As die lewe jou inhaal, hardloop vinniger!

0
207
Wayde van Niekerk

Moenie weghardloop nie, sê hulle altyd. Maar soms is dit ’n goeie idee, veral wanneer dit jou eerste oor die wenstreep laat gly. Odessa Swarts en haar seun, Wayde van Niekerk, het albei hierdie oorwinnaarsgees.

Die kaalgestroopte koshuiskamer is vol lag en gesels. In die hoek is twee enkelbedjies teen mekaar geskuif onder ’n stapel matrasse. Bo-op sit ’n vrolike gesin om ’n groot houer KFC. Môre is Wayde se groot dag. Dit is soveel anders as jare gelede in ’n staatshospitaal …

Odessa onthou dit asof dit gister was. “Wayde was van die begin af blitsig!” probeer sy die swaarkry van daardie swangerskap effens ligter maak. Sy was net agtien jaar oud. Maar in ’n staatshospitaal het sy en haar vroeggebore seun gewys waarvan hulle gemaak is.

Na komplikasies het Odessa se vrugwater op 28 weke gebreek. Die baba was op pad.

Wayde het minder as ’n kilogram geweeg met geboorte. “Dit was die maerste babatjie wat ek nog ooit gesien het,” verduidelik Odessa.“Hy was net vel en been.” Hulle het meer as een keer gedink hulle gaan hom verloor. Hy het geelsug gekry. Is verkeerdelik uit die broeikas gehaal. Was te swak om te suig. Het vog opgebou van aarvoeding wat verkeerd ingesit is.

Omdat Wayde so klein was en nie in ’n broeikas nie, het hy begin verkluim. Hy het ook bloedinfeksie gekry. Daar was nie ’n ander uitweg nie – hy moes ’n bloedoortapping kry. Daardie nag het die professore oorgeneem en met mening geveg. Hy het die terugslag oorleef.

Maar die dag toe hy ontslaan is, het die dokters sy ouers die aaklige nuus meegedeel. “Wayde gaan geweldig gestremd wees. En heel moontlik doof en blind.” Odessa het haar baba in ’n kombersie toegedraai en huis toe gevat. Dis oukei. Wat ook al gebeur, dis háár kind.

By die huis het Wayde se tannie kom help. Sy was ’n verpleegster en het gesorg dat hy gemaklik en warm is. Van sonkolletjie tot sonkolletjie het sy hom geskuif – styf toegedraai – en gesorg dat hy al die nodige voeding kry. Stadig maar seker het Wayde gegroei en sterker geword.

Die dag toe Odessa en haar ma met Wayde op die trein ry, het hulle egter eers regtig besef wat daar in die hospitaal gebeur het. ’n Verpleegster het naby hulle gesit. Sy het lank na hulle gestaar voor sy nadergekom het.

“Jammer ek is so voorbarig,” het sy om verskoning gevra, “maar is hierdie kind in Julie in Tygerberg Hospitaal gebore?” wou sy weet.

“Ja,” het Odessa geantwoord. Gou het hulle besef dat die verpleegster lid van die span was wat Wayde se lewe gered het.

“Ek kan dit nie glo nie,” het die verpleegster gesê. “Hierdie kind makeer dan niks. Hy’s vet en gesond, praat en beweeg rond … Ons het so baie vir hom gebid.”

Wayde was een honderd persent gesond en normaal. Meer as dit. Binne-in hom het ’n vegtersgees gegroei wat jare later sou sorg dat hy keer op keer almal se wildste verwagtings oortref. Soos daardie keer om die KFC op ’n koshuiskamerbed …

“My seun het kleintyd aan atletiek deelgeneem,” vertel Odessa. “Hy was as onder 11 atleet die tweede beste in Suid-Afrika, maar toe hou hy op.” Toe Wayde besluit het hy hardloop nie meer nie, was die rugby- en krieketveld sy toevlug. Op ’n dag het hy egter vir die pret gaan verspring, en dít is waar sy voet gebreek het. Toe hy baie opgewonde in gips en op krukke aankondig dat hy weer gaan hardloop, het almal gedink: Ja, Wayde, dis nou die perfekte tyd … Maar ’n jaar later was hy weer katjie van die baan!

