Jy moet die groter prentjie sien

194

Daniel Strauss leef voluit en sien elke dag as ’n leergeleentheid. Hy is ’n entrepreneur wat in ander belê en het ’n spesifieke manier van dink. Dis ook waaroor sy eerste boek handel.

Te veel mense wag tevergeefs vir hulle skip om te kom. Hulle raak moedeloos wanneer ’n beter lewe nooit opdaag nie. Ek het al geleer, sukses kom nie sommer toevallig nie. Jy moet iets dóén. Belangriker nog – jy moet op die regte manier dink. Dan kan jy sorg vir almal vir wie jy omgee. As ’n man en ’n pa werk ek juis om in my vrou en kinders se behoeftes te voorsien.

Soos almal, het ek drome.

Van jongs af wonder ek hoekom so min mense dit regkry om hulle drome te verwesenlik.

Ná ’n paar jaar van werk, reis, leer en diep dink, het ek besef dat daar in die sakewêreld sekere dinge is waarvan gewone mense, selfs hardwerkende entrepreneurs, nie weet nie.

Hulle weet nie eens dat daar reëls en beginsels is wat jou kanse op sukses dramaties kan verbeter indien jy dit toepas nie.

Kry die regte mentor en leer so by die beste.

Ek het by miljardêrs gaan kersopsteek – mense wat in hulle leeftyd groot besighede gebou het. Hulle het almal iets in gemeen. Nie net rou ambisie nie, maar ’n manier van dink.

Dis wat hulle in staat stel om hulle drome te bewaarheid. Vandag se suksesvolle entrepreneurs was nie altyd ryk nie. Hulle het iewers begin. Hulle dink langtermyn; sien dinge wat ander miskyk. Hulle strewe, met geduld, na iets groter. Met die regte denkwyse kan meer mense van hulle besighede en lewens ’n sukses maak.

Ek het besef dat harde werk nie genoeg is nie.

Jou ingesteldheid moet reg wees en jy moet sekere beginsels toepas. Dit is wat ek vir die entrepreneurs, in wie se besighede ek belê, leer. Vandag ken ek finansiële gemoedsrus: leef met minder as wat jy verdien, sodat jy geld het om terug te gee en te belê vir die toekoms.

Ek wil graag hê meer mense moet dit ervaar.

’n Boek vir my seuns en alle mense met drome.

Ek het my boek, Dink soos ’n miljardêr, aan my seuns opgedra. My pad was nie maklik nie, maar hulle kan ’n beter lewensreis hê – een van voortdurende groei en voortuitgang.

Ek wens dit vir almal toe. Om sukses te bereik, maar nie te weet hoe dit gebeur het nie, is ’n hol ervaring. Dis eintlik sleg vir jou. Dink hoe dit moet voel as jy heeltyd bekommerd is dat jy dit wat jy het, kan verloor.

Daarom moet jy wéét hoe om ’n besigheid te bou en op die regte manier dink, sodat jy dit enige tyd kan herhaal.

Leef in dankbaarheid.

Ek het geleer om nie blindelings te belê nie. Kyk eers mooi waarin jy betrokke raak. Moenie sommer kritiek lewer nie. Wag en verstaan eers. Moenie net opgee nie; probeer eers behoorlik. En moenie alles vir jouself hou nie; gee!

My mentor het my die grootste les geleer – die les van eerste vrugte. Die eerste tiende van my persoonlike inkomste is die Here s’n. Dit gaan vir goeie werk.

Vorige artikel[VIDEO] In stil–wees is antwoorde en lesse
Volgende artikel“Verlamming het my van ’n afgrond gered”