Hoe jy opstaan, is wat saak maak

110

Niemand gaan deur die lewe sonder teleurstelling en terugslae nie. Kenners soos Gustav Gous, Lynette Beer en Jannie Putter deel hulle resep om jou te help om teleurstellings, terugslae en mislukkings te verwerk.

Teleurstellings. Mislukkings. Terugslae. Niemand beplan daarvoor nie. ’n Atleet hardloop nie ’n resies om te verloor nie. ’n Entrepreneur beplan nie om bankrot te speel nie.

Soms werk ons hard vir die dinge waarin ons glo, maar die lewe draai anders uit. Hoe ver jy ook al gevorder het, jy kan altyd val. Dan voel jy om die handdoek in te gooi. Jy voel dis net nie die moeite werd om jou drome na te jaag nie.

En tog is daar positiewe dinge in terugslae versteek. Suksesvolle mense stem almal saam dat daar waarde in mislukking is.

Dit is ’n tydelike ompad, nie ’n doodloopstraat nie.

Gevoelens van pyn en twyfel is normaal, maar behoort jou nie te stop nie. Inteendeel, wanneer jy besef jy is teen die grond, is daar slegs een manier en dis om weer op te staan. Dis nie maklik nie en kan al jou energie kos. Maar dit kan gedoen word. En jy kan agterna sterker wees as voorheen.

Ons het elkeen al geval. Party van ons het die littekens om daarvoor te wys.

Jy is dalk afgedank en weet nie hoe om oor te begin nie. Of jy probeer met al jou mag om ’n nuwe werk te kry, sonder sukses.

’n Suksesvolle vrou word geken aan hoe sy negatiewe situasies hanteer. Jy mag jou wonde lek, maar bly op die baan en begin weer vir die volgende wedren opwarm.

Hier is voordele wat jou kan help om anders oor mislukking te dink.

Seerkry laat jou besef wie jou ware vriende is

As jy jou tyd en aandag bestee aan dit wat jy het, wat jy regkry, waarin jy suksesvol is, sal jy kan opstaan wanneer die lewe jou platloop.

En wat doen jy as jy nie weet watter kant toe nie? Vra hulp! Heel eerste by die Vader. Dan by die mense wat jy as mentors geïdentifiseer het.

Omring jou met mense wat jou motiveer en aanmoedig. Die mense in wie se geselskap jy elke dag verkeer, het ’n ontsaglike invloed op jou gemoedstoestand.

Agter elke suksesvolle atleet staan ’n span afrigters, motiveerders en borge. Om jou volle potensiaal te bereik, het jy ook ondersteuners nodig wat jou aanmoedig, reghelp en ophelp as jy dit die nodigste het.

Jou span bestaan uit jou vertrouelinge, hartsmense en geesgenote. Dis die mense na wie jy kan gaan vir onderskraging, raad en wysheid. Dié wat jy vertrou en na wie jy kan luister.

Om mislukkings te oorkom en sterk te staan, kan jy nie onnodige bagasie saamsleep nie. Jy sal jou tasse vol van gister se pyn en verwyte moet agterlaat. Die beste wat jy kan doen, is om die tasse oop te maak, die emosies daarin te bekyk en dan tot aksie oor te gaan.

Begin deur die bron van die kwaad te vind en dit te herken en te erken. Doen dan alles moontlik om daarvan te herstel. Vermy die pessimiste. Maak seker dat jy ’n ondersteuningsnetwerk opbou wat positief op jou lewe inwerk.

’n Mens maak talle onaangename gebeurtenisse in jou lewe bymekaar. Dit kleef aan jou soos mossels aan ’n skip se bodem. Om daarvan ontslae te raak moet jy elkeen wat jou leed aangedoen het, vryspreek, ongeag wat hulle gedoen het.

Vee elkeen se rekord skoon. Moenie vashou aan die pynlike herinneringe nie. Vergewe – nie omdat jy so voel nie, want jy sal nooit lus wees om iemand te vergewe nie. Vergewe sodat jou gedagtes skoon en vry kan word.

