Om sterker anderkant uit te kom ná seerkry

354
Sterker anderkant ui te kom

Wanneer ons kinders is, leer ons dat seerkry deel is van die lewe. Ons val van ons fiets af, skraap ’n knie of ’n maatjie trek en dit maak seer. Maar ons moet leer om weer op te klim en aan te gaan.

Hierdie pynlike oomblikke maak ons sterker. Selfs as kinders is die afval en weer opstaan besig om vir ons oorlewingsvaardighede te leer en karakter te bou.

Wanneer ons ouer word, is die seerkry erger as ’n sny op die knie. Om die pyn te behandel verg meer as ’n pleister.

Maar pyn is goed, want dit is ’n teken dat daar iets fout is, daar is ’n besering. Ons het dit soms nodig.

Sien, emosie gooi jou uit jou gemaksone, dit haal jou uit rat uit. Wanneer jy jou gevoelens wys en huil, is jy letterlik geroer en effe buite beheer.

Wat is die waarde van ’n gebreekte hart? Dis nie iets wat ons kies nie. Wie vra nou vrywillig vir iets wat stukkend is? Wie soek ’n seer hart en pyn in jou binneste?

Maar dit is deel van die groter plan. Groot dinge gebeur wanneer die Heilige Gees ons laat voel. Ons kry ’n vlietende gevoel van hoe ons Here die stukkende wêreld beleef. Ons sien ’n glimp van hoe Hy oor mense voel.

God bereik sy doel in die stukkende wêreld deur gebreekte harte en mense se opregte trane. Uit die pyn kom mooi dinge te voorskyn.

Weet hoekom is daar so baie pyn en trauma

Ongelukkig het sonde verreikende gevolge. Dis ook waar die pyn en swaarkry vandaan kom wat ons so tref en teister. Tog is daar altyd wonderwerke.

Ons tref ook soms die rowwe seisoene waar ons soos die dissipels binne ’n storm vasgekeer is. Dan is ’n mens se reaksie ook om te vra: “Maar kon die Here dit nie gekeer het nie?”

Ons bid net en vertrou Hom – dan sal ons nooit lyding ervaar nie. Regtig? Wat van die mense deur die eeue wat gebid het toe hulle in die nood was? Tog het hulle bly swaarkry.

Hier moet ons een saak deeglik verstaan. Ons leef in ’n wêreld wat stukkend is – gebroke weens sonde. Sonde was egter nooit deel van die oorspronklike plan nie.

Ons word wel gehelp as ons bid en hulp vra. Tog is dit nie altyd soos ons gehoop het nie. Dikwels nie eens op ’n manier wat ons kan verstaan nie.

Jesus is in beheer. Sy volgelinge vind dit nie uit deur net daaroor te praat nie; maar wanneer hulle daardeur gaan.

Hulle moes leer: Hy is by ons op die rustige strand waar Hy ons seën. Maar Hy is ook daar in die woeste storms waar Hy ons regop hou.

Dit gaan die een of ander tyd gebeur. Jy gaan binne-in ’n rowwe storm wees. As jy in so ’n donker tyd is, tel ’n paar broodkrummels op en dink aan die laaste wonderwerk in jou lewe.

Dit hoef nie indrukwekkend te wees nie. Dalk was dit net ’n oop deur. Of toe jy regtig in die nood was, het iemand uitgehelp.  

Ons moet leer om seerkry te verstaan

God het ons lief. Daarom wil Hy ons graag na ’n hoër vlak van geestelike volwassenheid neem. Seerkry is ’n goeie manier om dit reg te kry.

Het jy al ooit iemand hoor sê: “Ek wonder wat God my deur hierdie krisis wil leer?” Die doel van ’n eksamen is nie om ons iets te leer nie, maar eerder om ons na ’n volgende graad te bevorder.

Hy wil nie dat ons kleuterskool-gelowiges bly nie. Ons moet geestelik groei. Indien ’n gelowige sy eksamen druip, kan hy seker wees dat hy dit sal oorskryf.

