As jy ’n fout gemaak het…

1744

Om jou misstap te erken verg moed. Dit beteken egter nie dat jy jou fout is nie, eerder dat jy groter as dit is.

MAANDAG

Almal tree soms verkeerd op, want niemand is volmaak nie

As jy agterkom wat jy nié moet doen nie, weet jy wat om volgende keer wel te doen. Dis tog hoe ’n mens leer. Almal fouteer, maar die een wat haarself daarna as ’n mislukking afskryf, maak die grootste fout. Flaters is leerervarings en geleenthede vir groei. Dit het waarde, want dit gee jou die kans om beter te doen.

Die bekende Fortune-tydskrif het vasgestel dat suksesvolle mense gemiddeld sewe keer misluk voordat hulle slaag. As jy nooit die verkeerde besluit neem nie, werk jy nie hard genoeg om probleme op te los nie. Albert Einstein het gesê: “Iemand wat nog nooit ’n fout gemaak het nie, het nog nooit iets nuuts probeer nie.”

Dit vat egter iemand met ’n sterk karakter om te erken dat sy verkeerd was. Die feit dat jy gefouteer het, is nie ’n aanduiding van die kwaliteit van jou karakter nie. Ons is nie ons foute nie. As jy die moed het om dit te erken, wys dit juis dat jy karakter het.

Die Bybel sê dat ons om verskoning moet vra en moet opstaan en aangaan. En as iemand anders verkeerd opgetree het en ons seergemaak of benadeel het? Dan moet ons, soos Jesus, genadig wees en vergewe.

As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom. Selfs as hy sewe maal op ’n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe (Lukas 17:3-4).

DINSDAG

Jou houding teenoor jou misstap is belangrik

Wasbleek in haar swart gesig, kom Eunice ’n jaar gelede by haar werkgewer aan. Na aan trane, want sy het ’n mistake gemaak. Die vrou sien allerhande drogbeelde voor haar geestesoog en dink aan die ergste dinge wat kon gebeur het.

“Wat is dit?” vra sy versigtig.

“Ek het die glas gebreek!” verklaar die huiswerker en gryp haar kop vas.

Haar werkgewer het mooi verduidelik dat dit net ernstig sou wees as sy dalk haar vinger in die proses afgesny het. Sedertdien het Eunice nog nie weer ’n glas gebreek nie (nie dat dit regtig sou saak maak nie!).

Albei het daaruit geleer. Eunice het besef glase breek maklik en was nou die skottelgoed versigtiger. Haar werkgewer het geleer dat jou blapse baiekeer vir jouself erger is as vir ander.

Jou houding is dus belangrik. Praat oor die misstap. Moet dit nie probeer toesmeer nie. Sê dit net. Moenie dat die glase ongemerk al minder raak nie. Moet ook nie sweer dat jy nooit, ooit weer gaan skottelgoed was nie. As jy self nie ’n plan kan maak om anders op te tree nie, kan iemand anders jou dalk help.

Maar Saul het gesê: “Ek het ’n fout gemaak. Kom terug, my seun, Dawid, want ek sal nie meer verkeerd teenoor jou optree nie omdat jy vandag my lewe gespaar het. Ja regtig, ek het dwaas opgetree en ’n growwe fout gemaak” (1 Samuel 26:21-22).

WOENSDAG

Een fout maak nie ’n ander een reg nie

“Ek wens ek kon vroeër aan myself erken dit was die verkeerde keuse,” gesels ’n vriendin oor dit wat in haar jeug gebeur het. Haar kêrel het in ’n ander stad gaan studeer. Hulle sou dit maak werk, want hulle was vas oortuig hulle was vir mekaar bedoel.

Toe, op ’n aand wat nooit moes gebeur het nie, het sy hom verkul en swanger geraak. “Ek het my totaal aan my vriende onttrek. Hoe kon ek enigiemand weer in die oë kyk? Dit was net nie ek nie…”

Teen haar beterwete het sy toe met die ander man getrou. Sonder liefde. Sonder hoop. Eers drie jaar later het sy die moed (en die finansies) gehad om van hom te skei. “Ek en my kind kon ’n gemakliker lewe gelei het sonder dié trauma. Nie dat ek die pa ooit toegang sou weier nie, maar ons was nie lief vir mekaar nie. Drie mense, nee, méér het seergekry.

“As ek net minder trots was, as ek net kon erken dit was ’n swak besluit, en nie probeer voorgee het alles is normaal nie. Jy maak nie een fout met ’n ander een reg nie.” Sy het later weer getrou. Hierdie keer vir liefde. Vandag gaan dit besonder goed met haar en haar eerste kind.

“Here ons God, U het u volk deur u groot mag uit Egipte gelei en daardeur u Naam groot gemaak soos dit vandag nog is. Maar ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen” (Daniël 9:15).

DONDERDAG

Mense het respek vir iemand wat haar foute erken

Sodra jy besef jy was verkeerd, erken dit! Dit gaan nie vanself verdwyn nie. Om ’n blaps te maak kan angswekkend wees. Dit is omdat ons almal dit haat om verkeerd te wees. Ons is ook bang om te voel ons het nie volle beheer nie.

Om eerlik jou misstap te erken het baie voordele. Dit gee jou eintlik meer beheer. Dit wys nie net dat jy menslik en nederig is nie, maar ook dat jy karakter het. Jy is nie bang om te erken dat alle mense eintlik foute maak nie.