Neem doelbewus nuwe foto’s vir jou onderbewussyn. Spreek dié gedagteprentjies oor en oor uit. Só kan jou brein ’n nuwe pad volg oor wie jy is. Want dis hoe God jou eintlik bedoel het.

Dis nie altyd maklik om te luister, raad te vra of hulp te aanvaar nie. Tog is dit nodig om jou drome werklikheid te maak.

– Lynette Beer

Mislukking maak jou meer dankbaar vir sukses

Louis L’Amour beskryf in een van sy boeke ’n gesprek tussen ’n cowboy en ’n Indiaan. Die Indiaan sê vir die cowboy: “If I can ask God one last thing, I’ll ask Him to give me a big enemy.”

Die cowboy sê: “Big enemy? But a big enemy can kill you!” Die Indiaan antwoord: “Yes, I know, but without a big enemy I’ll grow fat and weak.”

Gaan jou lewe oor hoe “maklik” dinge vir jou is? Of is die rykdom van die lewe dalk eerder verskuil in uitdagings en hoe ons hulle oorkom?

Die wet van die natuur is: “Die sterkste sal bly leef.” Sukses is die uitvloeisel van terugslae wat oorkom is. Ware sukses is nie ’n resultaat nie, maar ’n manier van lewe.

Mislukking aan die ander kant is wel ’n keuse – die keuse om op te gee, in te gee en ’n slagoffer te word. Wanneer jy glo jy is ’n slagoffer is dit amper onmoontlik om jou te help.

Terugslae is in werklikheid geleenthede om in geloof op te staan en weer te begin. Hierdie keer met meer kennis en ervaring.

Om dit oor te doen vat guts. Maar die stories van mense wat ná terugslae opgestaan het, is die inspirasie vir nuwe generasies. Mislukking is ’n leerskool wat karakter bou. Mislukkings maak die soet smaak van wen lekker.

Ek vra dikwels vir kinders wat my kom sien: “Is jy bederf?” Hulle dink ’n oomblik en baie antwoord: “Nie regtig nie, maar ek kort niks.”

My antwoord verras hulle altyd: “Sjoe, gelukkig weet jy dit, want as jy nie geglo het dat jy meer as genoeg het nie, kan niemand jou help nie!” Iemand wat glo hy het te min, sal altyd ’n verskoning hê waarom hy kan misluk.

Ware sukses is nie ’n uitslag in ’n wedstryd of hoe stewig jou bankbalans is nie. Dit is ’n manier van leef. Dit is waagmoed om ongeag terugslae en teleurstellings weer te probeer.

As jy nog nie oorwinning op ’n bepaalde gebied gesmaak het nie, moet jy bloot nog kennis en ervaring opdoen. Dan is nog nie nou jou tyd nie, maar jou tyd sal kom.

Die kuns van die lewe is om elke golf wat jy kry, met ’n glimlag te ry al is dit nie perfek nie. Dis die golf van die oomblik, dit maak nie saak hoe dit lyk nie.

– Jannie Putter

Nederlae laat jou vaardighede ontdek waarvan jy nie geweet het nie

Gesindheid is een van die dinge wat jy kan beheer. Jy kan kies om ’n “slagoffer” of ’n “oorwinnaar” te wees. Slagoffers fokus op die dinge wat met hulle gebeur. Mense wat graag wil oorleef, fokus op hulle reaksie op dit wat gebeur.

Tussen die prikkel en die reaksie lê jou vryheid. Jy kan toelaat dat dit jou óf definieer, óf vernietig, óf sterker maak.

Probleme het nie respek vir rang, titel of posisie nie. Hulle tref alle mense op alle vlakke van die lewe. Vir baie beteken dit die eindfluitjie blaas en hulle voel verpletter, deels omdat hulle die verkeerde vrae vra.

Jy moet leer om bemagtigende vrae in krisistye te vra. Vra vrae soos: “Wat moet ek doen om te oorleef?” As jy vra: “Waarom ek?” wanneer jy gewond is, gaan jy jou doodbloei. As jy vra: “Wat nou?” sal jy na ’n plek van veiligheid en heling kan kruip.