Wat moet ons gesindheid teenoor eksamentyd wees? Jakobus leer ons: Julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom … (Jakobus 1:2-3).

Dit is nie die gebruiklike menslike reaksie nie. Wie is dan nou bly as dinge moeilik gaan en hulle swaarkry? Wanneer hulle iets op die harde manier moet leer?

Die doel met dinge wat ons oorkom, is om ons na ’n plek van volwassenheid te bevorder. Daar kan ons verdraagsaamheid, volharding en volmaaktheid beleef. Daarom moet ons juis erg bly wees wanneer allerhande beproewings oor ons pad kom.

Dit is belangrik dat jy verstaan: God wil nie dat ons seerkry of swaarkry nie. Tog gebeur dit, want dis deel van die stukkende lewe.

Dis deel van ons onwyse en dom keuses, of ander se keuses wat ons lewe raak. God gebruik egter hierdie donker tye om ons na die Lig te draai, want Hy is ’n goeie Vader. Hy sorg vir ons deur sonskyn- en stormtye.

Voel jy dat jy vasgevang is en jou eksamen nie gaan maak nie? Hou aan en vertrou, al sien jy nie nou die genade-uitslae nie.

Herken die effek van lyding op jou lewe

Lyding veroorsaak depressie, siekte en ’n menigte negatiewe emosies. Dit kan ook verhoudings vernietig. Verstaan die effek van lyding en weet waarvoor om op te let.

Die Griekse woord vir lyding kan ’n mens breedweg vertaal met verdrukking, nood, rampspoed, vervolging, ontbering, moeilikheid.

Breedweg tref hierdie dinge ons omdat ons in ’n stukkende wêreld leef. Dis die gevolg van Adam en Eva se val in die paradys. Dit gebeur as gevolg van onwyse, vernietigende keuses van onsself of ander.

Tog kan lyding ook die gevolg wees van die Bose se aanvalle. Ons hoor: hy is “van die begin af ’n moordenaar” en die “vader van die leuen” (Johannes 8:44, 45).

Die aanvanklike krisis in Eden was weens ’n stukkende verhouding tussen skepsel en Skepper. Dis ook die rede vir baie van die hartseer en pyn wat ons vandag steeds op aarde beleef.

Hierdie dinge wys vandag na stukkende verhoudings tussen mense. Tussen man en vrou, werkgewer en werknemer, of tussen groepe. Die een politieke party haat die ander, die een nasie maak oorlog teen die ander.

Hoe raak dit ons as gelowiges? Dit gebeur dat sommige mense hulle rug op God draai as hulle seerkry. Pyn werk vernietigend: dit bring spanning, depressie, siekte en selfs die dood. Dit kan lei tot werkloosheid, tekorte, gebrek en armoede.

Lyding  kan uitloop in jaloesie, uitbuiting, wraaksug, diefstal en gevangenskap. Dit kan die gevolg wees van ontvoering, aanranding, kaping, moord en oorlog.

Die wolke wat die hemel vir ons oë toehou, kom immers van die aarde af. Lyding kan dus enige soort ramp en gemors hier op aarde uitdruk.

Woede is die eerste reaksie wanneer jy seerkry

Wanneer jy weens die een of ander rede sleg tweede gekom het, wat is jou onmiddellike reaksie? Jy is woedend en wil iemand terug seermaak.

Paulus ryg die moenies hieroor in: Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie (Efesiërs 4:31).

Dis interessant watter ander woorde Paulus in hierdie lysie opnoem. Hier sien ons die optrede en gesindheid wat bitterheid aandryf.

Daar is stygende grade van wrewel. Eers vyandigheid en koue woede wat opbou. Net ’n bietjie aansporing, dan oorstroom ons gemoed. Dis soos ’n fratsvloed in ’n woeste somerstorm.

Gou raak dinge buite beheer. Dan gebruik ons woorde as wapens om terug te slaan. Ons mik om ander af te kraak en in ’n negatiewe lig te stel. Ons wil hê dat hulle ’n slegte reputasie moet kry.

