As dinge anders vir jou uitwerk

0
1013

Jy neem die beste besluite met die inligting tot jou beskikking. Nogtans kyk jy dikwels terug en wens dinge het anders verloop.

MAANDAG

Niemand het gesê jy sal nie probleme hê nie

Nêrens in die Bybel word daar gesê dat ons nooit probleme sal hê nie, al dink ons soms dit moet altyd net goed gaan met gelowiges. Ons het egter wel ’n mooi belofte en troos gekry. Hy sal nooit iets oor jou bring sonder dat jy ook die krag en genade sal ontvang om daardie probleem te hanteer nie.

Die manier hoe jy ’n saak sien wat volgens jou nie reg uitgewerk het nie, maak die verskil. Hierdie kwessie is nie die einde van die wêreld nie, dit is net iets waarop jy nog nie ’n antwoord het nie.

Die antwoord en die soeke na ’n antwoord kan jou op verskillende gebiede laat groei. Probleme is eintlik geleenthede om te sien hoe jy dinge kan verander en beter kan maak. Dit bewys jou ’n guns, want dit laat jou karakter dieper ontwikkel sodat jy met meer moed en selfvertroue kan voortgaan.

Geen situasie is ooit finaal nie, want daar is altyd nuwe moontlikhede. Jy het die mag om ’n plan te beraam en dit beter te maak. Jy hoef nie op die aarde te bly nie, jy kan op die maan gaan land!

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filippense 4:6-7).

DINSDAG

Die lewe is soms baie onregverdig teenoor jou

Jy besluit om al jou vriendinne vir ’n teepartytjie te nooi. Jy beplan alles haarfyn, doen moeite en reël selfs iemand om na die kinders te kyk terwyl julle kuier. Na ’n rukkie kom jy agter dat twee van jou vriendinne nie met mekaar praat nie en hulle albei lyk ook vies vir jou.

Toe jy hulle konfronteer, moet jy uitvind dat hulle, sonder dat jy dit geweet het, al weke lank kwaad is vir mekaar en dat albei nou vies is vir jou omdat jy die ander een genooi het. Hoe nou gemaak?

Die lewe is nie altyd regverdig nie. As jy – sonder dat jy daarna gesoek het – in die moeilikheid beland, kan dit jou lewe baie onaangenaam maak. Jy kan maklik veronreg en verbitterd raak en selfs ’n wrok teen die ander persoon koester.

Werk deur jou emosies sodat jy uiteindelik by die stadium kan kom waar jy berusting kry. Dit wat gebeur het, het niks met jou as persoon te doen nie, maar dit wys iets van die ander persoon se karakter.

Die belangrikste is om te onthou jy kan enigiets hanteer. Fokus jou aandag weg van dit wat verkeerd is en besluit eerder hoe jy die situasie die beste kan hanteer.

As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? (Matteus 6:30).

WOENSDAG

Jou foute sê nie wie jy is nie!

Mense het verskillende sienings van wat ’n persoon suksesvol maak en wat veroorsaak dat ander na hulle opsien. As ons na ander vroue kyk, sien ons gewoonlik net hulle suksesse raak. Op Facebook lyk dit asof jou vriendinne die slimste kinders, die beste vakansies en die gelukkigste lewens het.

Dit lyk asof die lewe vir hulle maklik is en asof alles altyd goed vir hulle uitwerk. Onthou, dit lyk maar asof die meeste mense alles onder beheer het en hulle geen probleme het nie. Niemand lap tog hulle skandes in die openbaar uit nie.

As jy na jouself en jou eie lewe kyk, sien jy net al die kere wat dinge vir jou verkeerd geloop het en waar jy in die moeilikheid en in moeilike situasies beland het.

Dit is glad nie regverdig nie, want jy vergelyk jou slegste ervarings met ander se hoogtepunte. Die punt is: Moenie vergelyk nie, want dan sal jy altyd iets hê om oor ongelukkig te wees.

Ons het dikwels onrealistiese verwagtings wat uit ons kinderjare kom of wat deur die media geskep is. Omdat dié ideale nie verwesenlik word nie, voel ons onvervuld en laat dit ons negatief of terneergedruk voel.

Die lewe gaan daaroor dat dit nie saak maak hoeveel sukses jy behaal nie, maar hoeveel keer jy opstaan nadat jy geval het. Dit wys dat jy ’n vrou van staal is.

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28).

DONDERDAG

Sien die ligter sy van die situasie raak

Die negentiende-eeuse Franse skrywer Victor Hugo het gesê: “Lag is die son wat die winter uit ’n mens se gesig verdryf.” Leer om vir jouself en die dilemma waarin jy verkeer, te lag. Humor kan soms die moeilikste situasies ontlont.

Dit maak nie saak hoe ernstig die situasie is nie, om die ligter sy te sien, kan dit meer hanteerbaar maak. Dinge loop soms verkeerd sonder dat ons beheer daaroor het. Dit is veral in dié tye dat ons moet poog om dit nie te ernstig op te neem nie.