Probeer altyd eers om voorbereid te wees vir enige gebeurlikheid (risikobestuur). Maar as al jou planne misluk, vra dan: “Hoe kan ek oorleef?” Ontgin die kragtige menslike wapen wat jy in jou het, naamlik om sin uit selfs ongelooflik sinlose situasies te skep.

Jy moet uit die rol van ’n slagoffer kan klim tot in die rol van ’n oorwinnaar. Ja, jy sal vrees goed ken, maar jy sal nogtans jou geloof kan behou. Daarom sal jou omstandighede jou beïnvloed, maar dit sal nooit jou lewe bepaal nie. Die meeste van die tyd fokus jy so op die krisis dat jy nooit besef daar kan ook iets goeds van kom nie. Dis reg, ’n krisis kan vir jou ’n geleentheid skep!

Wanneer jy dus in ’n probleemsituasie is, fokus eerder op die geleentheid en nie op die bedreiging nie.

Baie dinge wat met jou gebeur, voel so volkome sinloos. En tog, jy kan sin en betekenis kry deur die situasie in ’n persoonlike groeikans om te keer.

Vloei eerder saam met en benut die probleemsituasies in jou lewe – moenie dit weerstaan nie.

Jou lewe kry sin, nie deur dinge beter te verstaan nie, maar deur dinge anders te doen. Kom dus weer aan die gang, maar begin hierdie slag reg.

Kry ’n “begin met wat ek het”-gesindheid. Moenie wag vir beter dae of meer hulpbronne of tot alles perfek is nie. Dit gaan nie gebeur nie!

– Gustav Gous

Probleme gee jou ’n vars perspektief op die lewe

Jy word afgedank. Of jou maat wil skei. Teleurstellings is sleg, maar dit kan ook goed wees. Dit kan jou dwing om die waarheid te sien en die aanpassings te maak wat jy lankal moes maak.

Dalk het jy ’n werk gedoen wat jy verpes, omdat jy bang was jy faal met jou eie besigheid. Of jy was in ’n verhouding wat jy ontgroei het omdat jy nie alleen wou wees nie.

Nou is jou kans om bestekopname te doen en ’n nuwe rigting in te slaan. Jy kan dit op verskillende maniere doen.

Vra indringende vrae soos: Hoe voel dit as jou siel sing? Wat hou jou terug om te doen wat jy wil – tyd, geld, energie? Dink jy jy verdien dit nie of is jy bang jy faal? Doen jy dinge om ander tevrede te stel of omdat jy wonder wat hulle gaan dink?

Verander nou jou situasie, staak dinge wat nie positief bydra tot jou groei nie, of maak planne om dit te verander. Soms is die geringste stappie in ’n nuwe rigting genoeg vir ’n totale ommekeer.

Maar dis nie altyd moontlik of prakties nie. Skakel dan oor na die tweede rat, of ’n tweede keuse. Maak vrede met jou situasie. Spandeer jou energie op dinge wat jy wel kan verander. Doen meer dinge wat jy geniet en hou op kibbel oor die dele wat dalk nie so wonderlik is nie.

Soms is aanvaarding ook nie die oplossing nie. Dit kan sieldodend wees. Dis dan dat jou derde keuse oorbly: Verander jou perspektief. Begin anders oor die situasie dink, voel, praat. Benader dit anders.

Hoeveel keer kon jy al terugkyk op ’n veeleisende gebeurtenis, net om te besef dis die beste ding wat kon gebeur het? Ons grond gewoonlik ons perspektief (en dus ons denke en aksies) op wat in die verlede gebeur het. Ons kyk deur daardie lens wat reeds getint is.

Ervaring kan wysheid bring. Foute is uitstekende leermeesters, mits jy daaruit leer. Jy moet tot aksie oorgaan en daadwerklik dinge anders begin doen om nuwe deure oop te sluit. Doen dinge anders of doen ander dinge!

