Elke vrou wil gesond wees én mooi lyk

228

Dis maklik om in swak gewoontes vas te val. Deur meer bewustelik te leef, ontdek jy wat jou motiveer én terughou sodat jy beter keuses maak. Dink, voel en leef beter met dié raad!

Van tyd tot tyd moet ons bestekopname doen. Selfs al het jy die beste jaar nog, is daar altyd iets wat beter kan wees. Wat het gewerk? En wat het nie so goed gewerk nie?

Sê nou daar was iets wat jou brein skerper kon maak, stres kon verlaag en jou bui kon verbeter? En dit sonder enige newe-effekte.

Hierdie juweel is nou in jou hande, sonder om daarvoor tou te staan of internettoegang te hê.

Mindfulness is om elke oomblik bewus te wees van jou gedagtes, gevoelens en sensasies. Om te weet watter dinge jou dryf, motiveer, of groei blokkeer.

Met oefening sal jy besef hoe jou gedagtes, gevoelens en sensasies mekaar en die manier waarop jy die wêreld ervaar, beïnvloed.

Aanvanklik is dit vreemd. Ons gedagtes is gewoond daaraan om te dwaal. Jy sal geneig wees om by een gedagte of gevoel vas te steek, en dit soos voorheen te analiseer.

Natuurlik is dit soms nodig. Maar jy moet ook bloot net in die oomblik kan wees. Sonder om meegesleur te word deur gedagtes of gevoelens wat skade kan aanrig as jy te lank daaraan vasklou.

Die enigste plek waar jy kan wees, is die hier en die nou. Natuurlik moet jy beplan vir die toekoms en lesse leer uit die verlede, maar daar moet ’n balans wees.

Hoe meer jy oefen, hoe makliker sal dit wees om jou aandag te fokus daar waar jy dit wil hê, eerder as waarheen dit outomaties gaan.

Dink anders en wees ’n pragtige, sprankelende vrou!

Het jy al gewonder hoekom party mense jonger lyk en ander ouer as wat hulle werklik is? Wat is die geheim?

In 1981 is ’n interessante gevallestudie gedoen met ’n groep van agt mans tussen die ouderdomme van 70 en 80 jaar. Hulle is op ’n vyfdag-wegbreek geneem.

Tydens die wegbreek moes hulle hulleself verbeel dat hulle 22 jaar jonger was.

Die omgewing is so uitgelê dat alles gelyk het soos toeka. Daar was ou tydskrifte en koerante om deur te blaai. Hulle het na televisieprogramme van ouds gekyk en oor die radio na Nat King Cole geluister.

Ná die vyf dae het die navorsers verskeie toetse gedoen en dit vergelyk met die resultate van voor die studie begin het. Wat hulle gevind het, was ongelooflik.

Die mans se liggame was sterker. Hulle gewrigte was meer buigsaam en hulle vingers was langer as gevolg van artritis wat verdwyn het.

Hulle sig en gehoor het verbeter. Hulle geheue het ook verbeter. Die mans het in werklikheid in dié vyf dae fisiek jonger geword.

Hoe is dit moontlik? Die hoofrede is dat ons gedagtes glad nie kan onderskei tussen die werklikheid en dit wat ons in ons gedagtes verbeel (sien) nie. Daarom word ons gespanne wanneer ons aan ’n moeilike situasie dink.

Die mans se brein kon nie onderskei of hulle werklik jonger was en of hulle hulle dit slegs verbeel het nie.

Daarom het hulle liggame sekere gene weer “aangeskakel” wat oor die jare afgeskakel is, en hulle dus werklik jonger gemaak.

Dis so belangrik om bewus te wees van jou denke en wat jy van jouself dink. Wanneer jy in die spieël kyk, wat sê jy? Miskien: “Sjoe, maar jy word oud!” “Kyk net al die plooie”, “Ek is vet”, “Ek is lelik.” Of sê jy: “Ek lyk goed vir my ouderdom”, “Ek is mal oor my lyf.”

