As die hele wêreld blind was, hoeveel mense sou jy beïndruk?

Sjoe! Dit laat mens nogals wonder. Oor jou lewe. Hoe ons altyd in ‘n rusie is met vergelyking en hoe ons mense nader in die samelewing.

Ek het hierdie aanhaling ‘n rukkie terug op sosiale media raakgelees, en dit het my werklik laat na dink, aan hoe ons as mens sal optree teenoor dit.

Sal jy ‘n verskil wil maak? Sal jy omgee, liefdevol en pret wees? Wil jy vriendelik wees? Sal jy mense met respek behandel? Sal jy dalk iemand in nood help, of sou jy selfsugtig, onbeskof of jaloers wees? Of sal jy ‘n gelukkige gesig aansit vir die wêreld, maar jy dra boosheid en haat in jou hart?

Sommige mense spandeer hul dae om, deur ander met motiverende aanhalings, pragtige beelde van hulself, hulle motors en so kan die lys maar aangaan, te beïndruk.

Terwyl daar niks fout is daarmee nie, dit is tog die dinge wat ons visueel kan sien.

Maar ek kan julle van myself vertel…

Ek is ver van perfek af, ek maak elke dag foute, maar goedhartig, vriendelik, liefdevol, vrygewig, is slegs ‘n paar woorde, wat ek met trots van myself, kan beskryf vir julle. Dis wie ek is wanneer die wêreld kyk, en dis wie ek is wanneer die wêreld nie kyk nie.

Wie is jy wanneer die wêreld nie kyk nie?

Wanneer jy alles laat gaan en die ware “jy” kom uit. Dit verg meer moeite om vriendelik in die openbaar te wees, as wat dit in die privaatheid van jou hart is.

Ek wonder hoe dit sal wees, om in ‘n wêreld te leef waar mense se persoonlikheid, intelligensie en vriendelikheid belangrik is. Maar ongelukkig, leef ons vandag, in ‘n wêreld waar mense net jou uiterlike skoonheid raaksien, hulle sien nie wat jou innerlike skoonheid is nie. Alles is deesdae gebaseer op jou fisiese voorkoms.

Maar ware skoonheid, dit is iets wat vir ewig hou. Baie mense sal bang wees, as hulle hul karakter, in plaas van hul liggame en gesigte in die spieël sien.Trouens, ek het al baie mense gesien wat ‘n mooi uiterlike skoonheid het, maar wat glad nie aan die beskrywing van ware skoonheid voldoen nie. Want eintlik het ware skoonheid nie juis iets te doen met ‘n mens se voorkoms nie.

Mooi wees, gaan alles oor hoe jy as ‘n persoon is en hoe jy ander oor hulself laat voel. Ware skoonheid is iets wat van binne na buite toe straal. Beeldskoonheid is wat gereflekteer word uit ‘n persoon se siel.  Wel om pragtig te wees, is nie iets wat duur produkte vereis nie, trouens, die bereiking van mooi wees, kos glad nie geld nie.

Jy is die inhoud van jou karakter. Die ambisies wat jy bestuur, die doelwitte wat jy stel, die dinge waaroor jy lag en die woorde wat jy sê. Jy is die gedagtes wat jy dink en die dinge wat jy wonder. Jy is pragtig vir die vonk van die lewe in jou.

Elkeen van ons is individueel uniek geskape, jy is regtig een besonderse mens, hoekom ons ook altyd onsself met ander wil vergelyk, mense beïndruk om tevrede te wees met wie ons is en wat ons doen, gaan my verstand te bowe, want dit steel soveel vreugde in jou lewe. Jy vergeet van jou ware skoonheid en verloor jouself in daardie proses.

As die hele wêreld blind was, sou ek myself gewees het, die persoon wie God my gekies het om te wees.