As ek op ’n afstand betrokke is, raak ek selfsugtig

869
Jaco Strydom
Jaco Strydom

Die probleem is boundaries,” sê die berader agter die geelhoutlessenaar. “Jy sal moet leer om meer boundaries te hê.”

Sy sê dit aspris in Engels, want sekere woorde klink net nie so goed in Afrikaans nie. En “grense” klink darem ’n bietjie kras.

Marie voel sommer dadelik beter. Die sessie was beslis die moeite werd. Dis die tipe raad wat sy graag wil hoor. Die goeie nuus waarvoor iemand soos sy bereid is om te betaal.

Sy wonder hoe sy dit gaan doen. Dalk kan ek eerder as om op te daag en betrokke te raak by mense se nood, net nou en dan ’n ietsie stuur, dink sy. So van ’n veilige afstand af. Sonder om kontak te maak, want “kontak maak” is tog duidelik die teenoorgestelde van “boundaries”.

Dinge soos vrede maak en betrokke wees by die stukkende kant van hierdie komplekse wêreld is eintlik net vir ’n klein groepie uitgesoekte mense. So maak Marie haarself wys toe sy na haar kar toe stap.

Waarop dit dus eintlik volgens haar neerkom, is dat die meeste mense geroep word om selfsugtig te leef. En net nou en dan krummels te gooi vir “Lasarus” wat buite die “boundaries” sit en krepeer van ellende. Maar dit besef sy nie.

Toe Marie haar motor aanskakel, speel een van haar gunstelinggospelliedjies. Sy sing die koorgedeelte uit volle bors saam: “You came from Heaven to earth…” en draai sommer die radio harder.

Terwyl sy by die parkeerterrein uit ry, maak sy seker die motor se ruite is toe.

Nie net omdat sy bang is iemand beroof haar nie. Ook nie net omdat die lugversorging aan is nie.

Maar omdat sy ’n “boundary” nodig het tussen haar en die gestremde vroutjie wat altyd op die hoek by die winkelsentrum staan en bedel.

Die berader weet duidelik wat sy doen. Die sessie was elke sent werd. Marie beleef ’n diep tevredenheid toe sy in die grootpad indraai. Is dit hoe die Here se “vrede wat alle verstand te bowe gaan” voel?

Op pad huis toe sien sy nou skielik oral “boundaries” raak. Die een wat haar die meeste beïndruk, is die vurkieheining om die kerk naby haar huis.

Die heining is gelukkig baie hoog. Die ysters het skerp punte wat dwarsdeur enigiemand wat dit sou waag om oor te klim, se hande kon steek. Prys die Here, dink sy en wonder wie skink Sondag tee.

By die huis is haar man saam met haar bly oor die berader se wyse raad. Dalk moet hulle sommer ook ophou nuus kyk en koerant lees, sê hy. Dit ontstel ’n mens net. Hulle kan mos eerder iets op Netflix of Showmax kyk.

“Here help my om nooit so naby aan die wêreld te kom dat dit my ontstel nie, om U naams ontwil,” fluister Marie voor sy uiteindelik aan die slaap raak.

JACO STRYDOM is ’n predikant in Pretoria, blogger en leier van die Echo-gemeenskap.

Confessions oor Kerkwees E-boek: Confessions oor kerkwees
“Dit sal jou uitdaag, roer en diep aan die dink sit” – Stephan Joubert
Koop aanlyn op Voelgoedboeke, kliek HIER.
R96 R119