As ek hom kon verander!

1031
hom verander

Binne die eerste maande het jy al besef jou maat het gewoontes wat jou pla. Deesdae voel dit egter of hy jou teen die mure uitdryf!

Hy kan eenvoudig nie ’n laai of kas se deur agter hom toemaak nie. Of hy los sy klere langs die wasgoedmandjie in plaas van in die mandjie.

Soos jou frustrasievlak styg, het jy al manipulasie, trane, verwyte, argumente en dreigemente probeer. Met min sukses. Jy maak ’n fout as jy dink jy kan verandering summier afdwing.

Die Amerikaanse akteur Charles Laughton was al ’n paar jaar lank getroud toe iemand hom vra: “As jy ooit sou skei, sou jy dit oorweeg om weer te trou?”

Sonder om twee keer te dink, het hy “nee” geantwoord.

“Want,” het hy verduidelik, “terwyl hy nog na haar vry, openbaar ’n man net sy goeie eienskappe. Ná die troue kom sy ware self geleidelik na vore. En daar is baie min wat sy vrou daaraan kan doen. Ek glo nie ek wil enige vrou weer deur soveel ontnugtering laat gaan nie.”

Kies die regte tyd en plek om iets te sê

Gewoonlik wag jy tot ’n klomp frustrasies en irritasies opgehoop het. Dan ontplof jy vir die geringste dingetjie en rammel ’n lys van goed af waaraan jy wil hê jou maat moet werk.

Uiteindelik klink dit soos ’n uittrapsessie en nie ’n versoek nie en verloor hy alle motivering. Waar moet hy in elk geval begin as daar so baie dinge is wat jou pla?

Niemand hou daarvan om soos ’n kind voor ander oor die vingers getik te word nie, selfs al doen jy dit grappenderwys. Hou dus die gesprek oor die klere op die vloer vir wanneer julle twee alleen is.

Na ’n moeilike dag by die werk gaan jou maat waarskynlik ook nie daarvan hou om met nog ’n klagte opgesaal te word nie. Gee hom dus tyd om net eers skoene uit te skop en tot verhaal te kom.

Fokus op die positiewe dinge wat hy doen

Jou maat moet weet jy sien die dinge raak wat hy reg doen en fokus nie net op klein irritasies nie.

Negatiwiteit kweek negatiwiteit. As jy gedurig foutvind, sal hy al hoe meer wegskram. Maar as julle kommunikasie oorwegend positief is, gaan een versoek van jou kant af nie die kameel se rug breek nie.

En onthou, selfs al volg jy hierdie raad, sal daar steeds dinge wees wat jou maat nie kan of wil verander nie. Dan is die beste uitweg om mekaar se tekortkomings in liefde te aanvaar.

Wat om te doen as jy die skuldige party is

Het jy al daaraan gedink dat jy waarskynlik ook ’n paar gewoontes het wat jou man grensloos irriteer? Mans praat nie sommer oor hulle gevoelens nie, maar sodra jy agterkom iets pla hom, moet julle gesels.

’n Verhoudingsterapeut se raad is om uit te vind wie die “eienaar” van die probleem is. In hierdie geval is dit jou man – want jy irriteer hom! Daarom kan jy eintlik maar net dit wat jy sien en hoor terugkaats.

Byvoorbeeld: “Ek kom agter dat ek jou irriteer. Dit maak my gevoelens egter seer as dit voel of ek nooit iets reg kan doen nie.” Die verkeerde manier sou wees om te verdedig en aan te val – ’n vegreaksie. Of om in stilstuipe en selfbejammering te verval – ’n vlugreaksie.

Hy moet sien dat jy moeite doen om uit te vind wat hom irriteer en daadwerklik iets daaraan probeer doen. Dan sal hy volgende keer ook meer bereid wees om aan die klein jakkalsies te werk.