Dit verg nogal baie van jou. Maar troos jou daaraan, ander mense sal baie meer respek vir jou hê as jy dit prontuit erken as wanneer jy iets onder die mat probeer invee. Die probleem word net al hoe groter.

Dit is amper soos om jou beste vriendin in ’n oomblik van woede iets aakligs toe te snou en dan bloot net vir jare nie met haar te praat nie. Jy gaan haar mis. Jy gaan daaroor tob. Bel haar liewer dadelik en sê dit was jou skuld.

Of gaan vertel jou baas onmiddellik as jy agterkom jy het iets verkeerds gedoen. Sy gaan dit in elk geval uitvind en as jy dit verswyg, gaan sy oor jou integriteit en eerlikheid wonder.

Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Johannes 1:9).

VRYDAG

Sê dadelik jy is opreg jammer

Oor die algemeen wil almal graag perfek wees. So tong in die kies: Dit is baie maklik om ander vir hulle foute te vergewe, maar dis bitter moeilik om hulle te vergewe as hulle jóúne raakgesien het!

Eintlik is dit maklik om te sê: “Jammer! Dit was ek.” Sodra jy dit gedoen het, stop jy ook die stories met stertjies. Almal kan nou die waarheid by jou uitvind.

Stel jou voor jy kom by die huis nadat jy twee ure oortyd moes werk. Jy is moeg en oorstuur. Boonop het jou man sommer wors en tjips gebak pleks van ’n gesonde slaai maak. En die kinders se huiswerk is nog nie gedoen nie.

Jou tong trek bloedstrepe oor hulle harte: “Julle is useless!” Jou gesin gaan waarskynlik soos jong bokkies plat lê en wag om deur die leeu verskeur te word. Jy wens jy kan die woorde terugtrek, maar dit gaan nie soos ’n seepborreltjie bars en verdwyn nie. Skade is gedoen aan ego’s en verhoudings.

Kalmeer. Roep almal bymekaar en sê opreg dat jy jammer is. Sê iets positiefs, soos: “Dankie dat jy wors gebraai het, my man. Kinders, kom ons spring aan die werk met julle huiswerk. Onthou net om môre ’n bietjie vroeër te begin.”

“Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig! Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners” (Lukas 15:18-19).

SATERDAG

Leer uit jou verkeerde keuses en groei!

Hoe meer jy uit jou kleiner foute leer, hoe makliker is dit om die grotes te vermy. Jy kan dit vergelyk met die kook van ’n ete: Dit is maklik om vinnig ’n plan te maak as jy jou gesin se aandete verbrand, maar as jy die spyseniering doen vir ’n troue met 200 gaste en die kos verbrand, is dit ’n krisis.

In beide gevalle moet die situasie gered word, maar deur uit die verbrande aandete te leer, kan jy dalk keer dat dieselfde met die 200 gaste se kos gebeur.

Wat doen jy terwyl jy leer om te swem? Jy maak dom foute. En dan doen jy nog dom dinge. Nadat jy al die foute gemaak het sonder om te verdrink – en baie daarvan keer op keer – wat ontdek jy? Dat jy kan swem!

Wel, die lewe is net so. As jy verkeerd optree en daaruit leer, sal jy begin groei. As jy byvoorbeeld een ding verkeerd doen en besluit water is nie vir jou nie, gaan jy nooit leer swem nie. As jy dan eendag by die diep kant inval, sal jy verdrink.

Maar as jy in die eerste plek aanhou spook en spartel tot jy begin dryf, “swem” jy makliker deur die lewe. Dit is waardevolle ondervinding wat jou paadjie vorentoe gelyker maak.

Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou (Psalm 32:8).

SONDAG

Moenie jouself aanhou verwyt nie, maar kry vrede

“Ek het kliënte wat jare lank met ’n tas of tien vol bagasie van skuldgevoelens en skaamte rondloop oor iets wat hulle verkeerd gedoen het,” sê ’n lewensafrigter. Maar skrywer James Joyce het gesê jou foute is ’n poort na ontdekking, en die lewensafrigter glo dit vas.

“Daar is natuurlik kleiner en groter foute. Om jou man of vrou te verkul is baie ernstiger as om uit onkunde ’n flater by die werk te begaan. Om ’n moord te pleeg kan ook nie vergelyk word met die paar kere wat jy iemand beskinder het nie. Maar die beginsels om jou foute te hanteer bly dieselfde.”

Jy het die fout gemaak en om verskoning gevra en nou is dit tyd vir werk. Doen introspeksie en dink oor die volgende: Waarom het dit gebeur? Is daar sekere omstandighede wat jou vatbaarder maak om weer te swig? Hoewel jou omstandighede ’n rol speel, hoef jy nie ’n slagoffer daarvan te wees nie. As jy egter voorbereid is, kan jy volgende keer makliker reg optree.

Omdat jy dalk maklik gaan vergeet, moet jy jou “les” neerskryf. Skryf neer wat gebeur het, hoe dit jou laat voel het en wat jy gedoen het. Skryf ook neer hoe jy dit daarna reggemaak het en wat jy daaruit geleer het.

Sluit nou hierdie hoofstuk af sonder skuldgevoelens. Lees nou en dan jou boek – nie om jouself te pynig nie, maar sodat jy kan onthou wat jy geleer het.

En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filippense 4:7).