Geluk lê nie in besittings of prestasies nie

122

As geluk jou hoofdoelwit is, sal jy dit nooit behaal nie.

In ’n studie is bevind dat hoe groter klem mense op geluk geplaas het, hoe minder gelukkig was hulle.

Tydens ’n vraelys het hulle gesê dat hulle 50% minder positiewe emosies gehad het, 35% minder tevrede was en 75% meer depressief as mense met ander prioriteite.

Skrywers, wetenskaplikes, terapeute en mediapersoonlikhede beklemtoon die belangrikheid van geluk en plaas direk of indirek druk op ons om gelukkig te moet wees.

Maar waarom koop mense dan meer as een boek oor geluk? Waarom drink al hoe meer mense anti-depressante?

Dink wat jy op jou grafsteen wil hê: Hier lê so-en-so, ’n vrou wat ten alle koste probeer gelukkig wees het. Of: Hier lê so-en-so, ’n vrou wat daarna gestreef het om ’n goeie vrou, ma en vriendin te wees, en probeer het om die wêreld ’n beter plek te maak.

Hopelik die laaste een. Wees in die oomblik. Spandeer jou tyd aan dit wat werklik saak maak. Voor jy weet, is jy outomaties gelukkig.

Neuro-wetenskaplikes het bewys dat dit mense gelukkiger maak om geld op ander te spandeer as op hullesef.

Studies toon dat wanneer ons geld weggee, is ons meer vergenoegd met wat ons het. En as ons meegevoel toon, voel dit of ons meer tyd het…

As jy al iemand gehelp het, sal jy weet dat daardie satisfaksie ver meer is as besittings of sukses. Dis op ’n heel ander vlak.

Luister opreg en probeer om werklik te hóór

As jy die kuns bemeester het om fyn te luister en waarlik te hoor, sal jou mense geliefd voel. Dit sal jou ook gelukkig maak!

Daar was nog nooit soveel maniere om met mekaar te kommunikeer soos vandag nie. Niemand hoef meer van aangesig tot aangesig te sit en praat nie.

Dit het net so maklik geword om voor jou skerm te sit en vinnig iets te vra of te sê. Dit is presies hoe ’n mens sommige verhoudings kan definieer – plat, sonder enige diepte of emosie.

Ek het onlangs ná ’n klein geselligheid besef hoe mense bo-oor mekaar se koppe kommunikeer.

Gesprekke was eensydig en niemand het regtig heeltemal na ’n ander persoon se storie geluister nie. Dit was asof almal gelyktydig en sommer net oor hulleself gepraat het.

Ons almal behoort te besluit om werklik en bewustelik te begin luister. Na jou man, kinders, familie en vriende. Dit skep ’n verbintenis met daardie persoon.

Dit verg konsentrasie om werklik met jou hele wese te kan luister, maar met gereelde oefening word dit ’n goeie gewoonte.

God het ons twee ore en een mond gegee, met goeie rede. Ons moet twee keer soveel luister as wat ons praat.

Om dit te kan doen moet jy bereid wees om jou kosbare tyd te gee. Die grootste geskenk wat jy vir iemand kan gee – jou tyd en aandag – kan ’n mens nie met geld koop nie. Daardeur word gesonde verhoudings gebou en voel mense geliefd.

Ek stem saam met Bryant H. McGill. Hy het gesê een van die mees opregte vorme van respek is om aandagtig te luister na wat ’n ander persoon te sê het.

– Annarie Hugo

Wees bly saam met ander en deel hulle vreugde

Die lewe sou ’n baie beter plek wees indien almal mekaar se blydskap kon deel. In plaas daarvan om jaloers te voel. Jou beurt kom!

Jou baas roep jou in. Jy wag in spanning om te hoor of jou aansoek vir bevordering suksesvol was. Jy het mos hieroor gebid. Dit is ’n uitgemaakte saak. Hierdie pos is joune!

