Dis gesond om hardop te lag

51

Die mens is bedraad vir humor. Dis ’n basiese behoefte. Lag is noodsaaklik vir ons fisieke en emosionele gesondheid, ons gemoed en ons oorlewing.

Lag betrek die hele brein. Wanneer iemand ’n grap vertel, interpreteer jou linkerbrein die woorde en struktuur van die grap, terwyl jou regterbrein vir jou sê of dit snaaks is of nie.

Jou brein kry die opdrag om meer endorfiene of goedvoelhormone vry te stel en verminder die produksie van streshormone soos kortisol en adrenalien. (Selfs wanneer jy kunsmatig of geoefend lag!) Dis ook goed vir jou immuunstelsel omdat dit help om teenliggaampies te produseer.

Dis bewys dat die serotonien wat deur lag vrygestel word, dieselfde chemiese uitwerking op jou gestel het as antidepressante.

Lag is aansteeklik. Het julle al gewonder waarom ’n mens so lekker kuier wanneer daar gelag word? Die wetenskaplikes sê dat die endorfiene wat deur een persoon vrygestel word, die res van die groep kan aansteek. Hierdie kettingreaksie sorg vir ’n gevoel van saam-wees en veiligheid – en dis waarom dit vriendelikheid, omgee en vriendskap bevorder.

–Lynette Beer, verhoudingskenner

Vorige artikelBesluiteloosheid kan jou van sukses ontneem
Volgende artikelLeah: “Dis lekker om net myself te wees”