In sulke gevalle probeer ’n mens doelbewus om pyn uit te deel. Dis soos ’n voorbedagte hou teen die swakplek van iemand wat ons te na gekom het. Só wil ons uiting gee aan die bitter gedagtes en gevoelens wat in ons hart smeul.

So ’n gees in ons maak ons hard en koud. Ons raak moeilik om mee saam te leef. Dit maak van ons mense wat negatief en krities ingestel is.

Soms kan ’n bitter mens teen jou optree asof jy daardie een se vyand is. Sulke persone vertrou ander ook nie maklik nie. Hulle voel almal wil hulle te na kom. Soms lees hulle vyandigheid by situasies in.

As daardie gif in jou wil-wil wortelskiet, hou dadelik daarmee op! Moenie dat onskuldige mense moet betaal vir iets wat iemand anders jou aangedoen het nie.

Bitterheid maak jou én ander mense seer

Bitterheid maak dat ons God se plan en liefde weerstaan. Uiteindelik vernietig dit ons soos suur wat deur die houers vreet waarin dit geberg word.

Wanneer daar bitterheid in jou hart is, sal dit na buite wys. Dit sal uiteindelik in jou woorde en stemtoon na vore kom.

Paulus praat reguit agter toe deure in: Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie. Die Nuwe Lewende Vertaling stel dit nog sterker: moenie griewe teen hulle opbou nie.

Om bitter te wees en griewe soos donderwolke op te stapel, lê lepel in die huwelik. Meer as een huwelik is al deur plofbare bitterheid gesaboteer.

Paartjies wat eens op ’n tyd teer en liefdevol teenoor mekaar was, word uiteindelik aartsvyande. Hulle eis ’n oog vir ’n oog en ’n wond vir ’n wond.

Wanneer bitterheid wortelgeskiet het, loop dit na alle kante toe uit. Iemand met hierdie gif moet dit op ’n ander een vergeld. Dit is gewoonlik iemand anders as die oorsaak van die bitterheid.

Ongelukkig hou ’n mens soms so vas aan daardie doringtak van wil-nie-vergewe-nie. Dan leef jy elke dag met die pyn van daardie ervaring. Geleidelik, onbewus, bou jy mure van bitterheid tussen jou en ander.

Mure druk die pyn in jou binneste vas. Die hartseer daarvan is dat daardie mure ook seëninge buite hou. Sulke mure gaan ook die Vader se vergifnis verhinder om by jou uit te kom.

Dit gaan verhinder dat jou gebede beantwoord kan word. En uiteindelik dat jou drome bewaarheid word.

Die groot rede waarom jy mense vergewe wat jou seergemaak het, is sodat jy self uit die gevangenis kan kom.

Negatiewe emosies vernietig Sy plan vir jou

Negatiewe emosies het ’n sterk mag oor jou. Dit kan jou laat wegdryf van God se plan en drome vir jou lewe.

Wanneer jou gevoelens seergemaak is, begin jy om skerms vir jou verdediging op te stel. Want jy vrees dat dit weer gaan gebeur. Jou arsenaal gifgasse groei met elke nederlaag.

’n Siniese houding, seermaakwoorde en wantroue is van die wapens van massavernietiging wat jy so graag aggressief uitpluk en op ander rig.

Hoekom raak ’n mens se emosies so verward? Daar is verskeie redes. Dit kan wees omdat jou lewensmaat jou verlaat het. Of jy is fisiek, verbaal, seksueel of emosioneel geboelie en misbruik. Dalk is jy met ’n terminale siekte gediagnoseer.

Miskien is jy onbillik ontslaan. Mense vertel dalk vir jou leuens of versprei leuens oor jou. Jy het geliefdes in ’n sinlose motorongeluk verloor. Aan die ander kant was jy moontlik die oorsaak van iemand anders se pyn.

Haat, bitterheid, jaloesie, wrokkigheid en afguns is jou vyande omdat dit jou lewe kan vernietig. Dit kan enige goeie bedoelings verongeluk wat jy vir jou lewe en toekoms gehad het.

