Wéét wat depressie regtig is

70

Weet jy wat depressie is? Het jy ’n idee van die val en opstaan, twyfel en vertroue, wanhoop en hoop waardeur depressielyers gaan? Hoe help jy iemand wat aan dié siekte ly? Kan dit ook gelowiges se lewensvreugde steel? ONS VRA DEPRESSIEKENNER JOHAN LATEN …

Depressie is ’n daaglikse werklikheid rondom ons. Ons kan nie langer oningelig bly nie.

As mense weet waaroor die siekte gaan, kan die diagnose gouer gemaak word en die behandeling vroeër begin.

Die siekte word beter bestuur en lewens word beskerm. Net dán kan jy iemand help om voluit te leef!

Is dit aansittery of ’n werklike siekte?

Depressie is ’n behandelbare siekte. Depressiewe steurings kan in twee onderafdelings verdeel word. Die aard, intensiteit en duur van die simptome sal bepaal hoe vinnig daaraan aandag gegee moet word.

Major depressie kom voor wanneer jy minstens vyf van die depressiesimptome gedurende dieselfde tydperk van 14 dae of langer ondervind. Jou liggaam funksioneer anders as tevore.

Distimiese steuring is nie so erg soos major depressie nie, maar dit kan vir een tot twee jaar aanhou sonder dat jy beter voel.

Die verloop is ook nie episodies, soos in die geval van major depressiewe siekte nie.

Dit is eerder ’n chroniese toestand. Net sommige van die depressiesimptome is oor ’n lang tydperk aanwesig.

Is dit oorerflik of gebeur daar iets?

Moet daar iets gebeur wat dit aan die gang sit? Is dit geneties?

Daar is drie moontlike faktore, naamlik neuro-oordragstowwe, wat boodskappe in jou brein rondstuur, oorerwing en omstandighede.

Probleme kan met die chemiese oordrag van die boodskappe in die brein ontstaan, en so kan die hele sisteem naderhand wanfunksioneer.

Die risiko van depressie word bepaal deur die kombinasie van jou gene van jou ma en pa en hoe dit by mekaar inpas. Gene speel ’n bepalende rol of jy depressie sal erf of nie, maar dis nie noodwendig die “oorsaak” nie.

’n Mens dink onmiddellik aan stres as emosionele stres, maar jy kan ook stres ondervind weens beserings, operasies, ernstige siektes en voortdurende fisies uitdagende omstandighede.

Hoe dokter mens somber gevoelens weg?

Hoe gemaak as iemand dit erken en hulp soek?

Depressievegters het verskeie opsies rakende die behandeling van hulle siekte: psigoterapie, medikasie of doen self iets.

Psigoterapie bied nie ’n kitsoplossing nie.

Dit neem tyd (wat van mens tot mens verskil) voordat daar enige verbetering is.

Om die beste behandeling te verseker, moet jy en die terapeut saam besluit of terapiesessies voldoende is en of medikasie ook nodig is. Dit bly jou keuse.

Na gelang van die oorsaak van depressie, sal dit nooit heeltemal verdwyn nie. Behandeling help om die siekte beter te bestuur, nie om jou volkome gesond te maak nie.

Gelowiges kry ook swaar met depressie

Gelowiges word nie teen sombere gevoelens gevrywaar nie, trouens, selfs bekende Bybelfigure soos Dawid en Job het met die siekte geworstel.

’n Beter begrip van die siekte kan mense se perspektief en ingesteldheid aansienlik verander. Maak seker jy verstaan en is ingelig.

Dit is nie vir iemand maklik om uit die “depressie-kas” te klim nie.

Wees iemand wat ’n depressielyer sal weet die meeste begrip sal hê en gee ’n oor wat luister.

Jy hoef nie daardie persoon se berader te word nie, maar jy kan die rigting aanwys vir hulp.

Ons elkeen word regstreeks of onregstreeks deur depressie geraak. Dis ons verantwoordelikheid om betrokke te raak. Maak ’n verskil en help die stigma afbreek deur bewusmaking!

Vorige artikelSimon Witbooi: “Ek wil eers doen en dan praat”
Volgende artikelGesonde etes in ’n japtrap