Of jy daarvan bewus is of nie, jy het ’n basiese ingesteldheid teenoor die lewe. ’n Positiewe gesindheid kan jou dra deur die tye wanneer dinge verkeerd loop. Dit kan jou redding wees. Sien jou lewe as ’n geskenk. Dit is deel van iets ongeloofliks.

Jy kan terugslae oorleef en uit hulle leer. Al verloop dinge nie altyd na wense nie, is dit nie die einde van die wêreld nie. Verandering is moontlik – jy moet dalk net uit ’n ander hoek na die situasie kyk en dan kry jy ’n oplossing. Miskien is jy dan selfs beter daaraan toe!

In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God (Efesiërs 1:5-7).

VRYDAG

Jy moet leer om te laat gaan

Een vrou vertel dat sy by mense gewerk het wat ’n besigheid van hulle huis af bedryf het. “Dit was my verantwoordelikheid om al die voorraad te bestel en na te gaan wat verkoop en afgelewer is deur die verkoopspersoneel. Van die voorraad het iewers tussen my en die verkoopspersoneel weggeraak.” Haar werkgewers het besluit sy het dit gesteel.

Sy het geweet dit is nie waar nie, maar het geen manier gehad om haar onskuld te bewys nie. Volgens hulle was dit ’n uitgemaakte saak dat sy skuldig was. Hulle het so ver gegaan om te sê dat hulle nie kan glo sy noem haarself ’n Christen en doen dan sulke dinge nie.

Dit het baie seergemaak. Sy het besef sy het geen beheer nie en moes deur baie gebed en oorgee – en ’n bietjie humor – leer om dit te aanvaar.

God werk agter die skerms en kan enigiets regkry. Ons vroue is so gewoond daaraan om self in te spring en alles te organiseer. Vertrou jou hemelse Pa om die beste dinge vir jou te laat gebeur; jy is tog Sy kosbare kind vir wie Hy baie lief is en vir wie Hy baie omgee.

Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (Romeine 8:38-39).

SATERDAG

In elke probleem is ’n les versteek

Voor jy ’n probleem kan oplos, moet jy dit eers raaksien. Erken dus dat jy wel ’n probleem het. Onthou, net jy kan dit oplos, niemand anders nie. Ander kan raad gee, maar jy neem uiteindelik die besluit en jy moet vrede maak met die uitkoms daarvan.

Partykeer is dit nie eers so erg soos wat jy gedink het dit gaan wees nie. Probeer altyd eers soveel as moontlik inligting oor die kwessie kry, want inligting daaroor kan jou help om dit vinniger op te los.

Kyk wat moontlik in jou pad kan staan wanneer jy die situasie probeer oplos en vermy hierdie dinge. Los net eers die belangrikste probleem op. Op hierdie manier leer jy om een ding op ’n slag te hanteer.

Besluit waaroor jy beheer het en waaroor nie, asook oor die moontlikhede se voor- en nadele. Verstaan dat jy die beste gedoen het wat jy kon en niks verder kan doen nie.

Ons maak soms die fout om dinge alleen te probeer oplos, maar dis nie nodig nie. Ander vroue het waarskynlik al met dieselfde of ’n soortgelyke probleem te doen gehad en kan vir jou nuttige raad gee.

In elke probleem is daar ’n waardevolle lewensles versteek. Probeer om dit raak te sien en iets daaruit te leer. Dit help jou om ’n positiewe uitkyk op die lewe te behou. Dit maak nie saak hoe sleg die situasie is nie, jy wen!

Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde (Psalm 46:11).

SONDAG

Dit is dalk die regte tyd vir verandering

Laastens, onthou elke probleem het ’n oplossing. Moet daarom nie moedeloos raak en sommer tou opgooi nie. As jy lank genoeg soek en vra, sal die uitkoms wel kom. Draai na Hom toe en gaan sit jou pakkie daar neer.

Maak ’n lys van al jou seëninge en wees dankbaar vir wat jy het en die dinge in jou lewe wat wel reg verloop. Ons is soms geneig om so op die probleem te fokus dat ons vergeet van al die dinge wat goed en mooi is.

Dit is nie maklik nie, maar probeer om nie aanmekaar oor jou probleem te praat nie. Moenie net vaskyk teen daardie een ding nie, want dit is nie al waaroor jou lewe gaan nie. Praat eerder oor die oplossing, want dít is waarop jy nou jou energie moet konsentreer.

Soms is dit goed om van voor af te begin. Heroorweeg jou doelwitte, die rede daarvoor en die manier waarop jy dit wil bereik. Indien nodig, kry nuwe doelwitte. Aanvaar dat verandering soms nodig is. Dis dalk tyd om ’n nuwe hoofstuk te skryf.

Belê in jou verhouding met Hom en maak dit jou prioriteit. Jy kan dalk net verbaas wees oor hoe alles vanself regkom as jy op die regte dinge begin fokus.

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly (2 Korintiërs 4:17).