Die koste van die afrigting en aanvullings was nie regtig in Odessa-hulle se begroting nie. Dit het heelwat beplanning geverg, en voor hulle eintlik reg was daarvoor, het Wayde gekwalifiseer om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe op Sasolburg te gaan deelneem. “Ons is sulke regte last minute mense en teen die tyd dat ons besluit het om as gesin soontoe te gaan, was ’n koshuiskamer al plek wat ons kon kry!” lag Odessa.

Die ses ysterbedjies met onmoontlike dun matrassies het nie baie gasvry gelyk nie; daarom het hulle gou twee beddens langs mekaar geskuif en vier matrasse daarop gepak. Dit was Wayde se bed. Hy moes gemaklik slaap, terwyl die res van hulle moes klaarkom met wat oorgebly het. Maar niks kon hulle geesdrif demp nie. Al was Wayde nie lus vir uiteet nie, was “in-eet” die beste ding wat hierdie Bloemfonteinse gesin kon doen. “Almal het hom moed ingepraat, daar op sy spesiale bed om ’n houer KFC!” Odessa onthou nog hoe haar man, Steven, vir Wayde oortuig het dat hy gaan wen: “Natuurlik gaan jy wen!” het hy gesê. “Jy slaap dan op die beste bed, jy gaan beslis die beste nagrus hê!”

Maar eintlik was Wayde die outjie van nêrens af. Die een wat nog maar net ’n jaar lank oefen. Wat is die kans?

Baie goed! Wayde het daardie dag die 100 m en die 200 m gewen – gemaklik! Dit het beteken dat hy ’n week later in Durban aan die senior kampioenskappe moes gaan deelneem.

“Weet jy?” sê-vra Odessa met ’n sagte uitdrukking in haar oë. “Weet jy hoeveel gebede is al vir Wayde verhoor? Daar is so baie, ek’s eintlik skaam dat ek nie alles onthou nie. Hierdie kind van my is so vreeslik geseënd. Hy móés gebore word, en hy móés leef. Hy beteken soveel vir almal om hom. En hy sal sy laaste paar skoene vir iemand uittrek … Regtig!” sê sy en lag. “Hy doen dit, as iemand sê hy het ’n mooi baadjie aan, trek hy dit uit en gee dit vir hulle!”

Daardie dag in Durban kon baie anders afgeloop het. Skielik was Wayde se teenstanders nie meer sy eie skoolmaats nie. Dit was die groot name van Suid-Afrika. As 18-jarige het hy in die ope afdeling meegeding. Van die manne was al 30. Ervare. Taai.

“Ek gaan dit nooit maak nie!” het Wayde benoud gesê.

“Jy gaan!” het Steven gesê sonder dat ’n spier in sy gesig vertrek. “Het jy gesien hoe moeg lyk hulle almal toe julle opgewarm het? Hulle lyk gedaan en doodbang vir jou.”

“Regtig?” wou Wayde weet. Odessa ook, want sý kon nie die moegheid en spanning sien nie.

“Natuurlik,” het Steven oortuig gesê. “Hulle is op.”

Wayde het in sy blokke gaan sak. Odessa en Steven het nie ’n woord gepraat nie. Die skoot het geklap. Wie was hierdie onbekende seun wat so onder die ander uithardloop? wou die kommentators weet. En dit by die nasionale kampioenskappe. Hierdie buiteperd het in die 200 m afgereken met ’n driemalige Suid-Afrikaanse kampioen en Olimpiese atleet.

“Sjoe,” het Steven vir die eerste keer sy stem teruggekry, “ek was maar benoud.”

“Jy was?” het Odessa verstom gevra. “Ek dog dan jy …” Steven het net geglimlag, haar hand gevat en Wayde se enorme oorwinningsoomblik met hom gaan deel.

Wayde het wonderlike borge en beurse gekry. Waar sy ouers aanvanklik moes raap en skraap, word hy nou mildelik geseën met alles wat hy nodig het. Maar hy bly nederig. Ma-vas. Stil-tevrede en super-gedetermineerd.