Die beste skoonheidsbehandeling is jou gedagtes. Maak seker jy gebruik net die beste, mooiste, positiefste “produkte” om jouself van binne na buite jonk te maak.

Hierdie is die sleutel om sprankelend en vol selfvertroue te voel. Dit begin binne en as jy die basiese beginsel regkry, kom die uiterlike vanself.

Jy skep jou lewe deur wat jy oor jouself glo, dink en spreek. So, wees bewus van jou gedagtes en selfgesprek.

Meditasie kry jou liggaam in harmonie met jou kop

Jou gedagtes kan so maklik ’n rigting inskiet wat nie altyd positief is nie en kan lei tot onvergenoegdheid of negatiwiteit. Fokus eerder op alles wat mooi is en waarvoor jy alles dankbaar moet wees.

Hierdie bewustheid moet doelbewus wees. Dit is die vermoë om met ’n absolute deernis bewus te word van alles wat om ons aangaan.

Die kraan wat drup. Die hond wat blaf. Die ketel wat kook. Die luier van die motor se enjin. Die gevoel van die sagte mat onder jou kaal voete.

Meditasie kan die beste geskenk wees wat jy vir jouself kan gee! Wanneer jou liggaam in harmonie is met jou kop, het jy dalk binnekort nie meer pynpille vir skete en kwale nodig nie.

God verwag van ons om doelbewus stil te raak en op Hom te fokus. Om te mediteer oor Sy goedheid.

Hy verwag ook dat ons asemhaal, so wees ’n bobaasasemhaler! ’n Mens sou dink dat asemhaling tog natuurlik kom, ons doen dit dan sonder om te probeer. Soos jy hierdie lees, is dit nie ’n bewustelike poging van jou kant af nie.

Maar wat as jy nou net hier stop om te lees. Haal. Asem. Haal diep asem en hou dit vir 2 lang sekondes in, en blaas doelbewus en stadig vir 4 sekondes uit.

Die voordele van diep asemhaling is legio! Ons senuweestelsel is so geskape om ons te help om ons angsvlak in stresvolle situasies te beheer deur diep en stadig asem te haal. Die longe raak sommer ontslae van afvalstowwe, fisiek én emosioneel!

Net 10 minute se meditasie daagliks help jou om meer gefokus te wees en minder stres te ervaar. As dit vir jou ’n nuutjie is, begin met net vyf minute op ’n slag.

Meditasie gee jou klein rusperiodes wat voordelig is vir die genesing van jou emosies en liggaam. Jy sal sommer veiliger en sterker voel.

Maak dit deel van jou oggend- en aandroetine. Terwyl jy jou vogroom aanwend, haal diep asem en sê mooi goed vir jou plooie! Dink hoe ferm, glad en plomp jou vel voel. Hoe jeugdig jou vel gloei.

Jy sal voel hoe hierdie mooi woorde binnetoe vloei en deur elke sel van jou wese spoel. Jou selle sal reageer op dit wat jy vir hulle fluister en jy sal die mooi uitstraal. Dis beter as Botox!

Moenie toelaat dat die wêreld jou vrede steel nie

Wanneer jy by ’n kosmetiekwinkel instap, sien jy advertensies soos die volgende: Droom jou drome, onverganklike skoonheid, ’n glimlag vir ’n leeftyd, naakte skoonheid, foutlose afwerking.

Hoekom stoei ons altyd om goed te lyk aan die buitekant, maar vergeet van dit wat in die hart aangaan? Die wêreld wil jou laat glo dat mense jou nie sien vir wie en wat jy is nie.

Wanneer iets in jou lewe verkeerd gaan, voel jy skaam en verneder.

Die pynlike gevoel van vernedering laat jou glo dat dit wat binne-in jou geplant is, nie goed genoeg is nie. Ons soek altyd ons identiteit in die uiterlike en glo dit gee vir ons waarde.

Die wêreld skep soveel verwagtinge dat dit vir ons moeilik is om onsself te beskerm. Ons moet onsself konstant herinner, woorde dra krag.

Ons kan vrygemaak word van skaamte en spanning en ’n diep, onskatbare sin van waarde en skoonheid kry.

