Cordelia: “Ek moes leer om grense te stel”

1223

Die sangeres CORDELIA is nie net entoesiasties oor haar sangloopbaan nie, maar ook ywerig om ander te help … Maar eers moes sy haar eie grense ontdek.

Die lewe is nie ’n groentjieskonsert nie. Vernedering, verwerping en seer wou my onderkry. Maar ek het besef dat ander se opinies nie my behoud in hierdie lewe is nie … dat ek myself genoeg tyd mag gee om te treur … My geluk is my verantwoordelikheid.

Die lewe bring soms baie seer. Twyfel het kruisbeen in my hart kom sit. Tyd genees nie alle wonde nie, en ’n mens moet ’n keuse maak om aan te gaan … Ek moes leer om vir myself goedkeuring te gee om waarlik gelukkig te wees.

Dis nie waar dat slegs volmaakte mense gebruik kan word om ’n verskil in hierdie wêreld te maak nie. Die waarheid lê in my onvolmaakte lewe – in my oomblik as ’n verlepte ster.

Tydens hartverskeurende oomblikke het my grense my menswees omvou – nie net met geloof en dapperheid nie … maar met duidelike mure waarbinne ek veilig gevoel het. My grense het my broosheid in vreesloosheid verander.

As aanneemkind het die gevoel van verwerping my gereeld afgetrek – ongeag my wonderlike aanneemouers.

Ek moes my fisieke, emosionele en geestelike beperkings leer ken, besin oor watter dinge ek kan toelaat en aanvaar en watter dinge my senuweeagtig laat voel.

My pa is deur ’n dronkbestuurder doodgery. Ek het my trane met ’n glimlag probeer versmoor, maar ook om hartseer en kwaad te wees, is deel van die genesingsproses. Dit was nodig om myself die tyd te gun om innerlik gesond te word en dan waarlik te vergewe.

Uit die aard van my beroep kruis afbrekende mense soms my pad. Dit is daarom belangrik dat ’n mens nie sommer enigeen in jou lewe toelaat nie. Dus het my grense hekkies. Mense wat opbouend is en dieselfde waardes as ek deel, is welkom om ’n pad saam met my te stap.

Ek kyk nie na die lewe deur ’n strooitjie nie, maar verkies om na die hele prentjie te kyk. My hede en verlede het my geleer wat my ongemaklik laat voel, wanneer om “ja” te sê, maar ook wanneer om “nee” te sê – sonder om skuldig te voel.

As sangeres moes ek oor leer om binne sekere lyne te beweeg. My drome het beslis vlerke, maar ek weet hoe hóóg ek mag vlieg. Soms moet ’n mens net oorgee en vertrou – veral as dit voel asof ’n mens uit ’n oliesee probeer opvlieg.

Ons fokus is dikwels gemik op liefde, behulpsaamheid en vrygewigheid. Dan sien ons nie meer ons eie grense en beperkinge raak nie. ’n Mens is in beheer van jou grense en ja, dit kan geskuif word. Dit is my behoud in my persoonlike, sosiale en professionele lewe.

Om myself eerste te stel, beteken nie dat ek liefdeloos is nie. Inteendeel, dit gee my krag, innerlike rustigheid en hoop. Ek is baie meer teenwoordig en dáár vir ander.

As ek self op ’n veilige plek is, kan ek ’n beter vrou en vriendin wees en ’n beter ma vir my seuntjie.

My grenslyn definieer wie ek is en ook wie ek nié is nie. Dit is die ontmoetingspunt van selfrespek en selfliefde.