Terwyl jy wag kom nog ’n kollega ingestap. Jy wonder nog wat aangaan toe jou baas haar naam lees en voorstel as die nuwe persoon aan wie jy nou moet rapporteer.

Of… Jou kinders is deel van ’n saamryklub. Dit is die laaste dag van die kwartaal en almal klim opgewonde in die motor.

Skielik basuin jou vriendin se kind dit uit dat hy eerste in die klas staan. Jy weet hoeveel tyd jy saam met jou kind spandeer het aan die eksamen. Maar jy weet ook dat jou kind akademies nie so goed presteer nie.

Tydens sulke situasies is jou eerste reaksie nie altyd om bly te wees oor die ander persoon se geluk nie.

Dit beteken nie dat jy moet opspring en juig nie. Dit beteken wel dat jou optrede die ware vrugte van die gees in jou lewe moet weerspieël.

Kyk ’n bietjie na jou lewe op ’n ander manier. Daar is dalk heelwat seëninge wat jy as vanselfsprekend aanvaar.

Hy sal op die regte tyd vir jou gee wat Hy spesiaal net vir jou beplan het. Wees intussen bly vir ander, want binnekort verwag jy hulle moet bly wees vir jou.

Die geheim om gelukkig te wees, is om te aanvaar waar jy in die lewe is en die beste te maak van elke dag.

–Arlene Brink

Om te gee maak jou régtig gelukkig

Fokus op maniere om waarde toe te voeg tot iemand se lewe. So sal jou geluk al groter word en ’n diep vrede jou hart volmaak.

Ons lewe in ’n gejaagde wêreld. ’n Wêreld waar ons net vir onsself bymekaar wil maak om so geluk te soek. Maar is geluk nie om eerder my buurman te ken nie? Of om die pyn op my kollega se gesig te sien as sy die oggend langs my inskuif nie?

Die Here Jesus leer ons ’n groot waarheid in Handelinge 20:35 as Hy sê: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Om elke dag waarlik geluk te ervaar, moet jy jou hart verander van ’n ontvang-ingesteldheid na ’n gee-ingesteldheid. Begin om jou glimlag, jou tyd, jou trots, jou geduld te gee.

Hoe voller jou beker word, hoe meer kan dit oorloop na ander toe.

Gee beteken nie groot en waardevolle dinge nie. Gee is ’n opregte glimlag vir die kassier by die winkeltoonbank en ’n kompliment vir jou kollega, al voel jy terneergedruk. Dis wonderlike terapie vir jou slegte gemoedstoestand.

Fokus op die gemeenskap waarin jy is. Op koue wintersaande sal die petroljoggies by jou naaste vulstasie ’n warm beker koffie oneindig waardeer. Doen dan sommer dieselfde vir die sekuriteitswagte by jou kompleks.

So ’n koffie-uitdeel aktiwiteit kan soveel meer pret wees as jou Bybelstudiegroep of vriendekring dit saam kan doen. Dit lei dan weer na heerlike saamgesels en nuwe planne beraam vir die volgende aksie.

Moenie ’n dag langer mors nie. Raak kreatief en begin gee. Onthou, wat jy saai sal jy ook maai.

– Benette Rautenbach

Bid vir iemand wat in jou gedagtes opkom

Wanneer jy uit die bloute aan iemand dink, bid vir haar. Dit skep ’n oop kanaal vir Hom om haar én vir jou te seën.

’n Onwillekeurige skreeu skeur deur my keel toe ek die bolle rook en rooi-woedende gloed sien. Die berg brand!

“Ontruim!” roep ’n buurman in die verbyhardloop. Nóg ’n kar trek weg. Dit voel onwerklik. Maar daar’s nie tyd vir talm nie. Vannag beter jy raak gryp. Papiere. ID- dokument.

Dan staan hy in my deur. Soos ’n wafferse engel. Hy het deur die nag geswot en uit die bloute aan my gedink.

Toe hy later deur die venster kyk en die gloed aan die anderkant van die stad sien, het hy net geweet hy moet kom. Wat ’n vriend in nood!

