Resep vir ’n gelukkige gesin

116

Dit maak nie saak hoe jou gesin saamgestel is nie, julle is met ’n doel vir mekaar gegee. Wat is die basiese dinge wat van julle ’n hegter eenheid kan maak, al is julle reeds ’n gelukkige gesin? ONS VRA VERHOUDINGSKENNERS …

Julle deel dieselfde geestelike waardes en doelwitte

Geestelike waardes is die vrug van dit wat in ons harte leef. Dis liefde, vergifnis, respek, geduld, wysheid, betroubaarheid, vriendelikheid en diensbaarheid. Sonder goeie geestelike waardes kan ons van die muur afval en nie weer aanmekaargesit word nie. Net soos Hompie Kedompie. Die waardes wat ons binne ’n gesin koester, kan slegs iets beteken indien ons dit uitleef. Gesinslede gaan van verskeie mure afval of afgestamp word. Moenie kritiseer, jouself bevraagteken of vir ander kwaad raak nie.

Eet gereeld saam en vier fees

Wanneer ’n mens genoeg (en lekker) eet en drink, beleef jy oorvloed. Dit is ’n herinnering dat God teenwoordig is en daarom is die lewe ’n fees. Al is dit net vir die oomblik. Dit gee julle weer moed om die lewe voluit aan te pak. Moenie julle maaltye met negatiewe gesprekke versuur nie, maar fokus eerder op Sy versorging. Dis Hy wat julle bymekaargebring het. Daarom is dit ’n geleentheid waarin julle vir mekaar ruimte moet gee om te ontspan en gemoedelik te verkeer.

Waardeer mekaar en wees lief vir mekaar

Die diepste menslike behoefte is om liefgehê, waardeer en erken te word. Die eerste plek waar ons dit kry, behoort binne die gesin te wees. Die goue reël is: Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê. Liefde is dus nie net ’n gevoel nie, dis ’n werkwoord. Dit kan so eenvoudig soos ’n glimlag of vriendelike woord wees. Of sê: “Jy is spesiaal, ek waardeer jou vir wie jy is en wat jy beteken.” Wees jý die verandering net daar in jou eie gesin.

Goeie herinneringe is die sleutel tot ’n gelukkige gesin

Daar is sekere ervarings van kindweesdae wat ons altyd sal saambind. Die vakansies en spesiale saamdoendinge. Dis die herinneringe van die tye saam met ons gesin waarop ons kan terugval as die lewe te veel raak. Die speletjies speel om die groot tafel by die braai. Die kuiers by oupa en ouma. Die bedtydstories saans. Die gewone dinge. Dit gaan oor ’n nalatenskap aan ons mense. Dit waaraan hulle kan terugdink wanneer ons nie meer daar is nie.

Maak tyd vir mekaar en wees 100% teenwoordig

Ons moet die tyd wat ons saam het, benut en geniet en wonderlike herinneringe maak. Dit beteken om my selfoon neer te sit, die skottelgoed te los en saam met die kinders te speel. Hierdie saamwees voed die hele gesin se harte en siele en is die fondasie van ’n gesonde gesinsverhouding. Al die tyd in die wêreld kan steeds “leeg” wees as jy nie intensioneel en 100% teenwoordig is nie.

Vorige artikelDít inspireer my! (Demi Lee Moore)
Volgende artikelWat die Bybel sê oor… sonde