As die lewe suurlemoene uitdeel …

0
105

Die lewe is ’n geskenk, maar sê nou jy kry ’n suurlemoen, soos jou man wat jou verkul of die wasmasjien wat breek? Dan moet jy net moed hou en op ’n nuwe manier daarna kyk.

Staan weer op na elke storm wat jou tref

Jy sit met blink oë en wag vir die mooi geskenk wat die lewe jou gaan gee en dan val daar ’n suurlemoen in jou skoot … Dis nie die einde van die wêreld nie, want jy kan mos iets daarmee doen: Gaan kombuis toe en maak ’n lekker gesonde smoothie!

Almal het probleme; ook jou beeldskone kollega lê haar dalk snags en bekommer. Daar sal altyd storms wees en soms sal dit soos ’n orkaan voel. Partykeer sal jy voel jy het ’n wonderwerk nodig om net in een stuk daardeur te kom.

Gelukkig weet jy God is aan jou kant en dat jy in alle omstandighede op Hom kan bly vertrou. Hy is mos groter as enige probleem of moeilike situasie. Vra maar net raad sodat jy kan weet hoe om elke uitdaging te hanteer. As jy geval het, moenie bly lê nie. Jy kán weer opstaan, elke keer!

Leer hoe om jouself moed in te praat

As jy die heerlike smoothie klaar gedrink het, spoeg die pitte uit en plant dit! Dan het jy binnekort ’n hele boord en as jy die bome gereeld natlei, is daar altyd goudgeel vrugte in jou tuin.

Net so moet jy jouself motiveer om aan te hou en nie moedeloos te raak nie. Daar word beweer dat ’n mens meer as negentig persent van alles wat jy daagliks hoor, vergeet. Maar as jy dieselfde ding vyftig keer hoor, onthou jy dit beter.

Daarom is dit ’n goeie idee om deur die dag vir jouself motiverende dinge in jou gedagtes óf hardop te herhaal. Moenie wag vir jou omstandighede om te verander nie, motiveer jouself ín die omstandighede!

Sien die prentjie van jouself soos jy graag wil wees. En dink, praat en tree in ooreenstemming daarmee op. Sê vir jouself: “Elke dag word ek beter met alles wat ek doen.”

Dis jou keuse hoe jy op die situasie reageer

Jy kan kies hoe jy oor jou probleem gaan voel. Jy kan met ’n suur gesig rondloop of ’n suur houding teenoor alles en almal hê. Jy kan suurlemoensap spuit in almal vir wie jy kwaad is se oë. Of jy kan besef dat niemand behalwe jy in beheer van elke situasie is nie. Besluit self hoe jy dit gaan beleef.

Probeer om ’n bietjie meer afstand tussen jou en jou negatiewe gemoedstoestand te kry. ’n Goeie manier is om met jouself te praat soos jy met ’n vriendin sou doen wat raad vra. Jy kan byvoorbeeld sê: “Annalize, ek weet jy voel ellendig op die oomblik. Dis te verstane as ’n mens in ag neem waardeur jy nou gaan. Maar onthou, jy hét ’n keuse. Hoe jy nou voel, is maar net een van die baie emosies wat jy kan ervaar. So, staan op en gaan gryp die lewe!”

Vertaal en verwerk uit Unwrap the Gift of Life.