Om getrou te wees aan jouself

256

Angelique Gerber glo dat jy ander kan verryk deur jouself te wees. In haar wêreld moet sy die rol van ma, huweliksmaat en beroepsvrou aanneem, maar sy bly getrou aan haarself.

Baie mense, indien nie almal nie, sukkel om getrou aan hulleself te wees. Of dit nou is as gevolg van verwagtinge, onsekerheid, vrees vir verandering of duisend ander redes.
Die wêreld is vol vooropgestelde idees oor mense. Ek ontmoet kort-kort vroue wat suksesvol en sterk is. In die verlede het ek myself dikwels met hulle vergelyk.

Om getrou aan myself te wees, is ’n persoonlike keuse.

Daar is soveel dele van ’n mens wat verander wanneer jy begin werk, trou en kinders kry.

Die samelewing plaas baie druk op vroue om perfek te wees.

Die waarheid is dat baie dit nie aldag regkry nie. Die dae wat vroue dit wel regkry, is hulle doodmoeg … Te moeg om sag te praat as hulle eintlik wil skree, te moeg om maskara aan te sit en nice te wees en net moeg om moeg te wees.

Wanneer jy getrou aan jouself is, moet jy jouself toestemming gee om te rus, te herlaai en net asem te haal.

Ek het my sterk punte omhels en vrede met my beperkinge gemaak.

Soos baie ander vroue het ek met minderwaardigheid gesukkel. Juis oor die samelewing se vooropgestelde idees oor die perfekte ma of die perfekte vrou.

Ek het besef dat ek hartseer mag voel, moeg mag word en die masker kan afhaal.

My eie oortuigings en oorlewingsmetodes het die ware padkaart geword. Ek respekteer die opinies van ander, maar voldoen nie aan die stereotipes of die verwagtinge van ander nie.

Die rolle wat ek vervul definieer nie my menswees nie.

Vroue is ma’s, huweliksmaats, vriendinne en beroepsgedrewe, maar ons is geskep vir soveel meer.

Ek glo dat ons geskep is om van onsself vir ander te gee deur juis onsself te wees.

Vroue gee sonder voorbehoud. Hulle is lief, selfs al maak dit nie sin nie. Hulle fokus op hulle kinders se karakter, eerder as op hulle sukses en moedig hulle huweliksmaats aan om hulle drome te volg.

Ware diepte kan slegs gevind word as iemand werklik eg aan haarself is.

Ek moes myself van vooraf leer ken.

As ’n mens dinge doen wat nie eg is aan wie jy is nie of nie ’n weerspieëling van die ware jy is nie, voel ’n mens verward en ongelukkig.

Ek probeer nie meer om iemand anders se resies te hardloop nie. Ek is ek – die vrou wat God my gemaak het om te wees.

’n Mens verloor jouself so maklik in elke dag se verantwoordelikhede. Om elke dag voluit te leef is belangrik, maar jy moet rus.

Ek vind my rus by God. Hy hou my staande.

Om getrou aan myself te bly, is ’n saak van persoonlike eerlikheid.

Om getrou aan jouself te wees lei tot onafhanklikheid, vertroue, geluk en die vermoë om meer effektief te leef.

Dit gee my die gevoel van vervulling. Dan weet ek dat my beste genoeg is, al voldoen ek nie aan die samelewing se verwagtinge nie.

Dis iets wat ek moes leer deur opreg en oopkop te wees.

Dit beteken nie dat ’n mens onbedagsaam of minagtend teenoor ander is nie. Dit beteken net dat ander nie toegelaat word om jou menswees te definieer of besluite namens jou te neem nie.

Vorige artikelMites wat jou huwelik kan verwoes
Volgende artikel[PODSENDING] Gelowiges moet as één funksioneer