Dis selfone, die verkeer, skedules. Jy wat tuis moet bontstaan om almal gebad, gevoed en tot ruste te kry. En soms kry jy daardie dae waar dit voel asof alles net te veel raak.

Dan piep jou foon. ’n Vriendin wat vra: “Hoe gaan dit? Het vandag aan jou gedink. Iets waarvoor ek kan bid?” Net daar word dit bevestig dat jy wél die appel van Sy oog is. Hy het nie van jou vergeet nie.

Hierdie voorvalle van amperse telepatie maak heeltemal sin as ’n mens besef dieselfde Gees wat in Hom is, is ook in elkeen van ons. Daar staan immers geskrywe dat die Heilige Gees vir ons intree by die Vader.

As ek deesdae onverwags aan iemand dink, vra ek Hom om my te lei sodat ek sal weet hoe om vir haar te bid. Toets later om te sien hoe God beweeg.

– Hanri Platzoeder

’n Goeie daad laat jou ook goed voel

Goeie dade maak nie net ’n verskil aan die mense rondom jou nie, maar dit laat jou ook goed voel! Dit maak van jou ’n beter mens.

Goeie dade kry jou nie in die hemel nie maar wys Sy liefde aan ander. Die meeste mense wil graag ander help of ’n verskil maak. Hulle weet egter nie altyd hoe of waar om te begin of betrokke te raak nie.

Om goed te doen, hoef jou nie noodwendig geld te kos nie. Jy kan by liefdadigheid betrokke raak – dit is makliker as wat jy dink. Nie-bederfbare kos is altyd welkom.

Besluit om elke dag ’n verskil in ten minste een persoon se lewe te maak. Jy kan dit op baie maniere doen. Deur vriendelik te wees. ’n Opregte kompliment te gee. Te luister, bedagsaam te wees, geduldig te wees of iemand anders se behoefte bo jou eie te stel.

’n Goeie daad is nie net om ’n verskil te maak in ander mense se lewens nie. Dis ook om iets vir die omgewing en diere te doen.

As plastiekbesoedeling jou pla, kan jy ’n verskil maak deur klein te begin. Neem byvoorbeeld jou eie sakke saam winkel toe. Of dra ’n herwinbare sakkie, wat meer as een keer gebruik kan word, in jou handsak.

In jou klein wêreldjie kan elke bietjie help om ’n positiewe uitkoms te verseker. Wat laat jou beter voel as om te weet jou goeie daad kan help om die planeet te red?

Ek kan nie agteroor sit en wag dat iemand anders iets daaromtrent doen nie. Ek moet eienaarskap neem en self die probleem aanspreek. Jy moet die rede wees dat iemand glo in die goedheid van mense!

– Judy van Vreden

Wees gasvry en bederf ’n slag iemand anders

Dit maak nie saak hoe jou huis lyk of watter teekoppies jy gebruik nie. Wanneer jy gasvry is en iemand bederf, word jou gees ryker.

Wanneer laas het jy ’n vriendin of twee oorgenooi en hulle net bederf? Gasvryheid is liefde in aksie. Dit gaan oor die rykdom van jou hart en nie jou woonplek nie.

Om iemand oor te nooi beteken jy maak jou huis vir iemand oop, op dieselfde manier as wat jy jou hart oopmaak.

Daar is vele skrifgedeeltes wat handel oor gasvryheid en die belangrikheid daarvan, soos Hebreërs 13:2: “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.”

Voel jy eensaam of alleen? Nooi dan iemand oor of bederf iemand anders. Dis beter om te gee as om te neem.

Ware gasvryheid is wanneer iemand by jou weggaan en beter oor hulleself voel. Dit gaan oor jou hart en nie groot etes of die perfekte huis nie. Dit gaan daaroor om jou lewe met ander te deel.

Soos Jenn Wilken gesê het: “Entertaining seeks to impress, hospitality seeks to bless.”

