyt nie, maar baie geseënd.

Liefde werk nie altyd uit nie. Ek dink dis iets wat baie min mense kan sê – dat hulle werklik ’n lewensmaat het waarmee hulle alles kan deel.

’Ek vrees die verveling wat gepaard gaan met nie leer nie en nie kanse waag nie.

Dis nie verkeerd om die veilige roete te neem nie, daar is baie mense wat van daardie soort stabiliteit hou.

Ek dink al waarom jy dink die veilige roete is die vervelige roete, is bloot omdat jy nie die ou vir die veilige roete is nie.

Uit die aard van die saak, werk dit nie vir my nie. My loopbaan en lewenswyse laat dit nie toe nie.

Deur kanse te vat, leer ’n mens baie van jouself.

Elke keer as jy uit jou gemaksone beweeg, betree jy ’n wêreld wat jy nog nie ken nie. Daar gaan goed gebeur wat jy nie gesien kom het nie.

Dis hóé ’n mens die onbekende hanteer wat jou karakter versterk en jou menswees vorm.

Jy gaan foute maak, maar dis hoe jy dit regmaak, moed hou en aanhou. Dit is hoe elkeen aan hulle menswees skaaf en skuur. Dit is hoe ek myself leer ken het.

Die grootste mislukking is om nie te probeer nie.

Sodra ’n mens iets vind wat jy graag wil doen, moet jy volhard.

Op die oomblik mag jy dalk bang wees, maar sodra jy dit waag om waarlik te leef, om lief te hê, in jouself te glo, foute te maak en verantwoordelikheid te neem, gaan jy die opwindende avontuur, naamlik die lewe toelaat om jou hart aan die brand te steek.

Soms moet jy net geloof hê en ’n kans waag – selfs as jou binnegoed bewe!

Vorige artikelVerloor natuurlik gewig
Volgende artikelGee jou gesondheid ’n ekstra hupstoot