Negatiewe emosies rig ernstige skade aan. Dit het die mag om jou aan jou bitterheid en wrokkige seerkry vas te boei. Die gif wat daaruit syfer, raak nie slegs jóú lewe nie. Dit kan almal rondom jou verpes.

Sulke emosies het die mag om jou te ver te dryf. Uiteindelik blameer jy God vir die negatiewe dinge in jou lewe. Jy verwyt Hom omdat dinge nie uitgewerk het soos jý dit gesoek het nie.

Die vyand, die duiwel, kan dit misbruik om jou te verlam en jou gees te vernietig.

Kies doelbewus om anders te dink

Wees uiters versigtig vir ongesonde emosies. Dit beroof jou van jou krag en skuif jou gedagtes op gevaarlike syspore. Kies doelbewus om anders te dink.

Neem vandag ’n besluit wat jou lewe kan red. Laat hierdie dinge net gaan. Net die Gees kan gewonde emosies genees.

’n Voorbeeld is wanneer jy begin rou. Die oomblik wanneer iemand na aan jou sterf, verander jou lewe.

Die rouproses het ’n definitiewe begin. Ongelukkig is daar egter nie so ’n duidelike einde nie. Daar is nie ’n stel reëls wat jy moet volg en skielik is jy daaroor nie.

Jy moet kies. Besluit om voort te gaan. Maklik is dit seker nie. Tog, maak elke dag die bewuste keuse om dankbaar te wees en te leef.

Genesing kom soms stadig. Veral as jy deur trauma was, bereik jy daardie punt nie maklik nie. Dinge is veel ingewikkelder met emosionele pyn. Jy word nie skielik op ’n dag wakker en voel dan jy het oor die pyn en verlies gekom nie.

Jy ontdek genesing en bemeester dit stap vir stap. Dit gebeur deur elke klein doelbewuste besluit.

Dit sal nie gebeur as jy aanhou die wond oopmaak nie. Dit doen jy deur die donker emosies te bly vertroetel. Deur woede, hartseer of selfbejammering herleef jy die hele situasie.

Neem beheer oor jou gedagtes. Dwing jou om positief te dink.

Lees elke dag ’n troosgedeelte uit die Woord. As jy kan, leer ’n paar kragtige bemoedigende tekste uit jou kop. Dink daaraan wanneer jy ’n slegte dag beleef.

Liefde en geloof is ’n keuse en ’n leefstyl wat jou uiteindelik by oorwinning gaan uitbring.

Kry hoop en ’n nuwe toekomsvisie

Hoop verander alles. Dit is die sleutel wat die deur na die toekoms toe oopsluit, al sien ons nog nie so ver nie.

Die duiwel sal jou dinge probeer wysmaak. Jou egskeiding, die dood van julle kind of die verlies van jou werk – dat dit die einde van alles is. Dit is nie só nie.

Gelowiges weet: Dit is die eerste stap in ’n nuwe proses wat in ons lewe begin het.

Mense wat ly leer om vol te hou. Daarom bring volharding egtheid in ons geloof. Mense wat geleer vasstaan het, se karakter verander. Hulle is geduldig, standvastig en sterk.

So, krisisse is eerder geleenthede om karakter te vorm en geloof eg te maak. Dit is wat ons help om lyding te kan verstaan en hanteer.

Hoop fluister van ’n nuwe verhouding vir die eensames. Daar is vrede vir dié wat ontsteld is; krag vir swakkes, gesondheid vir siekes en lewe vir sterwendes.

Hoop bring voorsiening vir behoeftiges, voedsel vir die hongeriges en ’n tuiste vir die haweloses. Daar is bevryding vir gevangenes, verligting vir mishandeldes en rus vir vermoeides.

Ons is bly oor lyding omdat dit die eerste stap is om van ons sterk, bruikbare en hoopvolle mense te maak.

Ten spyte van ons omstandighede en die stukkende wêreld bly God Gód. Hy is nie ’n mens dat Hy ons sal bedrieg nie. Hy sal tot aan die einde saam met ons die pad stap.

