Het jy vergeet waarvan JY hou?

64

Iemand het eenkeer vir my gevra: “Waarvan HOU jy?” Die heel eerste gedagte wat by my opgekom het, was dat dit nogal ’n simpel vraag is om te vra.

Waarvan praat die persoon nou eintlik? Verwys hy na die tipe kar wat ek van sal hou om te bestuur, werk wat my gelukkig maak of dalk na my droomvakansie?

Toe ek na ’n rukkie vir hom vra wat presies hy bedoel, het hy weer net gevra: “Waarvan hou JY?”

Dit het my laat besef dat ek ’n lys kan opnoem van dinge waarvan my man en kinders hou. Ek kon ’n opstel skryf oor wat my besighede nodig het om te floreer, maar het nie ’n idee gehad wat my laat tick nie. Ek het vergeet wie ek is en waarvan EK hou.

Die oomblik het aangebreek vir my om weer ernstig tyd te maak om myself te leer ken. En daarmee saam, tyd om by God se hart vir my uit te kom.

Ek het besef ek mag myself bederf en weer dinge begin doen wat my laat ontspan en wat vir my lekker is. Moet my nie verkeerd verstaan nie, my gesin het steeds baie tyd en aandag en liefde gekry en my besighede (net soos tevore) is bestuur soos nodig.

Maar ek was dit aan myself verskuldig, en ook almal rondom my, om me time te vat so elke nou en dan.

Soos ek myself weer beter leer ken het, het my tenk al voller geraak met die dinge wat vir my belangrik is. Ek het spesiale tyd ingeruim om by God se hart vir my uit te kom.

Hoe toets jy dit? Dis eenvoudig. As jy nie lekker of bevredig voel na ’n aktiwiteit (hetsy ’n pedicure, ’n draffie langs die strand of ’n kuier saam met ’n goeie vriendin) nie, is dit beslis nie iets wat jou tenk gaan volmaak nie.

Dit beteken nie dat jy moet ophou om die aktiwiteit te doen nie. Dit beteken net dat dit nie iets is wat jy sal kan gebruik om jou tenk weer vol te maak nie.

Hierdie besluit is absoluut lewensveranderend. Om mooi na jouself te kyk, is soos ’n verfrissende bui reën op ’n warm somersdag. Die positiwiteit wat jy ervaar omdat jy moeite met jouself doen verander nie net jou lewe en lewensuitkyk nie. Die druppels val ook op almal en alles wat jy aanraak.

– Rhona Erasmus