As jou gemoed wipplank ry

1361

Al weer ’n “af” dag? Moenie skaam wees vir jou gevoelens nie, selfs Jesus het emosies gewys. Hoe jy jou buie hanteer, is wat belangrik is.

MAANDAG

Emosies is nie altyd die waarheid nie

Dis ’n gevoel wat ons almal ken: Almal by die kantoor loop op eiers, want die baas is weer in ’n slegte bui. Of jy en die kinders bly uit Pappa se pad, want hy het ’n moeilike dag op kantoor gehad.

’n Mens se gevoelens weerspieël jou houding en wat in jou kop aangaan. Buie is onvoorspelbaar en soms is die redes agter ’n spesifieke bui ook nie duidelik nie. Dit maak dit moeilik om ons emosies te beheer en te bestuur.

Onthou, hoe jy voel, is nie noodwendig die ware weergawe van ’n situasie nie. Dikwels bluf ons onsself en maak dinge erger deur onsself dinge wys te maak wat eenvoudig nie waar is nie.

Jy is nie net ’n slagoffer van die chemiese stowwe wat in jou brein afgeskei word nie. Jy is verantwoordelik vir jou eie geluk of ongeluk.

Probeer om nie so te tob oor iets wat jy doodeenvoudig nie kan verander nie. Dis ’n kuns om te laat los, so dit moet bewustelik gedoen word. As ’n mens net eers kan aanvaar dat daar dinge is waaroor jy geen beheer het nie, is jy al klaar baie nader daaraan om ’n gelukkiger lewe te hê.

Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie (Johannes 14:27).

DINSDAG

Jy is nie ’n slagoffer van omstandighede nie

Navorsing het getoon dat mense wat gelukkig is, gesonder is, langer leef en oor die algemeen ’n beter kwaliteit lewe geniet. Daar is ook honderde studies wat bewys dat hoe ons kies om te leef – wat ons doen en hoe ons dink –’n groot rol speel in ons vermoë om regtig gelukkig te kan wees.

Jou manier van dink gaan natuurlik nie oornag verander nie. Net soos met enigiets anders, gaan dit tyd neem om daaraan gewoond te raak om anders te dink.

Die eerste stap is om te besef dat jy jouself ongelukkig maak. Probeer raaksien waar jy dinge verkeerd benader, sien die situasie uit ’n ander hoek en probeer om sulke gedagtes te vermy. Kyk na jou reaksies en vra: Oorreageer ek nie ’n bietjie nie? Het ek dalk die kat aan die stert beet? Kan ek die situasie miskien anders benader?

Sodra ’n mens jou negatiewe gedagtes kan raaksien, is dit makliker om hulle uit te skakel. Konsentreer daarop om na die positiewe kant van ’n situasie te kyk. Hoe meer jy jouself dwing om positief te wees, hoe gouer sal daar ’n verskil wees. Daardie slegte buie sal sommer baie minder raak en probleme sal ook nie meer so onoorkomelik lyk nie.

Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (Filippense 4:8).

WOENSDAG

Hormone is soms die oorsaak van ’n slegte bui

Ons weet nou al dat die gespot oor PMS toe glad nie so vergesog is nie. Net soos wat ’n vrou se liggaam elke maand verander, so ry haar emosies ook wipplank. Daar is verskeie dinge wat ’n mens se gemoedstoestand kan beïnvloed, waarvan hormone ’n belangrike een is.

Hormone is kragtige chemiese stowwe wat die liggaam help om normaal te funksioneer. As die balans van hierdie stowwe versteur word, kan daar gevolge soos buierigheid en depressie wees.

Estrogeen bepaal hoofsaaklik ons buie omdat dit die vlakke van serotonien en endorfiene in die sisteem bepaal. Navorsing wys dat ’n wanbalans in jou estrogeenvlak dikwels veroorsaak dat jy paniekerig en depressief voel.

Gaan vind gerus by jou dokter uit watter medikasie beskikbaar is en kan help om hierdie hormone te laat balanseer. Gesonde eetgewoontes en die regte kossoorte kan ook ’n groot verskil maak.

Oefening help jou om op ’n gesonde manier van frustrasies ontslae te raak. Wanneer jy oefen, skei jou brein allerhande goedvoelhormone af wat al daardie laste sommer baie ligter sal laat voel.

Dit maak nie saak of jy net gaan stap nie – haal diep asem en geniet die omgewing. Stap is goeie en goedkoop oefening en is ’n wonderlike manier om te ontspan.

Maar Hanna het geantwoord: “Nee, Meneer, ek is maar net ’n vrou wat diep terneergedruk is. Ek het nie wyn of bier gedrink nie. Ek het my hart uitgestort voor die Here” (1 Samuel 1:15).

DONDERDAG

Die kos wat jy eet, maak jou gelukkig

Kos is die liggaam se brandstof waarsonder dit nie kan funksioneer nie. Dis belangrik om jou liggaam gesond te hou, want dit sal jou ook oor die algemeen beter laat voel. Onlangse studies bevestig dat daar ’n verband is tussen buie en kos.

Koolhidrate verhoog jou energie, wat jou minder gespanne laat voel en konsentrasie verbeter. Aartappels, vars vrugte en groente en springmielies is goeie voorbeelde hiervan.