Daardie hoop kyk vorentoe. Daar sal ’n tyd aanbreek wanneer alle hartseer, pyn en trane verby sal wees. Dit is hierdie hoop wat ons laat aanhou.

Ware vreugde is nie afhanklik van omstandighede nie

God se vreugde is ’n ingesteldheid wat jou deur letterlik álles kan dra. Dis ’n blywende toestand en nie afhanklik van jou emosies of omstandighede nie.

Volgens wêreldse waardes hang vreugde van gunstige omstandighede af. Dis wanneer jy goed of veilig voel. Jy hoef jou nie oor geld, gesondheid of die toekoms te bekommer nie. Dié soort geluk hou egter op sodra jy begin swaarkry.

Ware vreugde vind ons, soos rus, net op een plek. Hierdie soort blydskap kom van binne af. Dis ’n innerlike kalmte maar ook krag. Dit gee jou energie en lewenslus. Dit help jou oorleef in moeilike tye.

Jy raak al meer bewus van ’n dieper krag in jou. Hoe meer dit gebeur, hoe makliker kan jy tot rus kom. Die mense om jou kan hierdie gesindheid sien.

Vreugde is die hart van ons geloof. Dis die geheim van die lewe. Hierdie vreugde vra God van ons, maar skenk dit ook gratis.

Vreugde is nie ’n luukse item nie. Dis meer soos asem wat jou aan die lewe hou.

Dis ’n doodgewone aftreksom. Die vrug van die Gees laat die suurstof van liefde, vreugde en vrede in ons lewe heers. En die werke van die sondige natuur steel dit van ons.

Gaan soek dit daarom aktief in lofprysing en voortdurende gebed. Dit was ook Dawid se geestelike dieet. Dit was deel van sy daaglikse roetine en oorlewing.

Vra jou elke oggend twee dinge af: Met watter woorde gaan jy daardie hemelse vrede en vreugde vind? En hoe gaan jy dit gebruik om die dag se klein oorwinnings oor elke nederlaag te behaal?

Ná seerkry leef jy in oorwinning

Wanneer jy vir God ontmoet, verander jou omstandighede dalk nie, maar jý verander. Jou pyn en gebrokenheid word omgesit in aanvaarding en oorwinning.

Jakob het ’n ontmoeting met God gehad. Hy was gebroke, elke verhouding was vernietig. Sy drome was aan skerwe.

Jabbok raak vir hom die plek van oorwinning. Soms eindig ons ook by die Jabbokrivier – gebroke, alleen, verward. Dan vra ons: “Hoe het ek hier gekom? Wat het met my lewe gebeur? Hoekom is ek hier?”

Dit is ’n patroon. Moses gaan na die woestyn toe. Hy lei die volk 40 jaar lank, maar verloor alles. Josef sit 14 jaar lank in die vreemde tronk vir iets wat hy nie gedoen het nie.

Gaan lees by elkeen van hierdie voorbeelde die laaste hoofstuk. Dan sien jy: Hulle het daardeur die Vader op ’n nuwe manier leer ken.

Soms moet jy langer aanhou as wat jy voel jy as mens kan uithou – terwyl jy vertrou en wag vir seën.

Soms voel jy geestelik geslaan en kreupel. Maar hierdie seer was nie om jou te breek nie. Dit was om jou geestelik te laat groei.

Oorwinning in Jakob se lewe het deur ’n aanraking gekom. Jy sal dit ook ervaar wanneer gebrokenheid jou lewe aanraak – en jy God régtig leer ken.

Jakob het ná die seer nooit weer dieselfde geloop nie. Dié wat hom ná die ontmoeting gesien het, het één ding besef: Dit het sy stap verander. Dit was ’n anderster loop. ’n Nuwe lewe.

Dus, wat gebeur ná pyn en hartseer? Dit verander jou manier van leef. Jy kry ’n nuwe stap, ’n nuwe woordeskat en ’n nuwe uitkyk op die lewe.

Vorige artikel[PODSENDING] Vind jou balans en gewigsverlies sal volg
Volgende artikel[VIDEO] Verrassende redes om as gesin saam te eet [Reeks 1 Nommer 9]