Hierdie woorde verskil nie veel van dié in die kosmetiese gange s’n nie, maar het ’n totaal ander betekenis.

Leef jou drome. Nie die drome waarvan in ’n winkel gepraat word nie, maar die droom wat in jou kern geanker is. Leef dit met integriteit en hoop.

Skoonheid is feilbaar en verganklik. Fokus dus eerder op ’n onfeilbare gees.

Al het jy die mooiste mond en tande, sonder lewensvreugde wat uit jou oë straal, is jou glimlag dood. Dit sal beslis nie ’n leeftyd hou nie.

Die wêreld wil jou stroop en skaam maak oor wie jy is. Haal jou oogklappe af. Kyk wat aangaan. Wees kwesbaar, maar beskerm jou hart teen ’n harde en gewetenlose wêreld. Onderskei wie jy is, leef vreesloos en volhard.

Om foutloos te wees is ’n mensgemaakte illusie, ’n verwagting oor hoe jy moet wees en optree. Foutloosheid en perfeksie bestaan nie.

Die manier om uit te staan, is deur ’n beter weergawe van jouself te wees.

Jy word ouer. Jy kry plooie, wangetjies wat hang en dunner lippies. Jeug vergaan, maar deug bly staan. Jou siel is tydloos.

Speel en lag en gebruik die tyd wat jy hier op aarde gegun word ten volle. Bewaar jouself van ’n verouderde gees deur genade en wysheid.

Jy, liewe vrou, is vreesloos en wonderbaarlik in die moederskoot geweef. Moenie toelaat dat spanning en skaamte jou innerlike vrede verwoes en jou uiterlike skoonheid vernietig nie.

Motiveer jouself met nuwe, goeie gewoontes

Motivering is ’n mite. ’n Muse ook. Talle skrywers sê as hulle vir die muse moes wag om hulle te inspireer om te skryf, sou hulle vir ewig gewag het.

Motivering werk dieselfde. Iemand wat lyk asof hulle altyd gemotiveerd is, het maar net van goeie gewoontes ’n roetine gemaak.

Roetine raak later ’n leefstyl. Dit is tog ’n gesonde leefstyl waarna ons streef wat op lang termyn volhoubaar is.

Die “hoekom” is altyd belangriker as die “hoe”. Want met ’n goeie “hoekom” is die “hoe” slegs in die detail.

’n Goeie idee is om jou “hoekom” sigbaar te maak. Dit kan ’n visuele bord wees met foto’s van jou familie. Dit kan ’n brief aan jouself wees waarin jy jou doelwitte vaspen en kort-kort weer kan gaan lees.

Dit moet egter tasbaar wees. Dit moet jou terugneem na die oomblik toe jy besluit het om die arena te betree. En dit moet jou ’n visie en hoop vir die volgende stap gee.

Is jy vasgevang in ’n ou roetine van slegte gewoontes? Begin deur eerlik te wees en te vergeet hoe jy gedink het dinge moet wees.

Begin jou gesonde roetine deur elke oggend op te staan en een ding anders te doen om jouself te motiveer.

Luister na jou gunstelingmusiek, dit is soos kos vir die siel. Sing sommer kliphard saam. Of lees ’n bladsy uit ’n motiverende boek. Enigiets wat vir jou werk en die stemming vir die dag bepaal. Dit laat jou bewus raak van die nuwe rigting wat jy wil inslaan.

Moenie wag vir Maandag nie, begin dit net doen. Dis die sleutel tot enige leefstyl-verandering – om net te begin en jou verskonings by die deur te los.

Daar sal goeie en slegte dae kom. Druk net deur en onthou hoekom jy die besluit geneem het. Stel jou doelwitte en doen die aksie met intensie.

Eet die olifant stuk vir stuk, want jy kan nie ’n olifant heel insluk nie. Klein treetjies is die geheim. Sodra jou oggendroetine gevestig is, kan jy met die volgende deeltjie van jou dag begin.

