As jy dit nie vir geld doen nie, waarvoor doen jy dit dan?

Hier het ek nou sowaar ‘n tweede boek uitgegee, weer eens op my eie en nie deur ‘n publiseerder nie.

Hoekom doen ek dit aan myself? Hoekom sit ek my weer deur al die spanning? Wat is daarin vir my?

Wat ek wel weet, is dat daar nie regtig geld in is nie, ek verkoop genoeg om my koste te dek, maar ek sal nou nie skatryk raak met my boeke nie. Hoekom doen ek dit dan?

Dis omtrent agt jaar gelede wat ek, bang en vreemd, begin het met my eerste blog. Wíé dink ek is ek? Dis bekende mense, groot name, wat blogs het en boeke skryf, en ek. Ek besef al hoe meer dat dit egter al voor my bloggery begin het. Die skrywery het begin omdat ek gesukkel het om te fokus as ek bid en ek myself probeer help het deur ‘n A4-bladsy per dag te skryf vir God. Mettertyd het ek gegroei in selfbeeld, het my skryfvaardighede ontwikkel en die meeste van alles het ek as mens geweldig gegroei.

Deur die groot sprong te waag en ‘n boek uit te gee, het ek só ver buite my gemaksone beweeg en in die proses daarvan nuwe vaardighede aangeleer en dinge omtrent myself ontdek waarvan ek nooit geweet het nie. Ek moes leer om moeilike situasies te hanteer, planne te maak en myself dwing om dieper te delf op plekke waar ek dit voorheen nooit eers sou waag nie.

Dan praat ek nie eers van geloofsgroei nie. ‘n Mens kan regtig nie so ‘n uitdaging aanpak sonder die Here aan jou sy en sonder Sy goedkeuring nie. Hierdie is ‘n pad wat ek in geloof loop en keer op keer sien ek net Sy hand en beskerming, wat fantasties is.

Wat ‘n reis! My uitdaging aan jou is: Waag daardie eerste tree! Doen dit! Jy sal regtig nie spyt wees nie. Doen daardie ding wat jy nog altyd graag wou doen, dit is die moeite werd.

Toortsie

(Foto: Lize Venter)

Vorige artikelKrismiswense
Volgende artikelPiesangs!
Avatar
Madelé Burger (Toortsie) is 'n ma, ouma en boervrou. Sy en haar man woon in die Overberg en het 'n gemengde boerdery. Madelé is lief vir mense en leef die lewe voluit. Sy reis graag en geniet dit baie om in die natuur te wees. Sy is 'n uitgewer van Banting Resepteboeke en is 'n Transformasie Gebedsbediening Fasiliteerder. Sy skryf op haar blog oor alledaagse dinge, kinders, die lewe en haar verhouding met God. Besoek haar blog by toortsie.com