Proteïene kan jou help om meer positief, kalm en in beheer te voel. Dit bevat aminosure, wat help om endorfiene, wat ’n mens goed laat voel, te produseer. Vleis, vis, neute en eierwit moet daarom gereeld in klein hoeveelhede by ’n vrou se dieet ingesluit word.

Water sorg dat jou liggaam nie dehidreer nie. Dehidrasie laat ’n mens flou en moeg voel. Vervang dus altyd die vloeistof wat jy verloor deur genoeg water te drink.

Die teendeel is egter ook waar – sekere kossoorte kan ons bui negatief beïnvloed. Kafeïen, suiker en alkohol laat ’n mens net tydelik beter voel, maar het eintlik ’n negatiewe invloed op jou gestel.

Te veel kafeïen kan slapeloosheid veroorsaak en te veel alkohol kan jou lewer affekteer. Dit alles sal jou lusteloos en depressief laat voel. Vermy dus liewer hierdie drie!

Alle kos is rein, maar dit is verkeerd om deur wat jy eet, aanstoot te gee. Dit is goed as ’n mens nie vleis eet of wyn drink of enigiets doen wat jou broer laat struikel nie. Laat jou oortuiging hieroor ’n saak tussen jou en God wees (Romeine 14:20-22).

VRYDAG

Kleur het ’n effek op jou gemoedstoestand

Navorsing toon duidelik dat mense sekere kleure met bepaalde emosies en buie assosieer. Baie mense probeer om hulle gevoelens in terme van kleur uit te druk – dink byvoorbeeld aan die uitdrukking “groen van jaloesie”.

Die boek The Complete Book of Colour sê dat iemand se bui die kleur sal bepaal wat daardie persoon op ’n spesifieke tydstip kies. As jy byvoorbeeld ’n slegte dag het, sal jy donker kleure soos swart kies, terwyl geel gelukkige mense aantrek en rooi mense wat borrel van lewenslus. Blou is gewoonlik die keuse wanneer iemand rustig voel.

Selfs in die Bybel word kleur gebruik om emosie uit te druk of ’n sekere betekenis of simboliek aan iets te gee.

As jy dus jou bui wil verbeter, moet jy jouself met kleure omring wat met rustigheid en lewenslus geassosieer word. Vermy donker kleure wat jou dalk depressief kan laat voel. Hou dit ook in gedagte wanneer jy ’n kleur kies vir die mure van ’n kantoor of slaapkamer.

Dis moontlik om iemand anders se bui te “lees” deur te kyk na die kleure waarmee sy haarself omring. Julle het moontlik al agtergekom dat die baas ’n rooi das dra wanneer hy die dag baie planne het wat julle moet uitvoer!

Mordegai het van die koning af weggegaan in ’n koninklike kleed van blou en wit linne, met ’n groot goue kroon op, en ’n mantel van fyn linne en pers stof aan. Die stad Susan het gejubel en gejuig (Ester 8:15).

SATERDAG

Jou reuksintuig is belangriker as wat jy dink

Elke dag asem jy omtrent 23 000 keer in en uit. Jou reuksintuig is dus geweldig sterk en baie belangrik. ’n Gewone mens kan tot 10 000 verskillende reuke onderskei, en daar is bewys dat verskillende reuke verskillende emosies kan veroorsaak.

Sekere reuke kan ons goed laat voel, soos die geur van koffie of warm brood. Dis seker waarom dit so moeilik is om verby ’n koffiewinkel te stap sonder om te swig voor ’n heerlike cappuccino…

Laventel laat ’n mens rustig voel en die geur van skoon wasgoed kan jou tuis en gelukkig laat voel. Ons het al almal ondervind hoe ’n sekere reuk ’n magdom herinneringe uit ons kleintyd kan terugbring.

Slegte reuke laat enigiemand vies voel – dink net aan die gevoel wanneer jy by die abattoir of vullisterrein verbyry. Of wanneer die kos aangebrand het! Skerp reuke soos ammoniak kan ’n mens depressief of bedwelm laat voel, en selfs hoofpyn veroorsaak.

Al hierdie dinge kan ’n groot effek hê op jou bui en ’n goeie bui vinnig in ’n slegte of geïrriteerde bui verander. Jou neus kan jou dag maak of breek!

Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur. Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan (2 Korintiërs 2:14-15).

SONDAG

Maak tyd vir jouself en jou hartsmense

Ons is altyd deel van ’n groter netwerk. Navorsing het getoon dat mense met ondersteunende sosiale netwerke gesonder en gelukkiger is en langer leef. Moenie te besig wees vir ’n koppie tee saam met ’n vriendin nie.

Dit voel soms asof die lewe jou wil insluk en dat daar vir niks tyd is nie, wat nog te sê vir jouself en jou eie gedagtes. Probeer om vir jou behoeftes tyd te maak. Raak net vir 20 minute per dag rustig en ontspan alleen. Al sit jy net met toe oë in jou motor by die werk, sal dit jou die wêreld se goed doen.

Geniet elke oomblik van elke dag. Hou op om so baie te dink aan wat nog gedoen moet word. Waardeer weer die klein dingetjies, soos hoe die gras ruik wanneer jy in die oggend die deur oopmaak. Of hoe lekker dit is om na ’n lang dag skoene uit te skop en te ontspan.

Humor is goud werd. Dis nie nodig om altyd so ernstig te wees nie. Leer om vir jouself en die lewe te lag as dinge skeefloop.

Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (Romeine 8:37-39).