Onthou jy verdien ook geluk. Hou op verskonings maak en wag vir die regte tyd of geleentheid. Jou geluk is jou verantwoordelikheid. Begin klein, maar begin vandag nog.

Fokus op die positiewe dinge en die lewe is mooier

Dis so ’n lekker breek van die realiteit om net voor jou uit te staar en aan niks te dink nie. Dan is daar iemand wat haar vingers voor jou klap en sê: “Hallo.” Die oomblik is verby.

Jy moes al seker een keer in jou lewe gewonder het waaraan iemand dink, wanneer hulle so in die verte tuur. Hulle dink aan niks! Dit is slegs jou brein se natuurlike manier om inligting te prosesseer.

Dink aan ’n gebeurtenis in jou lewe wat jou ontstel het. Miskien iemand wat jou afgebreek het of jou in jouself laat twyfel het.

Let op waarheen jou oë dwaal wanneer jy daaraan dink. Miskien dwaal jou oë na regs onder. Kan jy agterkom hoe duidelik die prentjie in jou gedagtes is? Dis kompleet asof jy dit weer herleef. Kyk nou in die teenoorgestelde rigting en skielik verdwyn die prentjie!

Dit waarop jy fokus, aktiveer jou brein. Dit is so moeilik om jou fokus te draai na ’n nuwe roetine of ’n nuwe leefstyl, veral as daar nie dadelik resultate is nie. Die eerste keer wat jy ’n hobbel in die pad sien, verloor jy fokus.

Hier is raad. Jy gaan nie glo hoe eenvoudig dit is nie. Wanneer so ’n negatiewe gedagte opduik, kyk weg! Jy hoef letterlik net in ’n ander rigting te kyk.

Onthou, waar jou gedagtes gaan, daar volg jou fokus. Daarom is dit so belangrik om positief te dink.

Kom ek wys vir jou hoe kragtig dit is. Kyk vir vyf sekondes in die vertrek rond en memoriseer alles wat rooi is. Wanneer die tyd verby is, kyk weer terug en lees die volgende sin.

Noudat jy alles gememoriseer het wat rooi is, wat het jy gesien wat pers is?

Jy kan maar erken dat jy niks ander kleure raakgesien het nie. Sodra jy op een ding fokus, is die res nie van toepassing nie. Daar was dalk tien of vyftien ander kleure in die vertrek, maar jy het net die rooi raakgesien.

Nou wat dink jy gebeur as jy op die negatiewe fokus? Vir seker is die positiewe nie van toepassing nie. Ons is geneig om meer op die dorings te fokus, as op die rose in ons lewens.

Wanneer jy môreoggend opstaan, met deurmekaar hare en ’n asem wat ’n muur kan vlek – kyk in die spieël en sê: “Ek is ’n stukkie wonderwerk!”

Wees lief vir jouself en ervaar minder stres

Het jy al in die slaggat geval wat dink dat dit selfsugtig is om jouself eerste te stel? Gee jy te veel van jouself vir ander en noem dit “onselfsugtigheid”?

’n Vrou wat haarself ’n prioriteit maak, is nie selfsugtig nie, maar handhaaf ’n gesonde balans. Selfsorg beteken dat jy jou eie behoeftes én die van ander belangrik ag en dienooreenkomstig optree.

Dikwels is selfsorg die laagste op die prioriteitslys en die eerste ding wat opsy geskuif word. Daar is baie verskonings. Jy is te besig, of reeds oorlaai met ’n stresvolle werk, of die kinders vat al jou tyd. Miskien is jy selfs onbewustelik verslaaf aan tegnologie.

Ander vroue sê weer dat hulle skuldig voel om tyd vir hulleself te neem en die gesin op hulle eie te los.

Navorsing het egter gewys dat wanneer selfsorg met bedoeling en konsekwentheid toegepas word, dit baie voordele vir ons welstand inhou.

Beter produktiwiteit, motivering en konsentrasie, beter streshantering en minder angstigheid, minder frustrasie en aggressie en meer volhoubare energie. Al hierdie dinge bevorder jou immuniteit en algehele gesondheid.