Jy het die vermoë om te doen wat jou siel laat sing. Om die lewe in die hoogs moontlike gees te ervaar, om vervuld te lewe.

Maar dit vereis ’n nuwe perspektief, hernude aksie, selfrespek en verantwoordelikheid vir jou eie welstand. Dit vereis ’n kopskuif.

– Celeste du Toit

Seerkry leer jou om ander te vergewe

Miskien is jy verpletter. Verloën deur iemand aan wie jy jou hart toevertrou het.

Hoe styg jy bo terugslae uit? Die sleutel tot sukses behels dat ons in ooreenstemming met God se wil lewe. En Sy wil is 70 maal 7. Van Jesus se laaste woorde voor die kruisiging was: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Lukas 23:34).

Hoekom is dit so moeilik om te vergewe?

Dalk is jy net nie gereed nie. Soms is ’n mens net so verwond dat jy tyd benodig om jou kop weer skoon te kry. Nie sodat jy kan tob oor wat gebeur het nie, maar om daadwerklik en doelgerig die pyn te verwerk.

Of dalk het jy ’n verwronge prentjie van vergifnis. Vergifnis verskoon nie die daad nie; ontken nie wat gebeur het of die erns daarvan nie.

Alles in die lewe verhandel teen iets anders. Jou keuse om aan woede en wrewel vas te klou, kan jou duur kos. Navorsing het getoon dat onvergewensgesindheid ’n risikofaktor vir hartsiektes, hoë bloeddruk, rugpyn, angs, depressie, slapeloosheid en ander chroniese siektes kan wees.

Wil jy regtig jou fisieke, emosionele of geestesgesondheid prysgee?

Vergifnis is ’n vaardigheid wat enigiemand kan aanleer. In die eerste plek, erken jy het seergekry. Erken wat gebeur het. Jy moet rou voor jy kan genees.

Skryf is ’n baie kragtige manier om jou emosies en negatiewe gedagtes te identifiseer. Belê in ’n joernaal en pen jou storie neer.

Empatie is om jouself in die ander persoon se skoene te plaas. Om te probeer verstaan waarom mense vernietigende dade pleeg, kan ons help om ’n herhaling van die seer te voorkom.

Hoe het die teleurstelling jou siening van die mensdom en jou vertroue in ander beïnvloed? Ondersoek jou standaarde ten opsigte van ander mense, en maak seker dat hulle nie te hoog of te laag gestel is nie.

Sodra jy gereed is, besluit dan om te vergewe. Vergifnis is ’n daad van genade teenoor iemand wat dit nie noodwendig verdien nie. Maak dit tasbaar, want so sal jy dit onthou. Skryf ’n nota vir jouself: Vandag het ek (die persoon se naam) vergewe dat hy my seergemaak het.

Laat vaar daardie gevoelens en gedagtes van wrewel, bitterheid, woede en die behoefte aan wraak en vergelding teenoor iemand wat jou ’n onreg aangedoen het. Dit geld ook vir jouself. Vergifnis maak vry!

– Ingrid Bell

Teleurstelling help jou om jou balans te herwin

Wanneer dinge skeefloop moet jy stop en vra: “Wat kan ek uit my foute leer? Wat moet ek anders doen of wat moet ek op dieselfde manier bly doen?” Ons moet kan droom of beplan vir dit wat ons graag in die toekoms sou wou doen of laat gebeur.

Wanneer jy te veel op die verlede of die toekoms fokus, kan dit lei tot angstigheid, bekommernis, skuldgevoelens of spyt.

Dit is veral omdat ons geneig is om verby ons positiewe emosies te kyk en ons negatiewe emosies te oorbeklemtoon.

Wat “tyd” betref, moet ons ook ’n mate van balans handhaaf. Balans tussen hoeveel ons onsself toelaat om in die verlede of die toekoms te lewe, ten koste van die hede.

Balans is moeilik, want ons sukkel om ten volle in die huidige oomblik te wees. Dit is asof ons onbewustelik glo dat die volgende oomblik belangriker of gelukkiger gaan wees.