Mense stel belang in jou hart en aandag, nie in watter breekware of linne jy gebruik nie. Gee die beste van jouself vir ander. Om ten volle teenwoordig te wees in die oomblik is beter as om perfek te probeer wees.

Nooi ’n vriendin oor en bederf haar. Nie om vir haar te wys wie jy is nie, maar om vir haar te wys wie sy in Christus is. Maak jou hart en jou huis oop vir ander, bederf hulle en sien hoe word jou gees daardeur bederf.

– Leani van Niekerk

Gee ’n kompliment en oes self geluk

Komplimenteer iemand en toets hoe jy na die tyd voel. As jy elke dag positiewe woorde saai, sal jy dit ook in jou eie lewe ervaar.

Dit het my nie verbaas dat my liefdestaal opbouende woorde is nie. Dit beteken die wêreld vir my wanneer iemand my komplimenteer oor my musiek, voorkoms of stem. Baie meer as wat hulle dink.

Dit maak egter ook diep seer wanneer iemand iets negatiefs of leliks kwytraak. Dit gaan sit in my agterkop, en begin soos ’n wond net groter en slegter raak.

Ons almal verskil en kan maklik met oogklappe deur die lewe gaan. Onbewus van wat die mense om jou laat tick en wat hulle ook ongelooflik seer kan maak.

Ek het ’n punt daarvan begin maak om mense op te bou. Nie net om te dink dat ’n vriendin mooi lyk vandag nie, maar om dit vir haar te sê!

Dink bietjie daaroor. Wanneer ons ’n slegte ervaring by ’n restaurant het, is ons vinnig om te kla of ons vriende daarvan te vertel. Wanneer ons dit regtig geniet het, vergeet ons vinnig daarvan en laat niemand weet nie.

Dis makliker om die negatiewe te sien en lelik van iemand te praat. Terwyl ons soms geen idee het waardeur daardie persoon was of hoekom die persoon so is nie. Ons skinder al te maklik en dit laat ons partykeer selfs beter voel oor onsself.

Toe ek die besluit gemaak het om mense op te bou, en hulle mooi aspekte te komplimenteer, het my eie hart begin verander. Dit was nie meer so lekker om te skinder nie. Ek het begin skuldig voel wanneer ek iets negatiefs oor iemand sê.

– Lindi Delport

Praat oor jou ervaring van seerkry

Om oor jou pyn te praat kan vir jou, net soos vir iemand anders, perspektief gee en genesing bring. Dis nét wat julle albei nodig het!

Enige lewensveranderende ervaring bly uniek. Al kan dit ingedeel word onder vaste hofies. Soos genesing na ernstige siekte, herstel na depressie, verwerking van seksuele aanranding, kindermishandeling, emosionele aftakeling, egskeiding of die dood van ’n geliefde.

Nie twee persone se ervaring sal ooit dieselfde wees nie.

Indien jy na so ’n ervaring weer jou kop kon optel en met selfvertroue aangaan met jou lewe, kan dit vir iemand wat nog nie op daardie punt is nie, waardevol wees. Veral die manier hoe jy die ervaring verwerk het en daaruit kon groei en leer.

Dit kan duidelikheid bring en rigting gee aan ’n ander persoon se lewe. Of die “iets” wees wat nodig is om haar hart oop te maak om vir die eerste keer te hoop. Of om weer te hoop.

Dit bring mense bymekaar met soortgelyke omstandighede en bied die geleentheid vir vergifnis aan iemand wat hom- of haarself nie kan vergewe nie.

Wanneer jy jou ervaring deel, het dit die krag om die “stilte” vir die ander persoon te verbreek en hindernisse te oorkom. So kan daardie persoon sy of haar lewe in perspektief plaas deur jou ervaring.

Deel jou ervaring sodat jy ander kan inspireer, bemoedig, bemagtig en verryk. Maak ook ’n punt daarvan om aandagtig na die persoon met wie jy praat se storie te luister sonder om te oordeel. Help die persoon om sy of haar vrese te oorkom en sodoende die situasie beter te kan hanteer.

