Koop tyd uit!

299

Geluk is soms soos ’n somersblom in volle bloei … Een oomblik is dit daar en gorgeous! En dan, net so, is dit weg.

Gelukkig is geluk nie soos daardie pot goud aan die einde van die reënboog wat ’n mens moet gaan soek nie. Nee, dis sommer binne ons. Ons moet net tyd maak en dit elke dag weer en weer vind.

Ek dink aan my eie daaglikse roetine, en besef dat slegs ek die vermoë het om my eie geluk te bepaal. Niemand kan dit namens my doen nie. My eie besluit tot geluk kan egter ook ander gelukkig maak. Hoe wonderlik is dit nie! Ek kies om nie toe te laat dat tyd my, of my gesin, se geluk steel nie.

Soggens met opstaantyd maak ek ’n kopbesluit om positief op te staan en dankbaar te wees vir nog ’n mooi dag. Ek dank my Heer dat ons as gesin gespaar is om die gejaagde oggend saam aan te pak. En ja, al wil tyd al weer ons geluk kom steel, sê nee!

Al moet die klein lyfies soms met moeite aangetrek en reggekry word vir skool is daardie chaos-tyd net ons tyd. Ons deel dit, ongeag die geskarrel, net met mekaar.

Die kosblikke wat in rekordtyd gepak word, sit ’n glimlag op my mense se gesiggies. Die ontbyt en tee of koffie saam met beskuit maak dat hulle dag beter begin. Dit is dan dat die rol wat ek daarin speel weer vir my ’n realiteit word.

Wanneer my man soos blits met ons twee seuntjies teen 07:00 moet weg skool en werk toe, besef ek weer opreg hoe kosbaar tyd is.

Ja, tyd is verniet, maar dit kan nie besit word nie. Dit kan net gebruik word. En waarvoor wil ek my tyd gebruik? Vir gelukkige tye!

Ons lewens is gejaag en propvol opdragte en besige programme. Die paar uur wat ons wel vry het moet reg benut word.

Ons moet leer om nee te sê vir die dinge wat ons kwaliteit- en gelukstyd steel. Ons moet leer om die beste te maak van daardie klein oomblikke wat in ’n oogwink kan verdwyn. As tyd eers spandeer is, kan dit nooit weer teruggekry word nie.

Die kosbaarste geskenk wat ons ooit vir ander kan gee, is ons tyd. Kom ons maak seker dis gelukstyd.

– BIANCA MARAIS, Promosieredakteur, Finesse tydskrif

Vorige artikel[PODSENDING] Vervang jou vertroue eerder met aanvaarding [Reeks 1 Nommer 8]
Volgende artikelLiefde en geluk kom nie vanself nie