As jy op jou perdjie spring…

0
1326

Laat iemand net die verkeerde ding sê en jy spring op jou perdjie. Wat lê agter jou liggeraaktheid en hoe raak jy daarvan ontslae?

“Sy dra al haar senuweepunte aan die buitekant van haar lyf.” Só het ’n vrou haar liggeraakte vriendin beskryf. Dit is goed gestel, want almal weet hoe maklik dit is om per ongeluk die verkeerde “senuwee” aan te raak deur dit wat jy gesê of gedoen het.

Gaan soek die wortel van die probleem

Dit is soms asof jy verwag dat almal teen jou is. As ’n kollega, vriendin of familielid dan die geringste negatiewe opmerking maak, sal jy óf dadelik onttrek óf jouself verdedig deur aan te val.

“Liggeraaktheid is ’n simptoom van ander moontlike probleme in ’n persoon se lewe,” glo Raymond Dye, ’n verhoudingsberader. “Dit kan na vore kom as jy onseker is oor wie jy is en dit wat jy doen. As jy byvoorbeeld wonder oor jou ouerskapstyl, kan dit gou lyk asof jy liggeraak is omdat jy jouself wil verdedig of deur aggressie om die sogenaamde aanval af te weer.”

Dit kan ook ’n verdedigingsmeganisme wees. As jy met emosionele bagasie oor ’n saak loop en iemand die onderwerp dan onskuldig opper, maak dit al die ou pyn weer wakker en oorreageer jy.

Frustrasie kan ook liggeraaktheid veroorsaak. Omdat aanhoudende frustrasie aan jou weerstandsvlak vreet, sal jy gouer jou humeur verloor oor oënskynlik onbenullige goed.

’n Fyngevoelige mens wat geneig is om te vlug, sal skielik uit ’n gesprek onttrek. Een wat geneig is om te veg, sal aanvallend optree.

As jy kan erken dat jy liggeraak is, is dit al ’n begin. En as jy weet waarom jy optree soos jy optree, kan jou genesingspad momentum kry.

Dink voor jy reageer en beheer so jou emosies

Ons kan nie besluit hoe mense teenoor ons sal optree nie, maar ons kan besluit hoe ons gaan reageer. As jy ’n emosioneel intelligente persoon is, sal jy jou nie vererg vir elke opmerking wat gemaak word nie.

Vóór jy weer heftig reageer op iets wat iemand gesê het, vra jouself: Hoe voel die persoon wat die stelling maak? Hoe wil sy hê moet ek voel? Hoe voel ek regtig? As jy nog nie jou emosionele bagasie hanteer het nie, sal dit moeilik wees om hierdie vrae te beantwoord.

Deur eers ’n oomblik te wag en te dink voor jy reageer, het jy beter beheer oor jou emosies. Dink net hoeveel minder jy na die tyd om verskoning hoef te vra vir al die onnadenkende goed wat jy in jou woede en seerkry kwytgeraak het.

Jy kan verander al neem dit tyd

Jy het moontlik al ’n reputasie opgebou as ’n drama queen of die kleinserige een. Dalk gebruik jy dit juis om mense te manipuleer. In die proses verloor jy ook baie. Mense sal vir jou sê wat hulle dink jy wil hoor en nie wat hulle eerlik op die hart het nie.

Sonder opregtheid kan jy nie diepgaande verhoudings bou nie. As jy bekend staan as ’n liggeraakte persoon, sal mense hulle van jou onttrek omdat jy hulle ook ongemaklik laat voel. So begin ’n bose kringloop, want jy voel op jou beurt: Sien, ek het geweet hulle hou nie van my nie…

As jy weet dat jy emosioneel raak wanneer jou idees afgeskiet word, leer om te sê: “Ja, ek sien jou punt in, maar dink jy nie tog…” en dan jou standpunt logies en beheers oor te dra. Oefen hierdie nuwe gedragspatroon totdat dit tweede natuur word.

Jou selfbeeld sal ’n hupstoot kry omdat mense jou nie meer wil vermy nie. Jy kan hegter vriendskappe kweek wat jou sal leer om ander meer te vertrou en nie altyd so op jou hoede te wees vir “aanvalle” nie.

Jy gebruik liggeraaktheid dalk as ’n verdedigingsmeganisme, maar uiteindelik veroorsaak hierdie gedrag wat jou moes beskerm, juis meer pyn. Besef dat jy niks daarby baat nie en begin vandag om te verander.