Jy sal sê jy kan nie wag tot dit naweek is nie. Of dat die situasie verby is nie. Of vir die volgende vakansie nie. In die proses wens jy jou lewe verby!

Dit is omdat jy glo dat jy iewers in die toekoms daardie gevoel of plek gaan bereik waar alles goed gaan wees. Net om dan ontnugter te word en te besef daar is geen volmaakte oomblik, plek of gevoel nie.

Tensy jy doelbewus kies om positief te dink en jouself toe te laat om net te wees waar jy nou is, gaan jy nie positiewe emosies ervaar nie. En kan jy nie ten volle in die oomblik lewe nie.

Balans beteken dus om kortliks aandag te gee aan die verlede en die toekoms, maar dan voluit te leef en te beleef waar jy nou is. Dit is die enigste plek waar jy die vermoë het om ’n verskil te maak.

Deur in die oomblik te wees, skep jy ’n verlede en toekoms waaraan jy al hoe minder tyd hoef te spandeer.

Die ongelooflike gevolg is dat jy besef dat jy eintlik alles het wat jy nodig het om gelukkig te wees.

Om in balans te wees, is ’n goeie manier om werklik die grootste moontlike verskil vir jouself en ander te maak.

Gister, met foute en al, is ’n herinnering. Môre het potensiaal. Maar vandag is jou oomblik om voluit en in liefde te lewe.

– Rina de Klerk

Deur mislukking leer jy ’n nuwe woordeskat aan

Hoe jy met jouself praat, het ’n groot invloed op jou selfbeeld en op jou hele lewe. Hierdie selfgesprek kan jou dag maak of breek.

As ander mense so lelik met jou sou praat soos wat jy met jouself praat, sou jy lankal gevra het: “Met wie dink jy praat jy?”

As jy ’n terugslag beleef, sê jy dalk sonder om te dink: “Ek sal tog nooit suksesvol wees nie.” Of elke keer as iemand jou teleurstel, sê jy: “Ek sal nooit liefde vind nie.”

Later sal jou onderbewussyn dit begin glo en jy sal mettertyd daarvolgens optree. Op dié manier programmeer jy eintlik jou brein, sodat jy op ’n bepaalde manier oor jouself dink en voel.

Dit het ’n invloed op jou gedrag en uiteindelik op jou hele lewe. Die grootste impak is op jou selfbeeld. Met ’n swak selfbeeld sal jy minder risiko’s neem, meer sukkel om verhoudings te bou en minder geneig wees om jou drome na te streef.

So iemand staan byna geen kans om konstante suksesse in die lewe te behaal nie. Hulle glo doodeenvoudig nie dat hulle dit werd is of dit kan doen nie!

Let mooi op na jou taalgebruik, veral ná ’n nederlaag. Vervang negatiewe woorde en uitdrukkings met positiewe frases en uitdrukkings. Indien jy dit oor en oor doen, word dit later ’n gewoonte en sal dit jou denke, gedrag en hele lewe verryk.

Hou op om te dink almal is beter as jy. Onthou, niemand is volmaak nie.

Ons verskil almal – dink maar aan die verskeidenheid groottes, vorms en kleure wat mense het. Leer om lief te wees vir wie jy is. Jy gaan mos nog lank saam met jouself leef!

Jy het jou eie doel in die lewe. Ontdek jou sterk eienskappe en spits jou daarop toe om jou roeping te vervul. Fokus op die waarde wat jy tot die lewe van die mense om jou kan toevoeg.

Dink en sê altyd goeie dinge oor jouself. Selfs as dit nie goed gaan nie. Wat ons dink en sê, word ons werklikheid.

Ons almal sukkel met negatiewe selfgesprekke. Die negatiewe stem kom soms sterk deur en kan baie oortuigend wees. Dalk moet jy weer begin glo soos ’n kind en leer om mooi met jouself te praat en te glo dat jou enigiets kan doen.

– Zuléka Smit

Vorige artikel[VIDEO] Jou kind leer deur te speel
Volgende artikel“Ek kon die vlamme op my lyf sien”