As jou kroon perfek onderstebo sit

Ek en my vriendinne het by ‘n dameskamp elk die mooiste, blinkste krone gekry, omdat ons mos dogters van die Koning is.  So, een middag voor ‘n kroondraende-koffie afspraak met die einste vriendinne, is ek aan die draf en dink.

Ek was alweer besig om die Here se magtige nederigheid te bewonder en ek dink aan daardie skrif in Hebr 12:2 wat sê:

“die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.”

En die deeltjie “die skande verag” sit in my kop vas.  Dit was nie “verdra” nie, dit was VERAG.  Dit is ‘n baie sterk woord!

En ek besef so duidelik soos daglig dat nederigheid “vernedering” se angel breek.

Want wat as trots nie meer ‘n faktor is nie???  Die angel is trots!

Trots is die rede hoekom iemand jou kan seermaak, verkleineer en beledig, want ons identiteit en waarde is gebou op dit waarop ons trots is. Sodra daardie “waarde” aangevat, liggevat, of nie waardeer word nie, dan voel ons verneder.

Maar Jesus het die skande VERAG.  Hy het letterlik afgekyk op die leuen van vernedering, want as magtige Koning kies Hy self om laaste te wees.  Minste te wees.  Ander op te lig bo Homself.  As dit jou missie en voorreg is om laaste te wees, kan niemand jou laagkyk nie.  In teendeel.  As hulle doen, dan het jy dit sowaar reggekry om ander bo jouself op te lig.  Dan was jy suksesvol!

Die Here se koninkryk is totaal en al ONDERSTEBO!

Almal in hierdie wêreld wil eerste wees.  Wil tog net eers gelukkig wees.  Jesus sê: volg My, Hy wat eerste wil wees moet laaste wees. ‘n Dienskneg van almal.  Ons KROON is Sy nederigheid. Dit is waar Hy dien en niemand kan Hom daar weghou nie, want dit is waar liefde die meeste opoffering verg en daarom die helderste skyn.

Ja, ons is verseker dogters van die Koning van alle Konings.  En daarom sit ons op hemelse plekke… hemelse heilige laagste en laaste plekke, waar ons met vreugde saam met Hom kan dien.