Afskeid ná die dood van ’n geliefde

63

Een trauma wat niemand gespaar word nie is om geliefdes aan die dood af te staan. Soms kom mense nooit oor die verskriklike hartseer wat hierop volg nie.

Daar is heelwat navorsing gedoen oor die sogenaamde fases van rou waardeur ’n mens beweeg. Sommige terapeute beweer dit is normaal om ná die skok van die nuus hierdeur te gaan. Van ontkenning, onderhandeling, woede of depressie tot die aanvaarding en uiteindelike integrasie van ’n nuwe identiteit.

Mense glo dat jy gehelp moet word om van die geliefde afskeid te neem. Jy moet deur die fases werk en dan aangaan met jou lewe.

Dokter Michael White was ’n bekende sielkundige wat narratiewe terapie ontwikkel het. Hy het bevind dat hierdie gedwonge afskeid mense hartseer en troosteloos laat en dat dit eintlik heeltemal onnodig is.

Sy uitgangspunt was dat jy nooit afskeid hoef te neem van die herinnering van die persoon en die verhouding wat jy met hom of haar gehad het nie. Daardie nalatenskap mag maar vir altyd deel van jou lewe bly.

Jy hoef nie totsiens te sê en net met die seer saam te lewe nie. Jy mag maar aan hulle dink. Die goeie dinge en tye onthou. En as jy lus het om te huil, is dit ook oukei. Die mooi herinneringe gaan lê in jou selle en word saam met jou oud.

– Lynette Beer, verhoudingskenner

Vorige artikelPetronelle Ebersöhn: “Om te koop het ’n verslawing geraak”
Volgende artikel[BYBELTEMA] Jy is hier vir ’n rede

1 boodskap

  1. ja dit is so waar!! Almal se altyd dis maar die lewe mens moet maar aanbeweeeg wat sal mens maak? Maar daar is mense wat voel hulle kannie sonder daardie persoon leef nie…..so dis goed om te hoor dat hulle maar deel kan wees van jou lewe …..