Ramey Short: “Hoop en liefde inspireer my”

128
Ramey Short

Hy is bekend vir sy rol in die sepie Binnelanders en spog ook met sy eerste solo– album. RAMEY SHORT is passievol oor dinge wat hom na aan die hart lê. Hy droom groot en gebruik hoop en liefde as boustene.

Niks in die lewe is verniet nie. En die lewe skuld jou eintlik niks.

As kind het ek elke dag gewonder hoekom ek nie ’n pappa en ’n mamma het nie. Waarom is ’n gesin my dan nie beskore nie?

Op ’n harde bedjie in die koue kamer van die kinderhuis het ek gelê en vir God gevra hoekom daar nie ’n mamma is wat my in die bed kan sit nie. ’n Mamma wat vir my kan sê dat sy lief is vir my, dat ek genoeg is en dat alles oukei gaan wees.

Ek het baie vrae gehad. Maar in dié skadutyd het ek geleer om die dinge wat nie verander kan word nie, te aanvaar. Ja, die lewe is bitter onregverdig, maar ek moes leer deur harde werk kan baie dinge verander.

Daar was nie tyd om stil te sit met my stert tussen my bene nie. Slegs met ’n ruggraat en deursettingsvermoë kan ’n mens bo jou omstandighede uitstyg. En dis presies wat gebeur het.

Die besluit was myne. Om ’n slagoffer van my omstandighede te word of om toe te laat dat die lewe my onderkry, was nie ’n opsie nie.

Daar was iets beter vir my daar buite. Maar die feit dat ek baie harder as ’n “normale kind” moes werk, het my nie ontgaan nie. Elke geleentheid om te groei was ’n tree nader aan die persoon wat ek wou word.

Sonder enige leiding en ondersteuning moes ek diep delf, hoop en liefde vind en natuurlik ook vergewe.

My drome het waar geword, maar steeds bly ek nederig en dankbaar, want dit kan enige tyd van my af weggeneem word.

Die lewe is ’n geskenk, al dink jy dat jou lewe in bruinpapier of net in ’n stukkie koerantpapier toegedraai is. Dit bly steeds ’n voorreg om te leef.

My talente en die geleenthede wat na my kant toe gekom het, het my laat besef daar is meer daar buite … Ek mag hoop.

Dus het ek besluit om myself lief te hê en op te tree asof my lewe goed is.

Daar was ’n dringendheid om my drome waar te maak. Dit het al hoe meer en meer in my kop begin raas … Ek moes daarna luister.

Al kon ’n mamma nooit vir my sê dat alles oukei gaan wees nie, wil ek vandag vir ander sê dat alles oukei gaan wees.

Daar is steeds baie wat ek wil bereik. Die droom om oorsee te toer en foto’s te neem – dalk ’n wêreldbekende fotograaf te word. Dit sal wonderlik wees.

Om aanhangers se harte met my musiek aan te raak, is ’n droom wat van kleins af al in my leef. Ek moes myself leer om nie bang te wees om in myself te glo nie.

Rek of vrek, ek sal nie gaan lê nie. Hoop en liefde is in die donkerste tye aan my gestuur en ek sal dit gebruik om voort te gaan om te bou aan my doel in hierdie lewe