Het jy deernis met jouself?

85

Moegheid is nie ’n siekte nie, maar ’n simptoom. As dit korttermyn-uitputting is, is daar nie rede tot kommer nie. Maar wanneer uitputting chronies word, is dit tyd om die oorsaak te soek.

Die Groot Moeg. Wanneer jy tam wakker word of in die middel van die dag nie meer ’n druppel energie oor het nie.

Partykeer is dit te verstane, soos ná ’n siekte, baie laat aande of iets soos ’n eksamen. Soms lê die rede by ons leefstyl. Die vier energie-diewe wat bydra tot voortdurende moegheid is eetgewoontes, te min oefening, stres en slaappatrone.

Eet jy te veel kitskos en te min vars groente, vrugte en gesonde proteïne? Miskien drink jy te veel koffie om wakker te bly of glase wyn om te ontspan.

As jy ’n roker is, rook jy dalk meer as voorheen. Of jou suikergebruik het toegeneem. Al hierdie “sondes” kan tot jou lae energievlakke bydra.

Gesonde oefening is ’n uitstekende manier om energie te kry, al verg dit inspanning. Deur 30 minute per dag of ten minste drie keer per week te oefen, doen jy jou lyf – en veral jou kop – ’n yslike guns.

Stresbeheer is nie ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid vir oorlewing. Kry hulp of leer jouself hierdie belangrike vaardigheid as jy hoegenaamd met energie wil lewe!

– Lynette Beer, verhoudingskenner

Vorige artikelJy kan enkellopend én gelukkig wees
Volgende artikelLindie Strydom: “Moet nie dink my lewe is perfek nie”