’n Nuwe jy in 30 dae

718

Hoe kry jy dit reg om gewig te verloor, mooi te lyk en positief te dink? Hier is jou beste, praktiese raad. ONS VRA DIE KENNERS …

Die regte motivering is nodig vir ’n verandering

Die motivering agter jou behoefte om gewig te verloor sal bepaal of jy gaan volhard of nie. As pyn jou motiveer, gaan dit oor die ontevredenheid oor jou voorkoms, die ongemak om oorgewig te wees. As plesier jou motiveer, dan val die fokus op hoe goed dit jou oor jouself laat voel. Hoeveel meer energie jy gaan hê. Onthou, dit bly jou keuse. As jy gedwing voel, verloor die motivering sy krag. Sorg dat jou motivering van binne kom en nie van buite op jou afgedwing word nie. Jou kop en hart moet reg ingestel wees!

Kry beheer oor jou emosies vir meer energie

As ’n mens goed voel, sien jy vir enigiets kans; as jy depressief voel, is jy moeg en lus vir niks. Jou emosies is deel van ’n sterk chemiese proses en kos het ’n groot invloed op dié chemiese reaksie. Wanneer jy bewus word van jou emosies, kan jy dit beheer en nie andersom nie. Dit sal ook wys wat aanleiding tot ’n spesifieke emosie gegee het. Onthou, gevoelens verander die hele tyd. Iemand maak dalk ’n aanmerking oor jou gewig en jy voel sleg. Net daarna sê jou man jy lyk mooi en dan voel jy goed!

Verstaan dat cravings iets oor jou verhouding met kos sê

Jy dink jy kan nie vir versoekings nee sê nie en dink dis as gevolg van te min wilskrag. Daar is dalk ’n ander rede. Hoekom daardie craving vir sjokolade? Dalk het jy ’n emosionele verhouding met kos en gebruik dit om jouself te troos. In plaas daarvan om aan jou mislukkings te dink, skryf eerder al die suksesse neer. Ja, jy het dalk ’n sjokolade verorber, maar wat van die gesonde ontbyt van vroeër? Moenie dat een fout jou hele dag bederf nie. Jy doen soveel ander dinge reg.

Moenie dat die skaal jou spoed breek nie

Baie vroue voel teleurgesteld oor die hoeveelheid gewig wat hulle in ’n week verloor. Die meeste mense hou nie by hulle eetplan nie, omdat hulle terugslae beleef en dan moed verloor. Onthou dat elke bietjie vet wat jy afskud tot die totale som bydra. Die gewig wat jy verloor het, is suiwer vet wat verbrand is. Kitsdiëte wys dalk vinniger resultate, maar eintlik het jy niks meer verloor as water en spiermassa nie. Dit lyk dalk of jy nie regtig vorder nie, maar jy is steeds beter af as aan die begin.

Wees geduldig en praat mooi met jouself

Die manier waarop jy met jouself praat, vind meestal onbewustelik plaas en is die produk van jare lange programmering. Raak bewus van al die negatiewe goed wat jy vir jouself oor jou dieet, kos en voorkoms sê. Skryf elke oggend iets positiefs neer om deur die dag te lees en te herhaal. Dit is ’n feit dat ’n mens jou emosionele en fisieke obsessies en bekommernisse tien keer vergroot. Niks is ooit so erg soos wat jy dit voorstel om te wees nie. Dit het baie moed geverg om ’n nuwe leefstyl aan te pak. Wens jouself geluk.

SKRYF IN vir ons AANLYN KURSUS
(vir jou foon, tablet en rekenaar)

’n NUWE jy
Amanda Kuit, Linda Kriel en ander, aanlyn kursus
R159 R199
leesleerleef.co.za