– Mariëtte Viljoen

Maak iemand bly deur liefde uit te deel

Jy het die vermoë om iemand anders se lewe, en jou eie, te verander met vyf eenvoudige woordjies. “Ek is lief vir jou.” Eenvoudig, maar kragtig.

Dat ek vir my kinders lief is, twyfel nie een van ons nie. Maar hoe verduidelik jy vir iemand wat dit beteken? Is dit ’n gevoel? Is dit iets wat jy is of doen?

Dis nie die klein dingetjies nie, nog minder die groot goed. Dis in die opofferings wat jy maak al is jy glad nie lus nie. Dit is hoe jy liefde wys. Maar hoe voel liefde?

Soms is dit oorweldigend, soms maak dit seer. Soms is dit ’n besluit.

My jongste het uitbundig gelag en vinnig en selfvoldaan gesê: “Liefde is drukkies en soentjies.”

My prinses het ’n bietjie langer daaroor gedink en toe saggies geglimlag: “Jy maak my hartjie bly, Mamma.” In die onskuld van ’n suigeling het sy net daar en dan die spyker op die kop geslaan.

Al is ek vir jou kwaad, al irriteer jy my, al voel ek moedeloos, as ek oor jou dink, maak jy my hartjie bly. Ek sal enigiets doen om joune ook so te laat voel. Dit maak my hartjie bly dat jy in my lewe is en vir my is jy baie spesiaal, presies net soos jy is.

Weet en onthou dat jy, net soos jy is, iemand anders se dag kan opbeur en se hart verbly. Of dit nou ’n vriendin of familielid is. So sal bitter min dinge in die lewe jou vir lank onderkry.

Moenie meer stilbly nie. Vertel vandag en elke dag daarna vir iemand jy is lief vir hulle. Sê die woorde hard en duidelik en sonder skaamte. Maar meer nog, wýs dit. Wys dat hulle jou bly maak en dat jy hulle vir niks in die wêreld sal verruil nie.

– Marteli Brewis

’n Opregte groet maak die dag mooier

Neem ’n oomblik om te glimlag en iemand op die naam te groet. Dis so klein, maar het die potensiaal om julle albei gelukkiger te maak.

Ek kyk in verwondering na die vrou met die versteende frons voor my. Skielik blom sy soos ’n roos. Weg is die frons, haar oë straal. Sy sit nou glimlaggend by haar kasregister en groet vriendelik.

Nee, ek het nie vir haar geld gegee of vir haar ’n koeldrank gekoop nie. Ek het haar maar net gegroet. Régtig gegroet. En haar opreg ’n lekker dag toegewens.

Elke persoon wat oor jou pad kom, is jou naaste. Die man by die petrolpomp, die vrou by die betaalpunt, en selfs die bedelaar langs jou motorruit. Elke persoon wat “maar net ’n deel van jou dag” vorm is ’n mens wat nes jy drome, wense, seerkry en teleurstellings ervaar.

Naasteliefde is nie ’n gevoel nie, maar ’n aksie. Om ander te behandel soos wat ek graag behandel wil word.

Die lewe kan ’n eensame stryd wees. Ons bly in ons eie boksie waar ons al so gewoond geraak het om alleen met ons probleme en oplossings te sukkel.

God begeer ’n lewe waar ons óp en úít leef! Op, met ons gedagtes gefokus op Sy stem, en uit na ander om ons.

Lewe op en uit en neem ’n sekonde om te vra: As dit ek was wat nou die petrol in die motor moes gooi, wat sou ek waardeer? ’n Glimlag? Dat iemand my naam vra? Dit is gewoonlik so eenvoudig soos belangstelling.

Kyk na die naamplaatjie en groet vandag ’n vreemdeling. Fokus om vandag óp en úít te leef.

– Melanie Jacobs