Daarmee saam bring selfsorg en die trek van grense ’n gesonder verhouding met jouself. En dra by tot ’n beter selfbeeld. Met selfliefde as basis kan so iemand weer vir ander liefde gee en diensbaar wees.

Om gesond te leef, vereis ’n gebalanseerde lewe. Balans help ons om ten volle teenwoordig en betrokke te wees by die dinge wat ons doen, sonder skuldgevoelens.

Dit bring ’n bewustheid en begrip van wat ons nodig het en watter grense in plek moet wees.

Grense gee vir ons sekuriteit. Soos ons gemakliker raak daarmee, voel ons meer geborge. Daaruit vloei selfliefde en respek.

Leer om “nee” te sê. Dit vereis dat jy eerlik moet wees oor jou gevoelens, verantwoordelikhede en tyd, en kweek selfrespek en respek vir ander.

Wees kieskeurig oor die mense in jou lewe saam met wie jy tyd spandeer en maak seker dat hulle jou opbou en nie afbreek nie.

Wanneer jy jouself afskeep, is dit soos om melk te probeer skink uit ’n leë melkbeker. Jy het niks oor om vir ander te gee nie en jy raak uitgebrand, angstig en depressief.

Onthou, selfsorg lyk nie vir almal dieselfde nie. Raak stil en ondersoek jou gewoontes en leefstyl. Identifiseer wat dit is wat jy kan doen om jouself te versorg en maak dit ’n daaglikse prioriteit.

Maak jou drome konkreet en prakties

Ons ken almal daardie gevoel wanneer die wekker in die oggend afgaan en jy weet dis tyd om op te staan. Daar is so baie dinge om vandag te doen. Maar dit is veel lekkerder om net die snoozeknoppie te druk, die kombers oor jou kop te trek en nog ’n bietjie langer te lê.

Die vraag is, hoe kom jy uit hierdie bose kringloop om ’n beter jy – meer produktief en positief – te wees?

Dit help om iets tasbaars te hê waar jy met een oogopslag kan sien wat die groter prentjie van jou lewe is. As jy weet hoe vandag daarby kan inpas, sal jy ook meer gemotiveerd wees om aan die gang te kom.

’n Lekker praktiese oefening om jou te help om te fokus op wat regtig belangrik is, is ’n visiebord. In plaas van vae stellings en gedagtes, kry iets konkreet om jou drome te anker.

Kry ’n paar tydskrifte en knip prente en woorde uit wat met jou hart praat. Of druk mooi foto’s uit wat jy met jou selfoon geneem het. Plak dit op ’n stuk karton of papier wat jy selfs kan raam as jy wil.

Hierdie aktiwiteit dwing jou om bewustelik te dink aan wat vir jou belangrik is en waarnatoe jy met jou lewe mik.

Hang dit iewers waar jy elke dag daarteen kan vaskyk en kan sien waarnatoe jy op pad is.

Dit sal jou help om te fokus op wat nou belangrik is en om makliker “nee” te sê vir dié dinge wat onnodige tyd steel.

Skryf kort en kragtige “Ek is”-stellings neer. Onthou, woorde dra krag. Dit kan sinne wees soos: “Ek is vriendelik”, “Ek is produktief”, “Ek is fiks”, “Ek is gesond”, “Ek is uniek”.

Hou dit lekker kort sodat jy dit maklik kan onthou. Skryf of tik dit op mooi papier en steek dit ook teen jou visiebord vas.

Elke keer as daardie negatiewe selfpraatjies weer wil opduik, vervang dit dadelik met hierdie stellings. Hoe meer jy dit doen, hoe beter sal jy daarmee word.

Regdeur die dag, terwyl jy bene rek of ’n koppie tee geniet, kan jy voor die bord gaan staan. So kan jy net weer fokus en kyk of jy nog op koers is na die eindpunt.

Hou dit lewendig en vars. Elke jaar of ses maande kan jy jou bord weer opkikker met nuwe drome soos jy vorder en groei.

Vorige artikelBestuur só jou uitgawes slimmer
Volgende artikel“Sukses gebore uit moeilike omstandighede”